Omskep jou huis in jou persoonlike spa en bederf jou so gereeld as wat jy kan. Begin met ’n ontspannende bad en ’n uitgerekte gesigsbehandeling en eindig jou aand deur jou gunsteling-reeks te kyk terwyl jy jou naels versorg. Dis waarskynlik die laaste keer in baie jare dat jy alleentyd gaan deurbring; benut dit dus so goed as wat jy kan.
Somer is ’n wonderlike tyd om swanger te wees, want daar is ’n oorvloed vrugte op die mark. Sny ’n paar appels, mango’s, kiwivrugte, aarbeie en piesangs op en voeg muesli en jogurt daarby vir ekstra vesel en kalsium. Hierdie vrugtesoorte is vol vitamien C, wat jou help om yster te absorbeer en jou immuunstelsel versterk. Oranje vrugte (soos appelkose, spanspek en mango’s) is ook vol betakaroteen, ’n veilige vorm van vitamien A. ’n Klein daaglikse dosis vitamien A is nodig vir weefselgroei, maar wanneer dit in te groot hoeveelhede ingeneem word, kan dit geboorte-afwykings by jou baba veroorsaak. Dis waarom dit nooit as ’n aanvulling geneem moet word nie. Die goeie nuus is dat die liggaam dit wat jy nodig het opneem uit die vrugte en groente wat jy eet.