Ek's reg vir jou, my lief

akkreditasie
Tel jy die dae af tot jou baba se geboorte? Hier is 10 dinge wat jy moet doen voor jou pienkvoet sy opwagting maak.

1. Voorgeboorteklasse 

Jy reken dalk jy weet reeds alles oor babas, maar jy gaan dankbaar wees vir die ekstra wenke wat jy by voorgeboorteklasse gaan kry.

Die klasse word gewoonlik deur verpleegkundiges of vroedvroue aangebied, en help veral met praktiese take soos hoe om jou baba te bad, versorg en te voed.

By hierdie klasse behandel hulle gewoonlik die volgende: jou gesondheid tydens swangerskap, tekens van kraam, die kraamproses, asemhalingen ontspanningsoefeninge, wat jy van ’n keisersnee kan verwag en pynverligtingstegnieke.

Jy sal ’n kontaknommer by jou ginekoloog of ’n hospitaal in jou omgewing kry. Voorgeboorteklasse berei jou voor vir die einde van swangerskap en die geboorte – wees eerder voorbereid as verras!

2. Ken basiese borsvoedingsfeite

Kundiges is dit eens: Borsmelk is die beste vir jou baba, maar goeie goed is nie altyd maklik nie. As jy jou egter bemagtig met genoeg inligting en raad (en jy kan maar gerus na ander se raad hieroor luister), is daar niks om jou oor te bekommer nie.

Jou baba is reg ná die geboorte op haar wakkerste, daarom is dit belangrik om haar binne die eerste uur ná geboorte aan jou bors bekend te stel. In die eerste drie dae is jou borsmelk kolostrum – dis baie min, maar uiters voedsaam.

Jou baba het maar ’n paar milliliter daarvan nodig. Maak seker jy sit of lê gemaklik vir jou eerste borsvoedpoging. Beproef verskeie posisies, soos ’n sittende posisie waar jou rug deur kussings ondersteun word.

In hierdie posisie sit jy ’n kussing op jou skoot om saam met ’n geboë arm jou baba te ondersteun terwyl sy aan jou bors drink. Maak seker jou baba se magie wys na jou maag.

Die rugbybal-posisie behels ook dat jy regop sit, maar jy hou jou baba aan die een kant van jou liggaam onder jou arm vas. Jy kan haar lyfie met ’n kussing ondersteun.

Die derde posisie is die lêende posisie, waar jy op jou sy lê sodat die onderkant van jou bors op dieselfde hoogte as jou baba se mond is.

Ondersteun jou kop met ’n kussing. Haar mondjie moet groot oop wees om behoorlik vas te suig, soos wanneer sy gaap. ’n Groot deel van jou areola moet binne-in haar mond wees.

3. Pak jou en baba se hospitaaltas

Pak jou en baba se tasse sommer vroeg al, dan sal jy meer gerus wees. Onthou, jou hospitaal kan dalk nog ’n paar items vereis. Vra gerus daarna wanneer jy jou hospitaalbed bespreek.

4. Baba se slaapplek

Die babakamer is gewoonlik heel boaan die doenlysie wanneer jy uitvind jy is swanger. Dit is inderdaad belangrik om jou pienkvoet se kamer so in te rig dat dit ’n veilige en rustige omgewing is, maar in die eerste paar weke slaap jou nuweling gewoonlik snoesig langs jou in ’n kot in jul kamer.

Onthou dus om hierdie plekkie voor te berei – dit beteken manlief gaan dalk ’n bietjie moet rondskuif. Jy kan die volgende in jou kamer nodig hê:

  • ’n Kampkot met ’n doekruilstasie wat daarop rus. Jul bed is ook ’n moontlike doekruilplek, maar met jou baba se onvoorspelbare magie en doeke is ’n doekruilstasie dalk ’n beter keuse. Jy sal ook verbaas wees hoeveel doeke jou kleinding aanvanklik gaan hê – jou rug gaan beslis nie van al die ongemaklike gebukkery hou nie.
  • Onthou om die asemhalingsmonitor op te stel, te toets en seker te maak jy weet hoe dit werk. ’n Asemhalingsmonitor verminder die risiko van wiegiedood omdat jy jou baba se asemhaling en hartklop op die monitor kan dophou. Dit behoort jou aansienlik rustiger te laat slaap.
  • Sorg dat daar genoeg doeke en boudjiesalf is vir nagruilings sodat jy nie onnodig hoef rond te skarrel nie.
  • Skaf ’n dowwe nagliggie aan sodat jy snags in die kamer kan rondbeweeg.

5. Was baba se klere en linne

Sorg dat jy ’n wasmiddel en versagtingsmiddel gebruik wat geskik is vir babas – dis gewoonlik dié wat vir ’n sensitiewe vel gemaak is. Soms is die kleertjies wat jy by jou babatee kry nie geskik vir die seisoen en jou baba se ouderdom nie; moet dus nie die etikette dadelik afknip nie. Dalk wil jy dit in die winkel gaan omruil.

6. Kook en vries kos

Dit is ’n goeie idee om kos te maak en te vries. Dit sal dinge vir manlief makliker maak terwyl jy in die hospitaal is en ook vir jou wanneer jy terug by die huis is.

Die eerste ruk tuis kan ’n reuse aanpassing wees en jy gaan dalk nie lus wees om voor die kospotte te staan nie. Kos wat goed vries is sop, bredie, lasagna en pasta. Jy kan hierdie kos tot drie maande lank in verseëlbare sakkies in jou vrieskas hou.

Maak seker jy maak die sakkies dig toe, anders word die kos vinniger sleg. Onthou om die regte hoeveelheid porsies (vir jou en jou man) saam te vries sodat jy net genoeg kan uithaal en nie kos mors nie.

Maak seker jou koskaste is vol – sorg dat daar genoeg koffie, tee, melk, groente en vrugte in die huis is.

7. Besoek die skoonheidsalon

’n Bietjie kleur verrig wondere! Dit is heerlik om versorg te lyk en te voel – sorg dus dat jou naels, toonnaels en hare in ’n goeie toestand is voor jy hospitaal toe gaan. Jy hoef jou dan ’n ruk lank nie daaroor te bekommer as jy eers terug by die huis is nie.

Julle gaan ook ’n klomp foto’s saam as gesin neem, en as jy eendag na die foto’s kyk, sal dit lekker wees om te sien jy het op jou beste gelyk. Laat ook sommer ’n wasbehandeling ook doen.

8. Installeer die motorstoeltjie

Daar is darem niks so senutergend soos die eerste rit huis toe met jul kosbaarste besitting nie. Sorg dat julle die motorstoeltjie behoorlik in die motor installeer en weet hoe dit werk.

Lees die aanwysings om seker te maak julle installeer dit korrek. Maak seker jul stoeltjie is geskik vir pasgeborenes en dat dit na agter wys. Jou baba is veronderstel om in dié posisie te ry tot sy 13 kg weeg.

Wanneer jou baba vasgemaak is, moet die hele stoeltjie, die harnas en skouerbande nie meer as 2,5 cm na enige kant kan skuif nie.

As jou klein bondeltjie wegraak in die stoeltjie, kan jy sagte kombersies oprol om aan weerskante van haar te plaas. Dit is beter om die motorstoeltjie op die agtersitplek van jul motor te installeer.

9. Sorg vir genoeg doeke

Sorg dat jy genoeg doeke by die huis het, of weet waar jy dit aanlyn kan koop. Dit gaan dalk nie so maklik wees om in daardie eerste week by die huis weg te glip nie. Dit is ook ’n goeie plan om meer as een doekhandelsmerk by die huis te hê. Babas verskil – wat vir jou vriendin se baba gewerk het, is dalk nie vir jou baba gepas nie.

Deesdae is daar pasgeborene-doeke op die mark wat ’n naelstringopening het. Dit maak dit gerieflik om die naelstringplekkie skoon te vee en maklik om die doek te ruil. Onthou, borsbabas kan meer as sewe vuil doeke in een dag hê!

10. Bederf jou

Bespreek fliekkaartjies vir jou en jou man. Dit gaan moontlik ’n rukkie wees voor julle weer in bioskoopstoele sal kan sit.

As jy deel is van die Ster-Kinekor-fliekklub kry jy Dinsdagaande afslag – werk uit hoeveel Dinsdagaande oor is voor jou pienkvoet sy verskyning maak en beraam ’n plan. As fliek nie vir jou is nie, koop ’n sappige storieboek wat jou dae lank sal besig hou.


Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees