Chantelle van der Bijl is ’n algemene praktisyn wat besig is om in huisartskunde te spesialiseer. Haar beroep is juis een van die redes waarom sy amper twee jaar gelede met die geboorte van haar oudste, Lara, ’n keisersnee verkies het.

“Ek was die afgelope jare betrokke by wonderlike natuurlike geboortes en dit bly ’n fantastiese manier van die lewe skenk, maar ek het ook al dinge sien verkeerdloop. Ek is heeltemal te veel van ’n beheervraat en het geweet ek wil ’n keisersnee hê.” Dit het Chantelle gepas om te weet op watter dag haar baba gebore sou word sodat sy kon voorberei. “Vir my was die belangrikste my baba en ek het geweet ’n baba kan min oorkom met ’n keisersnee,” vertel Chantelle.

Sy verwag tans haar tweede en voel nog steeds so tevrede met haar keuse as destyds. Hoewel Magdalene Venter met haar eerste dogtertjie ’n normale geboorte verkies het, het haar ginekoloog ’n keisersnee aanbeveel omdat sy ’n moeilike swangerskap beleef het, naar was en baie gewig verloor het. Joey (6) is op 40 weke met ’n keisersnee gebore.

Die keisersnee was vir Magdalene ’n aaklige ervaring want die medikasie het nie met haar liggaam saamgewerk nie. “Die skielike verandering van geboorteplan was traumaties en nie my keuse nie. My bloeddruk was onstabiel en ek kan nie veel van die ervaring onthou nie,” sê Magdalene.

Magdalene was daarom vasberade om dié keer ’n normale geboorte te hê, oftewel ’n Vbac (vaginal birth after caesarean). Vir Lindi de Jager het ’n natuurlike geboorte vir haar dogtertjie se koms opwindend geklink. Sy het van die gedagte gehou dat haar baba sou kom op die dag waarop dit bestem is.

“Ek ken my liggaam en het geweet ek sou in staat wees om natuurlik die lewe te skenk. “My dogtertjie, Louise, het gelukkig reg gelê en was gesond. My ginekoloog was dus tevrede met my keuse en het my aangemoedig om daarmee voort te gaan,” vertel Lindi.

Dis hoe ons voorberei het

As dokter het Chantelle ervaring van keisersneë. Sy het egter gehou van die idee van ’n sensitiewe keisersnee.

Daar is ’n praktyk in Bloemfontein wat dié diens bied. Dit behels dat ’n opgeleide suster jou in die hospitaal van jou keuse bystaan met die geboorte van jou baba. “Ek het geweet dat dié opsie in die teater baie vir my man sou beteken.

Die opgeleide vrou sorg ook dat jy ná die geboorte soveel moontlik vel-teen-vel-aanraking met jou baba het en dat baba se naelstring nie onmiddellik geknip word nie. “Die privaat hospitaal was heeltemal tevrede met my plan.” Magdalene hou ook van die idee dat jy met die geboorte ondersteuning kry.

“Elke liewe vroedvrou by die praktyk wat ek met my tweede swangerskap gekies het, was ondersteunend en kundig. Hulle het na my geluister en ’n pad saam met my gestap. “Ek is vir die duur van my swangerskap deur ’n vroedvrou ondersoek en gemonitor. Die plan was egter om in ’n hospitaal te kraam, aangesien ek die rugsteun van ’n ginekoloog met die kraamproses nodig gehad het.”

Vir Lindi en haar man, Gawie (33), het die voorgeboorteklasse, wat deur ’n vroedvrou aangebied is, baie beteken. “Ons het baie daar geleer; veral Gawie het baie daarby baat gevind. Ons het video’s van verskeie geboortes gekyk wat ons goed op die normale geboorte voorberei het.”

Lindi vertel hoe sy ter voorbereiding van die normale geboorte YouTube-video’s gekyk het en ook dit waarvan sy onseker was of wat haar gepla het, met haar ginekoloog bespreek het. “My ginekoloog het al my vrae eerlik beantwoord, veral die ongemaklike vrae waaroor vroue nie graag praat nie. “Dit het my gerusgestel en my gehelp om heeltemal voorbereid te wees,” vertel Lindi.

Die geboorte

Omdat Lindi se ginekoloog ’n praktyk by ’n privaat hospitaal in Johannesburg het en dit naby hul huis is, was dit vir die nuwe ouerpaar ’n gerieflike keuse. Lindi het ’n doula oorweeg, maar het te lank daarmee gewag. “Twee weke voor my verwagte datum het ons die dag saam met vriende deurgebring en was heeldag so doenig dat ek nie veel aandag gegee het aan die ligte krampies wat ek gevoel het nie.”

Lindi se kontraksies het egter later die aand intenser en ook meer gereeld geword. Sy het haar besig gehou en op die oefenbal gewip. Hulle is net voor middernag hospitaal toe toe haar kontraksies sowat vyf minute uitmekaar was. Lindi is inwendig ondersoek en was nie ver ontsluit nie.

Die verpleegpersoneel het haar daarom ’n petidien-pyninspuiting gegee om haar gemaklik te maak. Teen vieruur die oggend het haar water gebreek en Gawie, wat intussen huis toe is, is gebel sodat hy weer hospitaal toe kon kom. “Die verpleegpersoneel het my aangemoedig om rond te loop om die pyn meer draaglik te maak terwyl ek vir die dokter gewag het.” Die dokter het ná die ondersoek epidurale verdowing aanbeveel omdat ’n lang nag moontlik voorgelê het. Dit was aanvanklik nie deel van Lindi se geboorteplan nie, maar sy het teen negeuur die verdowing gekry.

“Ek en my ginekoloog het die geboorteplan voor die geboorte bespreek. Hy het gesê dat ek dit op die dag van die geboorte kon aanpas. Dit het my gerusgestel en bemagtig laat voel om te weet ek kon die plan verander volgens hoe dinge verloop. Ek is bly dat ek ontvanklik vir die epiduraal was en my laat lei het deur wat die dokter dink die beste vir my en Louise is.” Teen omtrent half-twaalf was Lindi ten volle ontsluit. “Die epiduraal was amper uitgewerk. Die gevoel in my bene was terug, maar die pyn van die kontraksies was steeds getemper.

Die droom kan nie groter wees as die veiligheid van die baba nie, het die vroedvrou gesê.

“My dokter het mooi beskryf wat ek moes doen. Ek was in daardie stadium daarop gefokus om die geboorte af te handel en baie opgewonde daaroor om Louise te ontmoet.” Lindi is vol lof vir haar man wat die skoene volgestaan het van die doula wat sy toe nooit betyds kon reël nie.

“Gawie het my rug gevryf so tussen die kraam deur en sy kalmte het my rustig laat voel.” Louise is twaalfuur die middag gebore. Sy was papperig, moontlik as gevolg van die petidien wat Lindi die vorige aand gekry het, en is dadelik in ’n broeikas gesit. “Ek het gou gestort en omtrent ’n uur ná die geboorte na die babakamer gestap. Ek het haar geborsvoed en met vel-tot-vel-aanraking begin om binding aan te moedig.”

Vir Lindi was die spesiaalste van die normale geboorte die feit dat sy Louise ná die geboorte maklik kon hanteer. “Ek kon maklik beweeg en van die bed op en af klim. Ek het twee aande in die hospitaal deurgebring en is toe ontslaan. Behalwe vir die feit dat my rug weens die epiduraal effens sensitief was, het ek geen pyn gehad nie en geen pymedikasie by die huis gedrink nie.” Dis hierdie soort herstelproses waarna Magdalene ook gestreef het.

Toe sy op 40 weke swangerskap teen middernag opstaan om badkamer toe te gaan, het haar water gebreek. “ ’n Vroedvrou het my by ons huis ondersoek om seker te maak alles is in orde. Ek het my daarna met huistakies besig gehou en daarop gefokus om aan die gang te bly.”

Teen twaalfuur die middag het Magdalene nog geen kontraksies gevoel nie. Hulle het dus maar die motor gepak – oefenbal en al – want sy was vasberade om hierdie normale geboorte deur te sien. “Net voor ons by die huis weg is, het ek die slymprop verloor. Dit het my hoop gegee dat dinge nou aan die gebeur is.” By die hospitaal het die vroedvrou Magdalene ondersoek en Ralph se hartklop gemonitor om seker te maak alles is normaal.

Magdalene het gekies om sommer daar in die hospitaal te bly waar sy elke vier uur gemonitor moes word. “Ek het teen seweuur die aand ligte kontraksies begin voel. Ek het musiek geluister, op my jogabal gewip en in die hospitaalgange gaan stap. My doula het rugdruk toegepas,” vertel Magdalene. Sy het egter nooit meer as een kontraksie per 10 minute gekry nie en eenuur die oggend is haar serviks vir die eerste keer ondersoek.

“My serviks was sag, maar ek het 25 uur later nog glad nie ontsluit nie. Ek het dus gerus en eers teen sesuur die volgende oggend wakker geword. My man, Ivann, het my gemotiveer en gesê dat ons dit nog kans moes gee.” Teen twaalfuur die middag – 36 uur nadat Magdalene se water gebreek het – het die vroedvrou haar weer ondersoek. “Sy het langs my op die bed kom sit en saam met my van teleurstelling gehuil. Maar sy het ook gesê die droom kan nie groter wees as die veiligheid van die baba nie.” Magdalene het ingestem op ’n keisersnee, maar weens haar slegte ervaring vyf jaar vroeër het sy seker gemaak dat sy twee keer met die narkotiseur praat. Hy het na al haar behoeftes geluister en onmiddellik besef dat sy baie sensitief vir verdowingsmiddels is.

“Terwyl ek in die teater met Ralph in my arms gelê het, het ek ’n vrou hoor huil. Sy het haar baba tydens die geboorte verloor. Ek het na Ralph gekyk en vrede in my hart gehad. Daar is na my behoeftes geluister, alles het goed uitgewerk en ek is met ’n baba huis toe.”

Ook Chantelle het gevoel daar is aan haar behoeftes is voldoen. Sy was die heel eerste pasiënt van die dag en is vroegoggend al by die teater ingestoot. Die opgeleide verpleegster wat hulle vir hierdie spesiale dag bespreek het, was saam met Chantelle en manlief Simon toe die spinale verdowing aangebring is.

“Ek was skrikkerig vir die spinale blok, maar die musiek in die teater het my rustig gemaak. Almal in die teater was in ’n ligte luim en het saggies gesels.” Chantelle vertel dat sy presies geweet het hoe ver die ginekoloog met die keisersnee is omdat sy die instrumente herken het wat hy kort-kort aangevra het.

“Toe die dokter vir Lara uitlig, het my man haar by hom geneem en sy is dadelik op sy bors gesit vir vel-teen-vel-aanraking. Simon het by my kop en skouers kom sit terwyl ek toegewerk is en ons het na ons pragtige dogtertjie gekyk en met haar gesels.” Die suster wat Chantelle en Simon bygestaan het, het Lara by Simon geneem toe Chantelle ’n paar minute later na die herstelkamer gestoot is. “In die herstelkamer het sy Lara vir my gegee en ek het haar geborsvoed.

Toe Lara klaar gedrink het, het verpleegpersoneel haar geneem om geweeg en gemeet te word,” vertel Chantelle. Sy het die volgende oggend ’n punt daarvan gemaak om op te staan, te beweeg en het ook gestort. “Ek was drie nagte lank in die hospitaal en dankbaar daaroor. Lara se neusie was teen dag drie toe en sy het gesukkel om te drink. Die verpleegpersoneel het my mooi daarmee gehelp. Ek is dankbaar oor die ondersteuning wat ek in die hospitaal ontvang het.”

Soos Lindi het Chantelle ook nie nodig gehad om tuis pynmiddels te drink nie. Magdalene vertel sy het haarself gedwing het om rustig by die huis te wees en onnodige huistake vir eers te los. “Ek het Ralph by my laat slaap sodat ek nie snags in en uit die bed hoef te geklim het nie.” En as jy vir die drie ma’s vra wat hulle nooit van hul ervaring sal vergeet nie?

Al drie stem saam dat vel-tot-vel-aanraking (om met hul kleingoed te begin bind) ná die geboorte ’n onvergeetlike ervaring was, en dat die ondersteuning wat hulle ontvang het – hetsy van ’n lewensmaat, hospitaalpersoneel of ’n vroedvrou – hulle altyd sal bybly. Die dag van jou baba se geboorte is een van die mees besondere dae van jou lewe. Hóé jy aan jou baba die lewe skenk maak dus nie saak nie – en ook nie as jou geboorteplan nie presies uitwerk soos jy dit wou gehad het nie. Dít is die drie ma’s eens.