Maand een: 1 tot 5 weke

Bevrugting vind plaas die oomblik wanneer twee selle saamsmelt: die een van die ma (wie se eiersel so klein soos ’n speldekop is) en die ander die spermsel vanaf die pa. Hoewel jy in die eerste maand dikwels nog heeltemal onbewus daarvan is dat jy verwag, is die ontwikkeling van die nuwe lewe reeds in volle gang daar diep in jou lyf. Die fetus groei teen ’n vinnige pas en die klein spikkeltjie lewe verander van dag tot dag – eintlik van minuut tot minuut.

As alles normaal verloop, groei en ontwikkel jou baba sowat 38 weke lank van die oomblik van bevrugting tot die dag waarop sy gebore word. Gesondheidsversorgers praat van ’n swangerskap as 40 weke lank omdat hulle dit van die eerste dag van jou laaste maandstonde af bereken. Die meeste van ons weet nie op presies watter dag of datum ons swanger geraak het nie, maar ons weet waarskynlik wel wanneer ons laaste maandstonde begin het – daarom dien dit as nuttige verwysingspunt. Dit beteken dat teen die tyd dat jy agterkom dat jou maandstonde laat is, jy al klaar as vier weke swanger beskou word, al is jy in der waarheid net twee weke swanger.

Tweelinge: Het jy geweet?

Dit is in hierdie stadium – of selfs effens vroeër – dat identiese tweelinge (monosigoties) ontstaan. Die bevrugte eiersel verdeel in twee gelyke dele, elk met ’n volledige stel chromosome, en vorm dan twee aparte embrio’s. Dokters verstaan nog nie heeltemal waarom dit gebeur nie. Nie-identiese tweelinge (disigoties) kom meer algemeen voor en word gevorm wanneer twee eierselle tegelyk vrygestel en albei bevrug word en aan die baarmoederwand heg.

Week 1 tot 3

Week 1 behels basies dat jy jou laaste maandstonde in meer as 9 maande beleef. In week 2 maak jou liggaam gereed om dalk ’n nuwe bevrugte eiersel te ontvang deur hormone te vervaardig wat die eiersel ryp kan maak sodra dit die baarmoeder binne kan gaan en daar kan vasheg. Elke maand berei hormone die endometrium – die dik voering aan die binnekant van jou baarmoeder – voor om ’n bevrugte eiersel te ontvang. Word die eiersel nie bevrug nie, skei jou liggaam die laag uit en dis die bloed wat jy sien wanneer jy menstrueer. As die eiersel egter bevrug word, bly die voeringlaag sit en verdik dit verder – en dis waarom jy later agterkom dat jou maandstonde nie opgedaag het nie.

Week 4

Bevrugting vind plaas wanneer die eerste van die duisende spermselle wat so vinnig moontlik na die eiersel geswem het, daarin slaag om sy kop by die vrygestelde eierselletjie in te wurm en deur die sterk wand te dring – en siedaar, bevrugting het plaasgevind. Die eiersel se wande sluit onmiddellik en verseker so dat geen ander spermselle kan inkom nie. Daar is nou ’n enkele sel met twee kerne. Die twee kerne smelt vinnig saam om een sel te vorm en in die derde week (wat eintlik die eerste week van bevrugting is) verdeel die bevrugte eiersel in twee selle, dan vier, dan agt, dan sestien en so duur dit voort. Dié bondel selle sweef die uterus binne en heg aan die baarmoederwand vas, gewoonlik aan die bokant van die uterus. Aan die einde van dié week bestaan dit reeds uit sowat 200 selle.

Aanhegting: Het jy geweet?

Ná aanhegting verdeel die ontwikkelende embrio in twee dele. Die binneste deel word die baba en in die buitenste deel ontwikkel twee membrane: die vrugvlies of amnion aan die binnekant (dit word later met vrugwater gevul om die embrio te beskerm) en die chorion aan die buitekant (dit help later met baba se voeding). Dié membrane sal die embrio en vrugwater omvou en omsluit. Die weefsel, wat later die plasenta word, verbind met die ma se bloedtoevoer danksy vingeragtige uitsteeksels wat in die baarmoederwand ingroei. Sodra dit gebeur, kan die embrio uiteindelik voedingstowwe kry en groter word. In hierdie stadium is sy nog bitter klein: sowat 1 mm lank.

Week 5

Die toekomstige baba is ’n klein skyfie wat oor haarself vou om ’n buis te vorm wat die neuraalbuis (die brein en die rugmurg) en die buisagtige vorm van die lyf sal begin aanneem. ’n Knop wat binnekort ’n primitiewe hart sal word, begin ook vorm en are begin met mekaar verbind. Teen die einde van die week smelt die twee buise wat die hart is, saam. Dit begin saamtrek om hartkloppies te vorm wat die bloed in een rigting laat beweeg. Teen die einde van die eerste maand sal die opgekrulde embrio omtrent so groot soos ’n ryskorrel wees. Die onttrekkingsrefleks begin nou ook werk. Dit veroorsaak ’n reaksie wat die embrio toelaat om bewegings te maak om haar te beskerm.

Maand 2-3: 6 tot 12 weke

Week 6

Die neuraalbuis hou aan ontwikkel en die eerste tekens van ’n spysverteringstelsel begin verskyn. Die voue van die koppie en gesiggie word duideliker en ’n paar vlak kepe aan elke kant van die ontwikkelende brein wys waar die oë begin vorm. Piepklein knoppies ontstaan waar die arms en bene moet kom. Strukture en ledemate wat naby die hart ontwikkel, sal vinniger groei as dié wat verder weg is. Die arms en bene word langer en vorm effense buigings waar die elmboë en knieë sal ontwikkel. Die hande en voete lyk soos klein paddavoetjies omdat die vormende vingertjies en toontjies nog met weefsel verbind is, wat dit ’n webagtige voorkoms gee. Baba is nou nog nie eens so groot soos ’n Smartie nie.

Week 7

’n Liggaamsvorm is nou herkenbaar. Vrugwater omring die embrio en sorg vir ’n stabiele temperatuur en beskerming teen die meeste infeksies. Die naelstring begin ontwikkel en neem vorm aan. Kraakbeen vorm nou in die vingers en tone. Die skelet vorm en is aanvanklik van kraakbeen pleks van been gemaak. Die neusbogies begin ook nou wys. Die lewer vorm ’n uitstulping langs die hart en neem die bloedvervaardiging by die dooiersak oor. Die neuraalbuis wat die brein en ruggraat verbind, sluit. Die embrio is sowat 15 mm lank – die grootte van ’n klein jellielekker.

Week 8

Die gesig ontwikkel en die bolip word gevorm asook die neusvleuels in die knoppie wat die neus sal word. Die knopperige groewe waar die ore later sal kom en wat in week ses aan die kante van die nek was, het nou na die kant van die kop geskuif en word met klein velflappe bedek. Pigment het begin vorm in die retina en die oë is steeds ver van mekaar. Die pankreas, ingewande en senuwees en spiere begin nou met mekaar verbind. Die hart het in aparte linker- en regterkamers verdeel en daar is ’n opening tussen die twee kamers sodat bloed van die een kant na die ander kan vloei sonder om deur die embrio se longe te beweeg. Sy kry haar suurstof nog van jou af deur die naelstring en plasenta.

Week 9

Die toekomstige baba het byna ten volle gevorm en as sy uitgestrek is, is sy sowat 3 cm lank. Opgekrul pas sy in ’n okkerneutdop. Dié fase van ontwikkeling is geweldig belangrik omdat baie van die finale afronding aan belangrike organe soos die longe, brein, hart en longe nou plaasvind. Die buitelyne van jou baba se gesig verskyn en ’n mens kan die ooglidvoue en buiteore begin sien. Die ogies begin ook na die voorkant van die gesig beweeg, terwyl die vingerwebbe begin verdwyn. Teen die einde van week 9 is die embrioniese stadium – wanneer die meeste geboorteafwykings ontstaan – verby. Soms kan die hartklop al met ’n fetale hartmonitor gehoor word.

Week 10

Jou baba staan nou af as ’n fetus bekend. In hierdie maand groei sy van sowat 2,5 cm tot 9 cm lank. Al die noodsaaklike organe het reeds begin vorm en so ook die haarfollikels. Die lewer begin nou rooibloedselle vervaardig. Namate jou baba ál meer reguit lê, word haar koppie meer herkenbaar en haar nek meer sigbaar. Die pupille begin in die oë vorm en die ooglede bedek die oë nou amper heeltemal. Die senuverbindings tussen die oë en brein begin vorm, en so ook die fetus se vingernaels. Tandknoppies wat uiteindelik tande sal word, begin verskyn. Die Moro-refleks begin werk – dit skop die vestibulêre stelsel en sintuie aan die gang en bou spiertonus. Dit stimuleer ook die asemhalingsrefleks.

Week 11

Die sagte kraakbeen van jou baba se skelet begin nou in been verander. Haar stertjie verdwyn namate die res van die lyfie groter word. Haar bewegings word ál sterker en sy kan selfs omrol en haar mond en vuisies oopmaak. Naels begin op die vingers en tone ontwikkel. Vingerafdrukke vorm nou en is reeds heeltemal uniek vir elke baba. Die buitenste geslagsdele word sigbaar en seuntjies se testes stel ’n golf manlike hormone vry wat die veranderinge laat plaasvind wat dit vir ons moontlik sal maak om visueel tussen ’n babaseuntjie en -dogtertjie te onderskei. Vandeesweek ontwikkel die palmare en plantare vatrefleks in onderskeidelik die hande en voete. Dié belangrike reflekse het ook ’ n invloed op jou baba se spraak, aanraking, suigvermoë en voeding en verdwyn eers twee of drie maande ná geboorte.

Week 12

Jou baba kan nou glimlag en haar ogies vinnig knip. Sy sluk vrugwater. Haar velletjie is baie dun en deursigtig. Die hartklop word ál sterker en haar niere werk lustig. Al die groot organe is klaar gevorm, hoewel die kop byna die helfte van jou baba se grootte beslaan. Jou baba hou aan om vinnig te groei, en die plasenta groei ewe vinnig om by te hou by die behoeftes van jou ontwikkelende baba.

Lees verder

In ons volgende uitgawe vertel ons oor die fetus se ontwikkeling tydens die tweede trimester van jou swangerskap.