Wat is bloeddruk?

Jou bloeddruk verwys na die druk waarteen bloed deur jou liggaam gepomp word. Die bloeddruktelling bestaan uit twee syfers: die sistoliese druk en die diastoliese druk. Die sistoliese druk is die druk in die slagare wanneer die bloed vorentoe deur die liggaam pomp, verduidelik die Kaapstadse dokter Helét Potgieter. “Die diastoliese druk is die druk in jou bloedvate wanneer die hart tussen hartkloppe ontspan.”

’n Normale bloeddruk is 120/80 (120 is die sistoliese druk en 80 die diastoliese druk). Dis baie belangrik dat die dokter jou bloeddruk met jou eerste besoek ná die bevestiging van jou swangerskap meet, want dit sal die maatstaf wees waarteen jou bloeddruk die res van jou swangerskap gemeet word. Volgens Helét is ’n verandering in bloeddruk tydens jou swangerskap heeltemal normaal: In die eerste paar maande sal jou bloeddruk gewoonlik effens daal (een van die redes waarom jy so moeg voel), maar later in die swangerskap styg dit weer tot die oorspronklike telling.

Baie dinge kan jou bloeddruk beïnvloed, veral stres. As jy dus gespanne is terwyl die dokter jou ondersoek, kan jou bloeddruk veel hoër voorkom as wat dit eintlik is. Probeer om jou dag so te beplan dat jy nooit na jou doktersafsprake hoef te jaag nie. As jy gespanne voel, kan jy ontspanningsoefeninge soos visualisering of net diep asemhaling beproef. Jou dokter sal dalk ook jou bloeddruk aan sowel die begin as die einde van die konsultasie meet om jou kans te gee om te ontspan.

Lae bloeddruk

Lae bloeddruk is selde rede tot kommer en kan net probleme veroorsaak as dit jou so lighoofdig maak dat jy flou kan word. “Lae bloeddruk is die liggaam se manier om vir jou te sê dat daar nie genoeg bloed na die brein terugvloei nie,” sê Helét. “ ’n Mens hoef egter selde medies daarvoor behandel te word.”

As jy lighoofdig voel, is die beste raad dat jy met jou voete effens gelig gaan sit. Jy kan ook plat op die vloer lê met jou voete gelig as jy voel jy gaan enige oomblik omkap, sê dr. JP du Buisson, ’n ginekoloog en verloskundige van Kaapstad. As jy reeds 18 weke of langer swanger is, kan jy effens op jou linkersy gaan lê. Dit laat alles die bloed na jou kop terugvloei.

“Staan baie versigtig op en wees gereed om weer te gaan sit. As jy te vinnig opspring, vererger jy die gevoel,” sê JP. Moenie ’n bad of stort neem wat te warm is as jy met lae bloeddruk sukkel nie. Dit vererger net duiseligheid.

Hoë bloeddruk

Hoë bloeddruk is die gevolg van verdikking van die slagaarwand, wat veroorsaak dat dieselfde hoeveelheid bloed teen ’n hoër druk gepomp moet word.

Die eerste vorm van behandeling is aanpassings in jou dieet en oefenprogram. “Skakel alle sout uit jou dieet en begin ’n bietjie meer oefen,” stel Helét voor. “As jou bloeddruk egter voortdurend hoër as 140/90 bly, sal jy medisyne moet drink om dit in bedwang te hou.”

As jou bloeddruk in ’n uiterste geval skielik en dramaties toeneem, moet jy dadelik behandel word om ’n beroerte te voorkom wat jou en jou baba se lewe kan bedreig. Hoë bloeddruk in die later stadium van jou swangerskap moet fyn gemonitor word omdat dit ’n aanduiding van preëklampsie kan wees.

Preëklampsie

Preëklampsie ontstaan in die tweede helfte van die swangerskap, dus ná die 20ste week. Hoewel hoë bloeddruk die algemeenste gevaarteken is, moet dit met ’n reeks ander tekens of simptome gepaard gaan voor preëklampsie gediagnoseer word. Dié simptome is:

  • ’n Verhoogde urien-proteïenvlak. Dis een van die redes waarom jou dokter jou urien met elke besoek toets, sê JP. As daar proteïen in jou urien gevind word, moet verdere toetse gedoen word.
  • Swelling van die voete, enkels of hande. Jou gesig kan ook pofferig lyk. Onthou net dat ’n swanger vrou kan swel sonder dat sy noodwendig preëklampsie het.

JP sê die groei van die baba moet ook by pasiënte met preëklampsie gemonitor word. “Sommige pasiënte kwalifiseer vir die diagnose van preëklampsie al is daar nie swelling of proteïen in die urine nie.”

Daar is geen behandeling vir preëklampsie nie behalwe die beëindiging van die swangerskap deur die baba met ’n keisersnee of induksie te verlos. Voor 36 weke probeer dokters egter eers om die bloeddruk so goed moontlik te behandel om jou baba ’n kans te gee om verder te groei en meer volwasse te word. Hulle sal ook steroïde aan jou toedien om jou baba se longe sterker te maak en sy lewensvatbaarheid te verbeter indien hy vroeg verlos moet word.

In hierdie tyd word jy en jou baba baie fyn gemonitor om seker te maak julle kry nie preëklampsie-komplikasies soos fetale nood of aantasting van jou niere of lewer nie. Sodra die baba en plasenta verwyder is, keer die meeste vroue se bloeddruk na normaal terug. Party kan egter nog ’n paar weke daarmee sukkel en hulle moet dus ook dopgehou word.

Wat is HELLP-sindroom?
Dit kom meestal in die derde trimester van swangerskap en in ongeveer 0,2 tot 0,6% van swangerskappe voor. Omtrent 4 tot 12% van HELLP-sindroomgevalle kom by vroue met preëklampsie voor. Hierdie sindroom veroorsaak die vernietiging van rooibloedselle, verhoogde lewerensiemtellings en lae bloedplaatjietellings. Simptome van HELLP-sindroom is hoofpyn, naarheid en braking, maagpyn en moegheid. Behandeling sal afhang van hoe gevorderd die swangerskap is, maar die beëindiging van die swangerskap is meestal die beste manier om ernstige komplikasies vir jou en baba te vermy.