book-icon Uitgawe Oktober & November 2018

Bewus van hoe jy kraam

akkreditasie
Getty Images
Getty Images

Aktiewe kraam is wat ’n vrou doen wanneer sy haar eie instink en liggaam vertrou en volg. Dit is hoe sy in beheer van haar liggaam bly terwyl sy die lewe skenk eerder as om bestuur te word. Baie kenners meen aktiewe kraam gee jou baba die beste moontlike begin in die lewe en dat dit die veiligste oorgang van die baarmoeder tot in die wêreld is. Jou ankers terwyl jy aktief kraam is jou geboortemaat en ’n kundige, positief ingestelde vroedvrou of mediese versorger. Soos die Britse verloskundige Grantly Dick-Read, die vader van natuurlike geboorte, dit al in die jare 40 gestel het: “Die vroedvrou, suster, dokter of verpleegster moet alle aanslae van vrees kan wegwerk en moet ’n bron van krag wees wanneer die vrou in kraam begin twyfel en haar selfbeheer minder word. Hierdie versorger moet uiters kundig wees oor die sielkundige sowel as fisieke verskynsel van kraam.” Grantly se boek Childbirth Without Fear het in 1942 verskyn. Al die groot eietydse geboorte-aktiviste soos die Amerikaner Jan Tritten (redakteur van Midwifery Today), Janet Balaskas (Suid-Afrikaans gebore skrywer van New Active Birth), Ina May Gaskin (wêreldbekende Amerikaanse vroedvrou) en Michel Odent (Franse pionier van aktiewe kraameenhede) is dit eens dat hierdie boek verantwoordelik was vir die geboorterevolusie wat oor die volgende dekades in die Weste sou begin ontvou.

Antieke uitbeeldings van vroue wat kraam wys hulle in ’n knielende of hurkende posisie. Wanneer het dinge dan in die Weste begin verander? Kom ons blameer die nuuskierige koning Lodewyk die 14de van Frankryk. Die eerste optekening van ’n vrou wat gelê en kraam het was sy minnares, die markiesin van Montespan, sodat Lodewyk kon sien wat aangaan. Dit het ál algemener onder die adel geword om te lê en kraam terwyl hul baba met tange verlos word. Koningin Victoria het in die 19de eeu die eerste vrou in Engeland geword wat chloroform vir haar bevalling ingespan het. Gou het verdowing ’n neiging geword en vroue is verplig om in ’n terugleunposisie op ’n bed te lê sodat die mediese span die prosedure kon volg. “Vroue het deur die eeue verkies om met die hulp van ’n vroedvrou tydens kraam te loop, staan, hurk of lê en hul liggaam vrylik en aktief te gebruik om die gemaklikste posisies vir kraam en geboorte te vind. “Dis net ons in die Weste wat die buitengewone idee het dat ’n vrou op haar rug moet lê in ’n hulpelose posisie wat teen die wette van die natuur en swaartekrag werk,” skryf Janet Balaskas in New Active Birth. Hierin haal sy navorsing van die laaste paar dekades aan waarin duidelik gewys is dat sekere fisikabeginsels tydens geboorte van toepassing is en dat ’n vrou daarvan ontneem word as sy lê terwyl sy kraam. “ ’n Vrou se geboortekanaal vergroot met tot 30 persent as sy haar posisie van lê na hurk verander,” sê die Suid-Afrikaanse geboorteghoeroe Theoni Papoutsis van die geboorte-opvoedingsorganisasie Conscious Birth (consciousbirth.co.za). Om te lê is ook nadelig omdat die baarmoeder teen die rugstring druk. Die gewig van die saamtrekkende baarmoeder verminder die bloedtoevoer na die vrugwatersak omdat dit die are vasdruk wat na die hart lei, sê Theoni.

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees