Waar's die rooi Ferrari?

Maritza Swanepoel (29)

Nie alle vroue verwelkom hul maandstonde gretig nie: Vir sommiges is die sogenaamde man met die rooi Ferrari iets wat pyn en ongerief veroorsaak. Maar vir Maritza Swanepoel van Robertson is dit ’n besoeker waarna sy reikhalsend uitsien. Om die waarheid te sê, sy het al haar man wakker gemaak net om uit te basuin sy menstrueer!

Maritza is gediagnoseer met polisistiese ovariumsiekte (PSOS of PCOS in Engels), ’n toestand waar abnormale hormoonafskeiding lei tot ongereelde en selfs afwesige maandstondes. Ander simptome sluit in aknee, oorgewig, buitengewone haargroei soos baardhare en borshare en abnormale insulienvlakke wat tot tipe 2-diabetes kan lei. Dit kan ook infertiliteit veroorsaak.

Maritza vertel dit het alles begin toe sy destyds in standerd ses die eerste keer gemenstrueer het – en daarna nooit weer nie. Sy was verskeie kere by die dokter, maar moes hoor dis normaal. Sy het egter bly voel iets is verkeerd.

“Dit was aaklig om so te loop en nie te weet wat fout met my is nie. Ek het gesukkel met my gewig en vel en het party dae gehuil, my gesig was so seer van al die puisies.”

Kort voor haar troue drie jaar gelede het Maritza ’n tweede mening ingewin. “Die ginekoloog het dadelik gesê ek het PSOS. Ek kan nie beskryf hoe wonderlik dit was om op 26 uit te vind wat my makeer nie!” Omdat PSOS-simptome baie goed beheer kan word met ’n gesonde dieet, het Maritza ’n dieetkundige geraadpleeg. Gelukkig was sy nooit erg oorgewig nie omdat sy nog altyd op haar dieet gelet het.

Maritza was nie dadelik so bewus van die verband tussen PSOS en onvrugbaarheid nie. “Kinders was in daardie stadium nie vir ons ’n kwessie nie. Eers toe ek met ’n vriendin met PSOS praat wat nie kon kinders hê nie, het ek besef wat die omvang is. Die ginekoloog het egter gesê ek moenie dink ek kan nie kinders kry nie; daar is altyd hoop.”

In Februarie vanjaar het haar man, Franco, gevra of hulle vir ’n baba kan probeer. Maritza het die dokter se hulp ingeroep. “In April het die dokter vir my pille gegee om my te help menstrueer en vrugbaarheidspilletjies wat ek moes drink drie dae nadat ek gemenstrueer het – en dan moes ons begin ‘oefen’!

Nog 36 dae later moet jy ’n swangerskapstoets doen as jy nog nie begin menstrueer het nie. As dit negatief is, begin alles weer van voor af. Ek het twee keer deur die hele roetine gegaan. In Junie het ek sonder hulp gemenstrueer. Dit was fantasties, al was dit ontsettend pynlik!”

Maar haar siklus was te lank en hoewel sy daarna elke maand op haar eie gemenstrueer het, het haar siklusse ál langer geword – minder goeie nuus vir fertiliteit.

Dis ’n moeilike pad. “Soms voel ek hoekom moet ek dit deurmaak om kinders te kan hê. Beteken dit dat kinders nie vir ons bedoel is nie? Dit voel vir my ek is ’n halwe mens. Ek ‘werk’ nie. Nie eens met die hulp van die pilletjies ‘werk’ ek reg nie. En nou straf ek my man ook omdat ek stukkend is.

“Gelukkig plaas Franco geen druk op my nie. Hy het gesê hy het nie met my getrou om kinders te hê nie, hy het met my getrou omdat hy vir my lief is. Dit beteken geweldig baie, want die moontlikheid is daar dat dit nooit sal gebeur nie!”

Maritza sê die ergste van PSOS is dat mense nie verstaan nie. “Hulle dink jy sit aan of jy maak dit op.” Die ironie is dat sowat een uit 10 vroue daaraan ly, maar dat byna 70 persent ongediagnoseerd bly.

Seldsame sindroom

Tina Nel (41)

“Om jou in ’n huwelik te begeef met die wete dat infertiliteit ’n gegewe is ...” Dis hoe Tina Nel van Kuruman die gesprek begin oor haar en manlief Gert se 14 jaar lange stryd om hul ouerskapswens te verwesenlik. Maar sy gesels met ’n glimlag, want in haar arms woel die 18 maande oue Gert Jacobus (GJ).

Gert is gebore met ’n seldsame oorerflike toestand wat Kartegener se sindroom genoem word. Dit beteken al sy organe is omgedraai en sit aan die verkeerde kant van sy lyf. Nog ’n simptoom is infertiliteit.

Gert het altyd oop kaarte met Tina gespeel en toe hulle (sy op 25 en hy op 27) getroud is, was dit met die wete dat hulle volgens verskeie dokters en spesialiste nooit kinders sou kon hê nie.

“Voor ons troue het ek baie navorsing gedoen oor die sindroom, maar as jong verliefde sien jy vir alles kans. Ons het oopkop in die huwelik gegaan met die wete dat dit dalk geweldig druk op ons huwelik sou plaas, maar het besluit om altyd eerlik met mekaar te wees.” Ondanks dokters se verdoemende uitsprake het hulle bly glo daar is hoop.

Nadat hul die voor- en nadele van moontlike oorerflikheid en aanneming oorweeg het, het hulle besluit om vrugbaarheidsbehandeling te ondergaan.

Maar dit was moeilik omdat so min oor die toestand bekend is. “Selfs die dokters was aanvanklik onseker oor die korrekte metode. Ná twee mislukte kunsmatige inseminasies (KI’s) het ons na in vitrobevrugting oorgeskakel. Vyf het gevolg.

Elke keer het dit belowend gelyk, en elke keer was die uitslag negatief. Verskeie metodes is gebruik: Ons het onder meer twee keer skenkersperm gebruik, ook sonder sukses. Veel later sou ons uitvind dat ’n KI of gewone in vitro nie die aangewese metode is nie. Slegs met intrasitoplasmiese sperminspuiting (ICSI) kan daar hoop wees.”

Om alles te kroon het Tina endometriose gehad en oor ’n tydperk van 10 jaar minstens sewe laparoskopieë ondergaan om groeisels te verwyder.

Weens die geweldige fisieke en emosionele impak en finansiële faktore het Tina en Gert besluit hul sesde in vitro sou hul laaste wees, maar dié keer het die spesialis die ICSI-metode aanbeveel – en dit het gewerk!

“Ondanks die hoë risiko kon ons dit nie stil hou nie: Ons was te opgewonde! Almal was saam bly!” Maar op ses weke kry Tina toe ’n miskraam. “Toe het ek gesê: ’nooit, nooit, nooit weer nie. Ek gaan my nooit weer aan hierdie seer blootstel nie. Ek is klaar’. Gert het verstaan.”

Ná ’n Desembervakansie in 2011 waar hulle omring was deur gelukkige gesinne en die kinderleemte swaar gevoel het, vra Gert of hulle net nog een keer kan probeer. Tina het ingestem en besluit om dit volkome in die Here se hande te plaas, maar uit die staanspoor het sake nie volgens plan verloop nie.

“Dié keer het ek net agt bruikbare eierselle gehad, baie minder as voorheen. Net een was ná bevrugting boonop geskik vir terugplanting. Ons het die situasie emosioneel en finansieel heroorweeg, maar besluit om die Here te vertrou.

Die tweede dag hoor ons nog ’n eierselletjie is wonderbaarlik bevrug. En toe ons die derde dag teruggaan vir die terugplanting, hoor ons daar is ’n late bloomer en drie selletjies kon teruggeplant word. Dit was ’n wonderwerk in die kleine. “Gert sê dis die late bloomer wat geklou het.”

Nege maande later, ná ’n ietwat moeilike swangerskap met onder meer vier maande bedrus, is GJ gebore. “Dit was onwerklik toe ek uiteindelik daardie bondeltjie in my arms vashou – perfek, normaal en met sy organe aan die regte kant. Die ewebeeld van sy pa,” sê Tina.

Maritza en Tina se raad

  • Doen jou huiswerk deeglik. Kry menings by verskillende dokters. Moenie huiwer om nog ’n mening in te win as behandeling nie werk nie; dokters weet nie alles nie. Doen navorsing oor die nuutste tendense en neem ingeligte besluite. Dis jou verantwoordelikheid om jou met kennis te bemagtig.
  • Besef dat mense soms onwetend ongevoelig kan wees omdat hulle nie werklik verstaan waardeur jy gaan nie. “Aan die begin was dit vir my erg omdat mense nie besef het hoe emosioneel en fisiek uitputtend dit is nie. Later het ek besef ek het dit ook nie voorheen geweet nie. Dit was nogal belangrik toe ek begin besef dit is nie persoonlik nie – die mense weet net nie beter nie. So ontwikkel maar ’n dikker vel,” is Tina se raad.
  • Moet mekaar nie blameer nie. “Ek dink die feit dat ons nooit mekaar die skuld gegee het nie, was die sleutel tot ons huwelik,” sê Tina. “Ek het net besef ons is ’n span. Ons het altyd gesê ‘ons’ kan nie kinders hê nie. Mense het dit respekteer en nie gevra nie.”
  • Moenie moed verloor nie: Soms wanneer sake op hul slegste lyk, wag goeie nuus om die draai.