book-icon Uitgawe Desember 2017 & Januarie 2018

Ek sukkel om weer swanger te raak

akkreditasie
Credit: Getty Images
Credit: Getty Images

Vraag:

Ek het twee kinders – ’n voorskoolse kind en ’n peuter. Ons wil graag ’n derde enetjie hê, maar sukkel al meer as agt maande. Dis vreemd omdat ons met die vorige twee sommer dadelik swanger geraak het. Watter aanpassings kan ek maak wat kan help om my en my man se fertiliteit ’n hupstoot te gee?

Antwoord:

Dr. JP du Buisson antwoord: Ek sien jy sê julle “sukkel” al agt maande lank om swanger te raak – dit laat dit heeltemal te veel na werk klink! Op ’n ernstiger noot: Sowat 85 uit 100 paartjies is swanger ná een jaar van probeer en 90 uit 100 paartjies ná twee jaar. Dat julle reeds twee kinders het, beteken dat dit net ’n kwessie van tyd is voor die derde een sy opwagting maak. Ek neem aan dat jy wel gereeld menstrueer? As dit so is, is tydsberekening van die uiterste belang. Dit is belangrik om jou sikluslengte te bepaal – jy tel dus van die eerste dag van jou maandstonde tot die dag voor jy weer begin menstrueer. Dis dan jou sikluslengte. Gestel dit is 30 dae, dan sal jy 14 dae ná ovulasie weer begin menstrueer as jy nie swanger is nie. Dus 30 minus 14 beteken dat jy op dag 16 ovuleer. Julle moet dus in die twee dae rondom dag 16 hard probeer om swanger te raak – oftewel van dag 14 tot 18. ’n Mens kan ’n toep op jou foon aflaai om jou te help met die berekening – ek gebruik die MPT-ovulasie-toep. (MPT staan vir Menstrual Period Tracker.) Dan moet julle albei natuurlik gesond leef. Hou op met rook as een van julle rook. Aanvullings vir jou man moet insluit: sink, vitamien E en foliensuur. Jy kan gerus ook voor jou swangerskap al foliensuur begin gebruik, asook die aanvulling met inositol, wat eiergehalte en ovulasie ’n hupstoot gee. Ten laaste: As jy ná ’n jaar van probeer nog nie swanger is nie, moet jy liefs ’n afspraak by jou ginekoloog maak om seker te maak dat alles in die haak is. 

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees