Baba se waterhuis

akkreditasie
Nege maande lank bied vrugwater ’n warm, veilige en gemaklike omgewing vir jou baba en beskerm hom teen die buitewêreld. Lees meer oor hierdie wonderwater wat ’n belangrike rol in jou baba se groei en ontwikkeling in die baarmoeder speel.

Wat is vrugwater?

Vrugwater is wit of effens gelerig. Aan die begin van die swangerskap word dit grootliks deur die plasenta, naelstring en vliese van die vrugwatersak vervaardig. In die eerste trimester is daar nog nie baie vrugwater nie. Teen week 12 begin die fetus se niertjies werk sodat hy kan urineer, en dan neem die vrugwater toe. Die fetus se liggaam speel dus ’n groot rol in die vervaardiging van vrugwater.

Die fetus sluk die vrugwater, filtreer dit deur sy niertjies en piepie dit dan weer uit. Namate die tyd aanstap en die fetus aanhou om die water in te neem en uit te skei, bestaan die vrugwater later – gewoonlik teen week 36 – net uit fetus-urine.

Die vrugwatersak

Die vrugwater vorm in die vrugwatersak wat binne-in die baarmoeder is. Die sak bestaan uit twee lae wat aan mekaar vas is. Die buitenste deel, aan die baarmoederkant, word die chorion genoem terwyl die binneste laag bekend staan as die amnion.

Woema vir longe en spiere

Vrugwater speel ’n baie belangrike rol in die groei en ontwikkeling van die longe. Die fetus kry suurstof deur die naelstring in en vrugwater word weer deur die longetjies “ingeasem”. Namate hy vrugwater insluk, leer die longe om uit te sit – hy oefen dus as’t ware om later lug in te asem. Omdat hy in die vrugwater rondbeweeg, ontwikkel sy spiere en bene terwyl hy draai, skop, rol en bollemakiesie slaan.

Beskermend

Vrugwater dien as ’n wonderlike buffer teen die stampe en stote wat ma kan oorkom. Die temperatuur van die water is daarby net reg vir die groeiende fetus, nie te koud of te warm nie. Die vrugwater beskerm die fetus en die baarmoeder ook teen infeksies.

Volume

Die volume van die vrugwater neem toe namate die swangerskap vorder, maar neem teen die einde van die swangerskap weer af. Die vrugwater is op sy meeste teen week 34. Dan kan dit tot ’n liter beslaan, maar dis gewoonlik sowat 800 ml. Teen week 40 verminder die volume tot omtrent 600 ml.

In breë terme kan ’n mens sê dat die vrugwater teen 10 weke sowat 30 ml is, 300 ml teen week 20 en 600 ml teen week 40. As ’n mens teen die tyd van die geboorte te min vrugwater het – gewoonlik minder as 200 ml – word die toestand oligohidramnios genoem. Polihidramnios beteken daar is te veel vrugwater, gewoonlik twee liter of meer.

Wat dit alles verklap

Die vrugwater bevat velletjies van die fetus wat van die jong en ontwikkelende lyfie afval, net soos mense ook daagliks stukkies vel afskud. Vrugwater met van hierdie velletjies en fetusselle in kan baie inligting oor die ongebore baba verklap as dit uit die vrugwatersak getrek word.

Dié onttrekingsprosedure staan bekend as amniosentese en dit kan die geslag van die baba en ’n meer akkurate ouderdom van die fetus bepaal, asook moontlike probleme uitwys.

Die vrugwater kan ook ondersoek word vir genetiese probleme. Dit word gebruik om die chromosoomsamestelling van die fetus te bepaal om toestande soos Down-sindroom te diagnoseer.

Stamselle wat amper so sterk is soos selle wat van die embrio verkry word, is ook al in vrugwater gevind. Dit kan ook baie help om stamselnavorsing te bevorder, want die gebruik van vrugwater vir stamselnavorsing is meer aanvaarbaar as die gebruik van embrioselle, wat vir baie ’n etiese kwessie is.

Amniotiese bande

Amniotiese bande is eintlik seldsaam. Dit lyk soos stringetjies wat in die vrugwater voorkom en ontstaan as die binneste vlies van die vrugwatersak ’n bietjie skeur.

In baie gevalle raak hierdie stringetjies nie aan die fetus nie en hou dit dus nie gevaar in nie, maar soms kan die bande ’n deel van die baarmoeder vol lê, wat die baba se beweging kan beperk. As die bande aan liggaamsdele van die baba begin vassit, kan dit gevaarlik wees omdat bloedtoevloei afgesny kan word.

As dit gebeur, word dit amniotiesegordel-sindroom genoem, en dit kan fisieke afwykings soos klompvoetjies veroorsaak.

Hoe weet jy jou water breek?

Net voor of tydens die geboorte skeur die vliese van die vrugsak en ons sê die “water het gebreek”. Die water vloei deur die vagina en is ’n aanduiding dat die geboorte begin het.

Die water kan in ’n klein straaltjie uitloop, of dit kan ’n vinnige vloed wees waaroor ’n mens geen beheer het nie. Sommige vroue sê vrugwater het ’n soeterige reuk of dit ruik na amandels. Die kleur van die water wat breek is vir die dokter ’n aanduiding van die baba se welstand.

Dis ook belangrik om te weet as jou water te vroeg breek, hoewel vrugwater nie altyd van urine te onderskei is nie. Een toets is om die water te probeer terugknyp en as dit nie help nie, is die kans goed dat jou vrugsak geskeur het. Vrugwater bevat ook die hormoon prostaglandien, wat die baarmoeder help om tydens die geboorte saam te trek.

Skakel jou dokter as jou water gebreek het en...

  • dit bloederig is,
  • jy minder as 37 weke swanger is,
  • dit donkerbruin of swart is,
  • jou baba met sy stuitjie na onder lê,
  • jou baba nog nie gesak het nie,
  • jy ’n tweeling verwag,
  • jy aanhoudende maagpyn het,
  • jy gediagnoseer is met te min of te veel vrugwater.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees