Naarheid en sooibrand het een eienskap gemeen: Hulle begin net so skielik as wat hulle weggaan. Oggendnaarheid verdwyn in die meeste gevalle ná die eerste trimester, en word gewoonlik gou opgevolg deur sooibrand, wat tot baba se geboorte kan duur. Ons verduidelik hoe jy dié skete kan voorkom of in toom kan hou.

Sooibrand

Vir baie vroue beteken swangerskap hul eerste kennismaking met sooibrand. Dis ’n pynlike brandgevoel agter die borsbeen en tref jou veral nadat jy geëet het. Soms word dit van ’n suur smaak in jou mond vergesel. Die meeste swanger vroue se las van sooibrand begin in die tweede helfte van hul swangerskap. Dokters beskryf sooibrand as ’n toestand waarin die sluitspier van die slukderm (die ring of klep naby die onderpunt van die derm) slapper word. Tydens swangerskap kan jy die skuld daarvoor op die hormoon progesteroon pak, omdat hierdie hormoon al die sagte spiere in jou liggaam laat verslap. Sommige spiere in die spysverteringskanaal verslap ook. Dit het tot gevolg dat kos stadiger deur jou maag beweeg, die verteringsproses verstadig word en maagsure dan in die slukderm beland. Dis egter nie net progesteroon se skuld dat jy deur sooibrand geteister word nie. Jou swellende baarmoeder is ook ’n sondaar omdat dit teen die maag druk en so die druk binne-in die maag verhoog. Die suur inhoud van die maag vloei dan terug tot binne-in die slukderm. Die slegte nuus? Dit word erger namate jou swangerskap vorder en jou boepie uitsit. Die goeie nuus? Sooibrand is nie skadelik nie; dit kan behandel word en dit klaar gewoonlik ná jou swangerskap op.

Wat jy kan doen

  • Sooibrand is meestal teen slaaptyd op sy ergste. Probeer dus om groot etes ná ses in die aand te vermy. As jy nie anders kan nie, eet baie lig en laat genoeg tyd verloop tussen aandete en wanneer jy inkruip. Met ander woorde: Laat jou kos eers verteer voor jy jou kop neerlê. Probeer waar moontlik om met ’n leë maag te gaan slaap.
  • Eet gereelde klein maaltye pleks van die tradisionele drie grotes.
  • Oefen liefs vóór ete. Draf en veral gewigte optel laat die drukking op jou maag toeneem.
  • Probeer om nie te veel gewig aan te sit nie. Hou by die gesonde maatstawwe wat jou dokter aanbeveel het.
  • Bly weg van styfpassende klere. Klere wat lekker los sit, veral lospassende slaapklere, kan ook help om druk op jou maag te verminder.
  • Slaap op twee of meer kussings sodat jou bolyf gelig is. Jy kan ook jou bed se koppenent effens lig. Hierdie twee ingrypings kan help om kos uit jou slukderm in jou maag te laat terugvloei.
  • Kougom verlig sooibrand, maar vermy dié met ’n pepermentgeur.
  • Vermy of beperk vetterige en ryk kos.
  • Drink ’n glas melk voor jy inkruip. Dit kan die suur in jou maag teenwerk.
  • Eet stadig. Hoe vinniger jy eet, hoe meer lug kan jy saam met die kos sluk. Dit kan lugpakkies in die maag vorm.
  • Eet nou, drink later. Wanneer jy vloeistowwe saam met ete inneem, meng die vloeistowwe met die kos. Sáám neem dit baie plek in jou maag op, wat jou net ongemakliker kan laat voel.
  • Eet kos ryk aan vesel soos hawermout, heelgraanbrood en vars vrugte en groente en probeer om elke dag ses tot agt glase water te drink om hardlywigheid te voorkom. 
  • Kossoorte wat sooibrand kan aanwakker sluit in gebraaide en vetterige kos. Sjokolade is ongelukkig ook op hierdie lys. Ander sondebokke is sitrusvrugte, tamatiegeregte, mosterd, asyn en pepermentprodukte. Sterk gekruide kos kan ook sooibrand aanwakker. Gaskoeldrank, alkohol en alle kafeïendrankies is ander vyande van jou brandende slukderm.
  • Vars gemmertee verskeie kere per dag kan help om sowel sooibrand as naarheid te verminder. Sny sowat 3 cm van ’n vars gemmerwortel af en skil dit. Rasper die gemmer fyn en voeg dit by ’n koppie kookwater. Jy kan groter hoeveelhede maak en dit regdeur die dag drink. Jy kan ook suurlemoen of lemmetjie byvoeg om dit lekker te laat smaak.

Kan ek sooibrandmedisyne drink?

As die leefstylveranderinge nie meer voldoende is nie, kan jy jou tot ’n middel wend waarvan min deur die liggaam geabsorbeer word sodat dit nie ’n gevaar vir die fetus inhou nie. Dis baie belangrik om altyd jou dokter te raadpleeg voor jy medisyne begin gebruik of staak. Selfs al is sooibrand nie ’n siekte nie, moet dit – soos alle siektetoestande gedurende swangerskap – versigtig behandel word. Die probleem met sommige middels is dat ’n mens nie altyd seker is oor die veiligheid vir en uitwerking op die fetus nie. Dis omdat baie min swanger vroue uiteraard bereid is om ’n kans te waag en deel te neem aan navorsing wat die veiligheid van die medikasie vir hul ongebore babas toets. Vermy medikasie dus liefs in die eerste trimester van swangerskap. Oor-die-toonbank-teensuurmiddels soos Gaviscon help om die sooibrand te verlig en is veilig om tydens jou swangerskap te gebruik. Teensuurmiddels bied vinnige en doeltreffende verligting vir die simptome van sooibrand. Dit neutraliseer die suur wat reeds in die maag is en verlig só pyn en ongemak. Jy kan dit dus een uur ná ete en weer voor slaaptyd drink. Daar is verskillende soorte teensuurmiddels, maar bespreek die keuse eers met jou apteker of dokter voor jy koop. Moenie te veel teensuurmiddels drink nie omdat die liggaam soms oorvergoed om ’n normale suurvlak te handhaaf en dan in reaksie selfs meer suur as gewoonlik kan vorm.

HET JY GEWEET?
As jy sukkel om te slaap, kan jy die koppenent van jou bed effens oplig, of baie ekstra kussings agter jou kop en skouers plaas om jou te lig. So span jy swaartekrag in om die surigheid onder te hou.
Getty Images

Naarheid

Byna die helfte van swanger vroue voel naar, veral soggens. Vroue met ’n tekort aan sekere voedingstowwe is meer tot naarheid geneig, hoewel swangerskapsverwante hormone die eintlike sondaars is. Dié hormone skiet die hoogte in gedurende week nege en 10 van jou swangerskap en dis wanneer jy op jou slegste voel. Naarheid kan ook jou liggaam se manier wees om van gifstowwe ontslae te raak. Troos jou daaraan dat die meeste gevalle van mislikheid net in die eerste trimester voorkom. Dr. JP du Buisson, ’n Kaapstadse ginekoloog, sê dat dit in sommige gevalle egter tot 16 weke kan duur voor dit oorwaai.

Wat jy kan doen

  • Eet gesonde kos waarvan jy hou. As jy nooit broccoli oor jou lippe kon kry nie, is die kans skraal dat jy nou daaraan gaan smul. Eet gereelde en kleiner etes, want dit stabiliseer jou bloedsuikervlak. 
  • Eet of drink iets soggens voor jy opstaan. Sommige vroue sweer by ’n Provita of Mariebeskuitjie. 
  • Eet iets sodra jy effens honger is.
  • Drink baie vloeistowwe, veral water. 
  • Gemmer werk naarheid teë. Skop die dag dus af met gemmertee of eet ’n gemmerkoekie as peuselhappie.
  • Vermy sterk geure en sigaretrook.
  • Vermy vetterige kos en eet liewer kos ryk aan koolhidrate.
  • Beskerm jou pêrels. Braking kan jou tande met sterk maagsuur bedek. Herhaalde refluks en braking kan jou tand­emalje beskadig en die risiko van tandbederf verhoog. Spoel jou mond deeglik met water uit en gebruik dan ’n fluoried-mondspoelmiddel. Borsel jou tande eers ’n uur ná braking sodat die tandeborsel in kombinasie met die maagsuur nie jou tandemalje krap nie.

Kan ek medisyne drink?

Homeopatiese Magen-druppels kan veilige verligting vir naarheid bied. Dit is egter ’n goeie idee om jou ginekoloog of huisdokter te raadpleeg as die simptome met jou lewe begin inmeng. Buitensporige naarheid en braking word gewoonlik met spesifieke middels behandel. Hierdie medikasie gaan egter nie noodwendig heeltemal van die naarheid ontslae raak nie, sê JP. Dit sal wel hopelik keer dat die naarheid erg genoeg word om jou te laat opgooi. Medikasie kan gestaak word sodra die ergste braking en naarheid verdwyn het. In baie gevalle kan swanger vroue nie die medikasie binnehou nie en ontwater hulle omdat hulle steeds nie kan eet of drink nie. Dan sal jy in die hospitaal opgeneem word om die verlore vloeistowwe en voedingstowwe, asook teennaarheidmedikasie binneaars te ontvang.

Swangerskapsnaarheid of hiperemese?

Volgens kenners ly tussen 0,3 en 1,5 persent van swanger vroue aan hyperemesis gravidarum, oftewel hiperemese. Met hiperemese sukkel jy om die geringste kriesel binne te hou terwyl jy swanger is en sit jy dus ook nie na wense gewig aan nie. Jy weet jy het moontlik hiperemese as jy nie normaal kan funksioneer nie. Selfs eenvoudige takies soos bad, stort of bestuur is een te veel omdat jy aanhoudend moeg is. Jy sal ook nie staat wees om te eet of drink sonder om op te gooi nie en kan dus ontwater, sê dr. Gerrit Viljoen, ’n ginekoloog van Johannesburg. Jy kan deurmekaar en flou voel en aan hoofpyn ly. Jy het heel waarskynlik hiperemese as jy 5 persent of meer van die gewig verloor wat jy voor jou swangerskap gehad het. Bloeddruk en ’n vinnige hartklop is nog komplikasies.