Stap 1: Praat met jou maat

Paartjies moet saam besluit dat die tyd reg is. Gesels oor dinge soos bekostigbaarheid, tydsberekening en die ouderdomsgaping tussen jul kinders, kindersorg en werkopsies.

As dit jul eerste baba is, kan julle ook gesels oor ouerskapstyl en moontlike ondersteuningstelsels.

Julle kan gerus ook albei die dokter raadpleeg en van jul plan vertel, sodat enige moontlike probleme vroeg opgespoor en behandel kan word. Dit kan onnodige stres en teleurstelling voorkom. 

Stap 2: Word gesond(er) 

Jou vrugbaarheid hang af van jou ouderdom, gesondheid, emosies, menstruele siklus en die soort voorbehoeding wat jy gebruik en vir hoe lank jy dit al gebruik.

Jong vroue word meestal maklik swanger omdat hul eierselle jonger is en omdat die serviks langer oop bly tydens ovulasie (die vrugbare dae van die siklus).

Vroue wat oorgewig is, kan ’n hormoonwanbalans hê omdat estrogeen in vetselle geberg word en omdat hul insulienregulering deurmekaar kan wees.

Dis ook nie goed om te maer te wees nie. Ondergewig vroue kan ophou ovuleer. Hoe gouer jy en jou man dus reg begin eet, hoe beter. ’n Mens voel ook beter as jy gesond eet.

Sluit ’n wye verskeidenheid voedsame kos in en eet uit al die voedselgroepe.

As jy elke dag vrugte, groente, heelgraan, maer vleis en suiwel eet, sal dit help sorg dat jy jou daaglikse aanbevole hoeveelheid vitamiene en minerale inkry wat nodig is vir optimale vrugbaarheid.

Dis ook ’n goeie plan om nou al ’n spesiale swangerskapsaanvulling te begin drink.

Vroue wat onder buitegewoon kwaai stres is, kan ook tydelik ophou ovuleer of met langer tussenposes ovuleer, wat beteken dat daar minder geleentheid is om ’n baba te verwek.

’n Deurmekaar menstruele siklus maak dinge moeilik en frustrerend, en haal ook die pret uit seks. 

Stap 3: Verstaan die dagboek 

’n Vrou se vrugbaarheid hou verband met ’n ingewikkelde netwerk hormone wat die pituïtêre klier in haar brein met haar eierstokke, baarmoeder, serviks en borste verbind.

Dié organe het ontvangerselle wat sensitief is vir die hoeveelheid hormone in die bloed. Die konsentrasie wissel daagliks, afhangend van of jy vrugbaar of onvrugbaar, swanger, borsvoedend of in jou menopouse is.

Mans is heeltyd vrugbaar, maar ’n vrou is net vir vyf dae in haar menstruele siklus vrugbaar. Meet jou siklus van die eerste dag van jou menstruasie tot die eerste dag van jou volgende menstruasie.

In dié tydperk is daar ’n vensterperiode van 24 uur waarin jy swanger kan raak. Gewoonlik is ’n vrou in die middel van haar siklus in haar vrugbare fase – wanneer sy ovuleer.

Dit is wanneer ’n eiersel vir bevrugting voorberei word, deur die eierstok vrygestel word en langs die buis van Fallopius afgly. Bevrugting (wanneer die eiersel en die spermsel bymekaarkom) moet binne 24 uur geskied.

Die sleutel tot verwekking lê daarin dat jy weet wanneer hierdie 24­-uur-­tydperk aangebreek het. Om ’n baba te verwek, moet ’n paartjie dus seks hê wanneer die vrou se liggaam ontvanklik vir die sperm is.

Dit gebeur tydens ovulasie wanneer die vagina ’n spermvriendelike omgewing word danksy spesiale slym by die serviks. Die gladde slym word in die vagina vrygestel en dit help die sperm swem.

Wanneer die sperm die serviks bereik, kan die slym dit vyf dae lank aan die lewe hou terwyl dit op die eiersel wag.

Mans behoort ’n teelepel semen te kan produseer wat tussen 300 en 500 miljoen sperm bevat.

Die meeste van die sperm ver dwaal tydens seks in die vagina en minder as ’n derde kom uiteindelik by die serviks uit. 

Stap 4: Maak 'n baba

Ja, julle moet besig raak tussen die lakens, maar verbeter jul kans op verwekking met die volgende kennis:

1. Vermy seks tydens jou maandstonde.

2. Die vier dae daarna kan julle elke tweede aand seks hê. Hoewel sperm nie in hierdie stadium deur die serviks kan kom nie, kan gereelde seks ’n konstante vars voorraad van sperm verseker.

3.  Wanneer jou eierstokke aktief word, sal jou serviks eers taai slym afskei. Vermy seks in dié tyd vir ’n paar dae, want dit sal help om die spermtelling te verhoog.

4. Wanneer jou vaginale slym so glad soos rou eierwit word en jou geslagsdele effe geswel en sensitief voel, is dit tyd om soveel seks te hê as wat julle wil. Sperm kan tot 6 dae in jou liggaam oorleef, maar ’n eiersel leef net 12 tot 24 uur. Dis hoekom seks voor, tydens en ná ovulasie aanbeveel word, want dit verhoog die kans dat sperm en eiersel bymekaar gaan uitkom.

5. Ná die ovulasietydperk kan julle natuurlik seksueel aktief bly, maar die vensterperiode vir verwekking is vir eers verby.

6. Wag tot jou maandstonde ’n week laat is voor jy ’n swangerskapstoets doen. As bevrugting plaasgevind het, neem dit die eiertjie 10 dae om tot in die baarmoeder te beweeg. In hierdie tyd neem die selmassa toe (dit word ’n blastosist genoem) en die selle wat die plasenta gaan word, bestaan reeds. Dié selle heg aan die voering van die baarmoeder. Die voering is wat gewoonlik loskom en tydens menstruasie uitgeskei word. Jy sal die hormoon hCG produseer wat in jou urien uitgeskei word, en dís wat ’n swangerskapstoets positief maak.

Ten slotte

Dit kan stresvol wees om swanger te probeer raak. Geniet dit in die eerste ruk en probeer om nie te voorskriftelik te wees oor presies wanneer om seks te hê nie.

Dit sal die pret en romanse versmoor. As julle wel mik vir seks tydens ovulasie, hou dit nog steeds interessant.

Jul kans is met elke siklus 20 tot 25 persent om swanger te raak.

Vra jou dokter 

Daar is siektes wat vir jou fetus gevare inhou en daar kan ook oorerflike siektes in jul familie wees. As deel van jou voorsorg voor jy swanger word, kan jy met jou dokter gesels oor:

  • MIV: Dis nie meer ’n doodsvonnis nie, maar word beskou as ’n chroniese siekte wat beheer kan word. Dis roetine dat jy vir MIV getoets sal word en daar is baie wat jy kan doen om die kans te verklein dat dit aan jou kind oorgedra word.
  • Rubella: Duitse masels hou groot gevaar vir swanger vroue in. Jou baba kan erg gestrem gebore word as jy dit in jou swangerskap opdoen. Vra jou dokter om jou immuniteit te toets. Jy kan ingeënt word as jy nie immuun is nie.
  • Hepatitis B: Dié lewersiekte kan aan jou baba oorgedra word. Jy is waarskynlik as kind ingeënt, maar dis die moeite werd om seker te maak.
  • Waterpokkies: As jy dit al gehad het, is jy waarskynlik veilig. Indien nie, kan jy ingeënt word. Dis gevaarlik om waterpokkies onder lede te hê wanneer jou baba se geboortedatum naby is.
  • Seksueel oordraagbare siektes soos sifilis of herpes: Jou dokter kan help. Moenie hierdie inligting wegsteek nie.
  • Oorerflike siektes: Toetse daarvoor word nie outomaties gedoen nie, maar jou dokter sal uitvra oor jou familiegeskiedenis. Gesels met jou ouers en jou man se ouers om die korrekte inligting te kry.
  • Rhesus-faktor: ’n Bloedgroeptoets word op alle swanger vroue gedoen om vas te stel of hulle Rhesus-negatief is, want dan moet ’n inspuiting gegee word om Rhesus-sensitering te keer. Dis iets wat kan geskied tydens kraam wanneer die ma se bloed met die baba s’n in aanraking kom. Daar lê ’n gevaar in vir toekomstige swangerskappe. As jy negatief is en jou man positief, kan die baba enige van die twee wees. As die baba positief is en jy is negatief en jou baba se bloed meng met joune, kan probleme ontstaan. Die bloed maak dan teenliggaampies wat dié “vreemde” bloed aanval, wat komplikasies in ’n volgende swangerskap kan veroorsaak. Die inspuiting keer dit.