Foliensuur-vasvra

akkreditasie
Hoekom is foliensuur so belangrik vir jou ongebore baba en hoe kan jy sorg jy kry geboeg daarvan in? Ons beantwoord al jou vrae oor foliensuur.

Jy weet foliensuur is lewensbelangrik as jy wil swanger raak – jou dokter het jou dit immers op die hart gedruk toe jy laas daar was vir ’n ondersoek. Maar die wagkamer was vol en jou dokter haastig – en jy het nie die vrymoedigheid gehad om rustig met haar te gesels oor die wat, hoe en hoekom van foliensuur nie.

As jy egter nie genoeg foliensuur inkry voor en terwyl jy swanger is nie, kan die gevolge tragies wees. Daarom bekyk ons dié voedingstof vandag met ekstra aandag.

Wat is foliensuur?

Foliensuur is ’n B-vitamien wat ook bekend staan as vitamien B9. Die term foliensuur verwys eintlik na die mensgemaakte vorm van hierdie vitamien – dus soos dit in aanvullings voorkom.

Foliensuur wat in kos voorkom, word folaat genoem, maar eenvoudigheidshalwe praat ons in dié artikel net van foliensuur. Hierdie vitamien word hoofsaaklik in ons lewer geberg vir wanneer die liggaam dit nodig het.

Wat doen foliensuur in 'n mens se liggaam?

Foliensuur is nodig vir die vorming van DNS, die verwerking van proteïene, die verdeling van selle, die vorming van gesonde rooibloedselle in bloed, asook die vorming van oordragstowwe in die brein.

Hoekom is foliensuur so belangrik vir swanger vroue?

Net meer as 20 jaar gelede het wetenskaplikes agtergekom dat foliensuur neuraalbuisdefekte in babas help voorkom. Tussen 50 en 70 persent van hierdie ernstige geboorteafwykings kan met ’n foliensuuraanvulling voorkom word.

Studies wys ook dat foliensuur-aanvullings kan help voorkom dat babas vroeg gebore word. Dit help ook verseker dat jou baba ’n gesonde geboortemassa het.

Wat is neuraalbuis-afwykings?

Wanneer jou baba nog net ’n hopie selle is, vou dit om om ’n buis of kanaal te vorm. Dit word die neuraalbuis genoem en ontwikkel in die ruggraat, rugmurg en brein. As hierdie buis nie heeltemal toegaan nie, noem ons dit ’n neuraalbuis-afwyking.

Neuraalbuis-afwykings is ’n groep afwykings van die brein, ruggraat of rugmurg waarmee babas gebore kan word. Die presiese oorsaak van hierdie ernstige geboorteafwykings is nog onbekend, maar dit lyk of ’n kombinasie van omgewingsfaktore en oorerflikheid daartoe lei.

Vroue wat vetsugtig is, onbeheerde diabetes het of teenepilepsie-medikasie gebruik, het ’n groter kans om ’n baba met ’n neuraalbuis-afwyking te hê.

Wêreldwyd word sowat 300 000 babas elke jaar met hierdie afwykings gebore. Die twee mees algemeenste neuraalbuis-afwykings is spina bifida en anensefalie. Daar is ongelukkig geen genesing voor nie.

Wat is anensefalie?

Dit is ’n afwyking waar die boonste deel van die neuraalbuis nie behoorlik sluit nie. Dit veroorsaak dat die grootste deel van die brein en skedel nie ontwikkel nie. Dit word gekenmerk deur ernstige misvorming van ’n baba se kop en gesig.

Party babas wat dit opdoen, sterf reeds voor of met die geboorte, sowat 70 persent sterf op die eerste dag, en in uitsonderlike gevalle leef hulle ’n paar maande, ’n jaar of selfs drie jaar.

Wat is spina bifida?

Spina bifida is ’n afwyking waar die onderste deel van die neuraalbuis nie behoorlik sluit nie. Dit word gekenmerk deur ’n uitbulting aan die onderkant van ’n baba se ruggraat.

Omdat die harde bene wat die rugmurg moet beskerm nie reg rondom strek nie, word die senuwees en die rugmurg beskadig. Dit lei tot ’n mate van verlamming en ander lewenslange gestremdhede.

Kinders met spina bifida se intelligensie is gewoonlik normaal, maar hulle het dikwels leerprobleme, sukkel met inkontinensie en loop moeilik. Soms kan hulle glad nie loop nie. Hoewel die opening in die rugstring ná geboorte met ’n operasie toegemaak word, sal die skade aan die rugmurg nie herstel kan word nie.

Wanneer moet ek seker maak ek kry genoeg foliensuur in?

Die neuraalbuis van die embrio sluit in die eerste 21 tot 28 dae ná bevrugting. Teen die tyd dat jy uitvind jul bondeltjie vreugde is op pad, is hierdie kritiese deel van jou baba se ontwikkeling reeds feitlik voltooi.

Om seker te maak dat jy genoeg foliensuur het in die eerste 28 dae van swangerskap, is dit belangrik dat jy genoeg foliensuur inneem minstens een maand voor jy swanger probeer raak tot jy 12 weke swanger is.

Omdat baie swangerskappe onbeplan is, is die veiligste uitweg om in elk geval genoeg foliensuur in te kry as jy seksueel aktief is of op die ouderdom is waar jy swanger kan raak. So sal jy seker wees dat daar genoeg foliensuur in jou liggaam is wanneer bevrugting plaasvind.

Wat kan gebeur as ek nie genoeg foliensuur inneem nie?

As jy ’n tyd lank te min foliensuur inkry, sal jy ’n foliensuurtekort ontwikkel. Dit sal simptome soos moegheid of swakheid veroorsaak, wat die gevolg van ’n sekere soort bloedarmoede is. Ander tekens kan aanhoudende diarree of ’n swak immuunstelsel wees.

Onthou egter dat hierdie simptome eers verskyn wanneer die tekort reeds ernstig is. Te min foliensuur in jou liggaam kan ook bydra tot neuraalbuisafwykings by ’n ongebore baba nog lank voor jy self simptome van ’n foliensuurtekort het.

Watter kosse bevat baie foliensuur?

Foliensuur se naam is afgelei van die Latynse woord folium, wat blaar beteken en vir ons ’n leidraad gee oor waarin dit veral voorkom. Lewer en verrykte ontbytkos en ander grane, peulgroente en groente in die algemeen bevat alles baie folaat wat ook maklik opgeneem word.

In Suid-Afrika word alle broodmeel en mieliemeel met onder meer foliensuur verryk. Broodmeel word verryk met 1 240 tot 1 360 μg foliensuur per kilogram, brood met 740 μg per kilogram en mieliemeel met 1 890 tot 1 940 μg per kilogram.

Kosse wat die meeste foliensuur bevat in vergelyking met die hoeveelheid energie wat dit verskaf, is spinasie en ander donkergroen blaargroente, spruite, blaarslaai, aspersies, broccoli, lemoensap, koringkiem, sonneblomsaad, blomkool en kool.

As kos verwerk word, kan tot 90 persent van die folate wat natuurlik daarin voorkom, vernietig word. Folaat is baie sensitief en word maklik vernietig deur hitte, blootstelling aan lug en ultravioletlig. Om seker te maak dat die kosse wat jy eet nog steeds genoeg folaat bevat, moet jy vars vrugte en groente kies, dit sny net voor jy dit eet en dit waar moontlik rou eet. As jy dit gaarmaak, moet jy dit vinnig stoom of roerbraai tot net-net gaar.

Word foliensuur maklik opgeneem?

Die opname van foliensuur is ’n ingewikkelde proses. Dit lyk asof sommige mense ’n probleem êrens in hierdie proses het wat kan lei tot te min foliensuur in hul liggaam. Dit is moontlik een van die redes waarom sommige mense spesifiek meer vatbaar vir neuraalbuisafwykings is.

Alkohol belemmer ook die opname van foliensuur en daarom behoort dié wat gereeld alkohol gebruik, ekstra foliensuur in te neem.

Is dit nodig om 'n aanvulling te drink?

Dit lyk asof selfs vroue wat ’n verskeidenheid kosse eet nie noodwendig elke dag genoeg foliensuur inkry nie, tensy hulle spesifiek daarop fokus om elke dag kos te eet wat baie foliensuur bevat.

As jy wil swanger raak, of reeds swanger is, is dit die veiligste om liewer elke dag ’n aanvulling te drink. Vroue wat reeds ’n baba met ’n neuraalbuisafwyking gehad het, moet elke dag 4 000 μg (4 mg) foliensuur inneem.

Watter aanvulling is die beste?

Jy kan óf ’n aparte foliensuuraanvulling, óf ’n multivitamien spesifiek vir swanger vroue drink. As jy seksueel aktief is en op die ouderdom waar jy kan swanger raak, maar voorbehoeding gebruik, is ’n aparte foliensuuraanvulling voldoende.

Vra jou apteker vir ’n foliensuuraanvulling; dit bevat 500 μg per pilletjie en jy moet dus een per dag drink.

As julle probeer swanger raak, kan jy ’n swangerskap-multivitamien en -mineraalaanvulling drink, wat ook sal help dat jy genoeg van die ander belangrike voedingstowwe inkry ter voorbereiding van jou swangerskap.

Die yster in multivitamiene maak party vroue in die eerste trimester naar. As dit jou oorkom, kan jy dit tot die tweede trimester bêre en net foliensuur drink. Dit help soms ook as ’n mens die multivitamien met slaaptyd eerder as in die oggend drink.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees