1. Hoe werk dit?

Verdowing wat met ’n epidurale inspuiting toegedien word, keer dat die senuwees pynboodskappe na die onderlyf stuur. Die inspuiting word altyd deur ’n narkotiseur toegedien. ’n Dun, hol naald word gesteek in die epidurale ruimte, oftewel die ruimte tussen die rugmurg en die dura mater, een van die vliese wat die rugmurg bedek. ’n Klein plastiekbuisie word dan deur die naald gevoer en in die rug agtergelaat wanneer die naald uitgetrek word. Die buisie is gekoppel aan ’n pomp wat verstel word om soos nodig pynstillende medikasie en plaaslike verdowingsmiddels in die epidurale ruimte vry te laat en so te sorg dat die geboorte pynloos verloop.

Of dit die pyn heeltemal gaan wegneem, hang van jou af en van die hoeveelheid verdowing wat toegedien word. Jy behoort nie pyn as sodanig te voel nie, maar jy sal ’n drukkende gevoel in jou onderlyf hê.

2. Is dit seer?

’n Plaaslike verdowingsmiddel word op die vel aangewend voor die epidurale naald ingesteek word. Dit is dus onwaar-skynlik dat jy meer as geringe ongemak sal verduur terwyl die inspuiting toegedien word. Die meeste vroue kla eerder dat die binneaarse drup meer ongemaklik as die inspuitings self is.

3. Kan dit my baba skade doen?

Geen van die verdowingsmiddels in die epidurale inspuiting dring deur die plasenta nie. Dit word wyd beskou as ’n verdowingsmetode wat die baba bitter min beïnvloed omdat die doofmiddels nie in jou bloedstroom beland nie. Dit spoel eerder om jou senuwee-eindpunte en bereik jou baba dus nie.

4. Wat gebeur as dit nie werk nie?

Soms gebeur dit dat die verdowingsmiddel oneweredig in die epidurale ruimte versprei en jy dan steeds gevoel op ’n deel van jou maag of boud het, sê die Britse ginekoloog en verloskundige prof. Lesley Regan in die boek Your Pregnancy Week by Week. Af en toe skop die verdowing slegs aan die een kant van jou lyf in. Dié probleme kan egter vinnig opgelos word. Die narkotiseur sal die posisie van die kateter verander en jou ook vra om van posisie te verander om te verseker dat die middel alle senuwee-eindpunte eweredig bereik. Dit gebeur min dat ’n epidurale inspuiting nie doeltreffend is nie. As jy dit oorkom, sal die dokter van voor af probeer. As dit steeds nie werk nie, word alternatiewe pynstillers aangebied.

5. Sal ek steeds kan druk?

Lesley skryf ook dat jy met epidurale verdowing steeds kan druk, maar dat dit moeiliker is. Dis omdat jy nie jou kontraksies en die gepaardgaande sterk drang om te druk in die tweede kraamfase kan voel nie. Jy sal dus nie so goed kan oordeel waar om te fokus terwyl jy druk nie. Wanneer jy egter ten volle ontsluit het, sal jy waarskynlik drukking in jou rektum voel. Die vroedvrou of kraamsuster sal jou daardeur praat en aansê wanneer om te druk. Hulle weet wanneer jy kontraksies het omdat jy aan ’n EKG-masjien gekoppel is. “Jy kan altyd wag dat die inspuiting effens uitwerk sodat jy meer bewus is van jou kontraksies wanneer jy begin druk – en veral sodat jy presies weet waar op jou perineum jy jou drukpoging moet toespits,” sê Lesley.

6. Kan die kateter my ruggraat beskadig?

Dit kan net gebeur as die kateter waardeur die doofmiddel gevoer word, jou werwelkolom binnedring. In haar boek skryf Lesley dat die kateter omtrent nooit in die ruggraat rondbeweeg nie. As dit gebeur, kom mediese versorgers dit vinnig agter omdat die gevoellose deel op of af sal skuif. Hulle kan die sakie dan vinnig oplos.

7. Wanneer sal ek die inspuiting kry?

Die beste tyd is nadat jy 3 tot 4 cm ontsluit het. Die verdowing skop gewoonlik ná 10 tot 15 minute in.

8. Is daar newe-effekte?

Lae bloeddruk en hoofpyn is die algemeenste newe-effekte van epidurale verdowing. Jou bloeddruk kan veral met die toediening van die eerste dosis daal. Dis omdat die doofmiddel nie net die senuwees wat pynboodskappe vervoer blokkeer nie, maar ook senuvesels wat die grootte van die bloedvate in jou bekken en bene beheer. Om dít teen te werk kry jy binneaarse middels en word jou baba met ’n EKG gemonitor. Net ’n klein persentasie vroue kry kopseer. Die dooie gevoel verdwyn gewoonlik vier tot ses uur ná die toediening van die epidurale verdowing, hoewel dit by sommige vroue langer kan voortduur.

9. Kan ek ’n epiduraal kry met ’n ou rugbesering?

Dit hang van die aard en erns van die besering af, maar oor die algemeen is dit onwaarskynlik dat ’n ou rugbesering ’n epidurale inspuiting onmoontlik maak, skryf Lesley. Bespreek dit vooraf met jou ginekoloog en indien nodig kan hy of sy ’n x-straalfoto laat neem om die graad van die besering te bepaal voor hulle finaal besluit.

10. Hoe verskil ’n epiduraal van ’n spinale blok?

Epidurale verdowing is ’n aaneenlopende prosedure en strek oor die hele loop van jou bevalling. Die spinale blok is ’n eenmalige prosedure, duur net ’n paar uur en verdoof jou hele onderlyf van jou middel af ondertoe. Daarom word ’n spinale blok vir keisersneë aangewend en ’n epiduraal vir natuurlike bevallings, waar die hoeveelheid verdowingsmiddel aangepas kan word. Die ander verskil is dat ’n epidurale inspuiting in die gaping net voor die werwelkolom toegedien word terwyl spinale narkose regstreeks in die rugmurgvloeistof gaan. Dit werk dus vinniger. 

Raakgekoop

MyOmega and MyMilk help swanger en borsvoedende vroue om hul omega 3-vlak te bepaal sodat hulle seker kan wees hul baba kry genoeg van dié belangrike stof in. Bel Ecsponent Biotech se InfoHub by 087 808 0100 of stuur ’n e-pos na info@ecsbio.com. Elke toets kos R570.

Wenk
Lees voor die geboorte meer oor epidurale verdowing. Dit sal jou minder vreesbevange vir dié proses maak.
Het jy geweet?
Epidurale verdowing kan jou bloeddruk verlaag, maar jou dokter sal binneaarse voeding toedien om dit te vermy. Sommige ma's se bloeddruk daal steeds, wat hulle duiselig, naar en sleg laat voel. As dit gebeur, draai die verpleegster die ma op haar sy en kry sy meer aarvoeding en dikwels ook suurstof.