Wanneer jy met vroue praat wat ’n miskraam gehad het, kom jy gou agter dat baie van hulle graag sou wou weet hoekom hul swangerskap so skielik tot ’n einde gekom het, maar dat hierdie antwoord hulle dikwels ontwyk. Pols jy dokters daaroor, erken hulle dat dit ’n moeilike situasie is omdat daar soms regtig nie ’n antwoord is nie. Dit bly egter moeilik vir ’n vrou om haar miskraam te aanvaar as “net een van daai dinge”.

“Ek sien weekliks twee tot drie pasiënte in my praktyk wat ’n miskraam gehad het,” sê die Kaapstadse ginekoloog en verloskundige dr. Martin Puzey . “En gewoonlik kan ek hulle gerusstel dat hul miskraam die natuur se manier was om ’n probleem op te los.”

In die geval van eerstetrimester-miskrame (in die eerste 12 weke van ’n swangerskap) is dit beslis die geval, aangesien chromosoom-afwykings van die embrio verreweg die grootste oorsaak is van vroeë miskrame.

Soms kan ’n virusinfeksie wat met ’n hoë koors gepaardgaan (soos griep, Duitse masels of malaria) ook tot ’n miskraam lei. Martin sê hy stel ook graag vroue gerus dat bloot die feit dat jy kon swanger raak beteken jy is gesond en in staat om weer swanger te raak.

Om vroue hoop te gee is een ding, maar wat van ’n antwoord op jou vraag oor hoekom dit gebeur het? “Dít is baie moeilik,” gee Martin toe. Medici weet nie altyd waarom iemand ’n miskraam gehad het nie.

Die proses van swanger word kan vergelyk word met ’n ratkas wat eers mooi netjies in twee gedeel word, en daarna moet een helfte van die ratkas se onderdele versoen word met elke onderdeel in die ander helfte van die ratkas, sê Martin. Die kans dat daar ’n fout iewers gaan insluip, is groot.

“Dis nie iets wat jy verkeerd gedoen het nie, maar ’n fout wat ontstaan het met die verdeling en groei van die embrio.” Daar word eers oorsake by die ma gesoek as sy ’n chroniese toestand het soos lupus, ’n hartsiekte, diabetes of tiroïedsiekte.

Infeksie van die baarmoeder wat nie goed bestuur word nie, kan ook lei tot ’n miskraam. Soms vervaardig ’n vrou se lyf nie genoeg progesteroon om die groeiende fetus te ondersteun nie.

In al dié gevalle is die kans goed dat die miskraam in die eerste trimester van die swangerskap sal plaasvind. Miskrame in die tweede trimester word onder meer verbind met strukturele probleme van die baarmoeder en naelstring-probleme.

DÍT VERHOOG JOU RISIKO VIR ’N MISKRAAM

Vroue met ’n te lae liggaamsgewigsindeks (LMI) en ’n te hoë een het ’n groter kans om ’n miskraam te hê as vroue wat ’n gesonde liggaamsgewigsindeks het. ’n Gesonde LMI vir vroue is tussen 18,5 en 24,9. Jou liggaam moet sterk en gesond wees om ’n swangerskap te kan volhou, sê Martin.

Nog ’n groot risikofaktor is rook, asook ’n oormaat alkohol en dwelms. “Navorsing wys ook dat te veel kafeïen – meer as twee koppies koffie per dag – die risiko van ’n miskraam kan verhoog.”

Ander risikofaktore sluit in:

  • Ouderdom Vroue ouer as 35 het ’n hoër risiko as jonger vroue. Op 35 jaar het jy ’n kans van 20 persent om ’n miskraam te kry; teen 40-jarige ouderdom verhoog daardie syfer na 40 persent. Die ouderdom van die pa speel selde ’n rol.
  • Chroniese siektetoestande soos diabetes, hart- of niersiektes en hoë bloeddruk wat nie doeltreffend bestuur word nie.
  • Sekere baarmoeder-abnormaliteite of probleme met die serviks soos swak kringspierweefsel van die serviks.
  • Sommige inwendige genetiese toetse voor swangerskap en ’n amniosentese (wanneer monsters van die plasenta geneem word) vroeg in die swangerskap.

HOEKOM HET DIT MET MY GEBEUR?

In die wêreld van miskrame klop die som van “diagnose + behandeling = ’n baba” nie altyd nie. Dit beteken egter nie dat jy en jou dokter nie saam na antwoorde kan soek nie. Dié pad begin gewoonlik by bloedtoetse, sê Martin.

Jou bloed sal eers ontleed word om te kyk of daar hormoonwanbalanse of ’n probleem met jou immuunstelsel is. Jou bloed en dié van jou baba se pa kan ook weggestuur word om te bepaal of jul chromosome ’n faktor is. En as dit beskikbaar is, kan weefsel van die miskraam self ook getoets word.

“In my praktyk sal ek egter eers ná ’n tweede of ’n derde miskraam begin bloedtoetse vra,” sê Martin. As daar antwoorde is in die uitslag van bloedtoetse, is dit meestal óf ’n aanduiding van ’n outo-immuunsiekte óf bloedstollingsprobleme.

Hoewel bloed wat te min stol ook ’n probleem is, is die knelpunt meestal dat daar te veel stolling is, sê hy. “Die goeie nuus is dat bloedstollingsprobleme behandel kan word.”

Naas bloedtoetse kan sonars ook ingespan word om te bepaal of foute in die baarmoeder nie dalk die oorsaak van die miskraam kon wees nie. Soms is daar probleme met die wand van die baarmoeder.

’n Infeksie van die baarmoeder kan ook tot ’n miskraam lei. Dit word ’n septiese miskraam genoem en simptome sluit koors, moegheid en ’n onwelriekende dik, groen of geel afskeiding in.

MISKRAAM NÁ MISKRAAM

’n Miskraam is meestal ’n eenmalige gebeurtenis. Die meerderheid vroue het ná ’n miskraam ’n gesonde swangerskap. Minder as 5 persent van vroue het twee miskrame ná mekaar terwyl net 1 persent drie of meer opeenvolgende miskrame het.

Maar selfs vir hulle is daar hoop: Medici sê ’n vrou wat herhaaldelik miskrame gehad het se kans om aan ’n gesonde baba die lewe te skenk, is dieselfde as vroue wat nog nooit ’n miskraam gehad het nie.

Dié bevinding is gebaseer op ’n Deense navorsingstudie wat in 2011 verskyn het en waaraan 1 000 vroue wat herhaalde miskrame gehad het, deelgeneem het.

Die bevindings van ’n soortgelyke studie in Nederland in dieselfde jaar stuur ook ’n sterk boodskap van hoop uit na vroue wat meer as een miskraam gehad het.

Navorsing bevestig nie net dat daar hoop is vir vroue wat vroeg in hul swangerskap hul baba verloor het nie.

Daar is ook hoop vir dié wat later in hul swangerskap ’n miskraam gehad het weens ’n groeisel in die uterus. Navorsers aan die Universiteit van Sheffield in Brittanje het in 2011 bevindings in die joernaal Human Reproduction gepubliseer wat bevestig dat vroue met fibroïede (niekwaadaardige groeisels in die spierweefsel van die baarmoeder) sowat drie keer meer geneig is om ’n miskraam in hul derde trimester te hê as dié wat nie fibroïede het nie. Die studie het gewys dat sodra die fibroïede verwyder word, die vrou ’n gesonde swangerskap het.

KAN JY IETS DOEN OM DIT TE VOORKOM?

Behalwe om gesond te lewe en die erkende risiko’s wat hierbo verskyn te vermy, is daar baie min wat jy kan doen
om ’n miskraam te voorkom. Martin beveel die gebruik van foliensuur aan voor jy beplan om weer swanger te raak.

Vroue met ’n chroniese mediese toestand moet ook seker maak hul dokter is goedm daaroor ingelig en dat hulle dit saam doeltreffend bestuur.

WAT VAN WEER PROBEER?

Daar is geen rede waarom jy ná ’n miskraam nie dadelik weer swanger kan probeer raak nie, sê Martin. Die fisieke herstel ná ’n miskraam kan enigiets van ’n paar uur tot twee dae duur mits jy nie hewige bloeding, buikpyn of koors het nie.

Die meeste vroue kan verwag dat hul maandstonde binne vier tot ses weke sal terugkeer. Al kon geen studie nog bewys dat daar ’n rede is om te wag nie, stel die Wêreldgesondheidsorganisasie ’n wagperiode van ses maande ná een miskraam voor.

As jy gesond is en gereed voel, is daar egter geen rede om te wag nie. As jy nog rou, is dit wys om eers deur die proses te gaan. Ná twee of meer miskrame is dit dalk ook beter om eers met jou dokter te gesels en toetse te oorweeg voor julle weer probeer.

MITES OOR MISKRAME

Daar is heelwat ouvroustories oor wat miskrame kan veroorsaak. Jy het sekerlik al gehoor dat wasgoed en gordyne ophang taboe is. Die goue reël is egter dat geen alledaagse taak tot ’n miskraam kan lei nie. Matige oefening soos wat jy nog altyd gedoen het, kan ook nie ’n miskraam veroorsaak nie. Net so kan spanning en seks nie sommer ’n einde aan jou swangerskap maak nie.