Geluk na my hartseer

akkreditasie
Amelia, baba Mikayla, en ouboet Raymond (5), sy ma se steunpilaar.
Amelia, baba Mikayla, en ouboet Raymond (5), sy ma se steunpilaar.
Lizbe Botha
Toe Amelia Language van Centurion, een van ons swangerskap-dagboekma's, in 2012 haar sewe weke oue babatjie verloor het, het al B&K se lesers saamgetreur. Intussen is klein Mikayla gebore en Amelia raak net al liewer vir haar en ouboet Raymond.

Hoe het Jennifer se dood jou as ma verander?

Ek het besef hoe belangrik dit is om my kinders te waardeer. Ná Jennifer se dood was Raymond (nou 5) my steunpilaar. Ek het op hom gefokus, want as jy ’n kind het wat net van jou afhanklik is, móét jy eenvoudig met jou lewe aangaan. Jy kan nie elke dag op ’n hopie sit nie, want dit is wanneer jy alles verloor.

My geloof is vandag sterker as ooit. Ek weet nou waarvandaan ek my krag ontvang. Jennifer se dood het my die seerste seer laat ervaar – geen teleurstelling, nie vriende of enige ander mens wat jy verloor, kan jou seerder maak as om ’n kind te verloor nie. En dít maak van my ’n sterker vrou as wat ek was.

Mikayla het met geboorte nes Jennifer gelyk. Hoe laat dit jou voel?

Met Mikayla (nou 6 maande) se geboorte het Raymond in die hospitaal vir my gevra wat Jennifer daar maak. Dit is hoe baie die twee na mekaar gelyk het. Ek het aan hom verduidelik dat dit sy sussie Mikayla is en dat Jennifer in die hemel is.

Ek kon nie help om Mikayla in die eerste ses weke met Jennifer te vergelyk nie. Jennifer het soms haar regterogie toegetrek en dan met ’n skrefie-ogie na my geloer. Mikayla het, vreemd genoeg, presies dieselfde gedoen.

Ses weke ná Mikayla se geboorte kon ek die twee nie meer vergelyk nie, want Jennifer het nooit ouer as ses weke geword nie.

As Jennifer vandag nog hier op aarde was, sou my vriendelike Mikayla nie deel van ons gesin gewees het nie. Die oomblik toe ek dit besef het, was die gelukkigste én hartseerste oomblik van my lewe.

Jul vriendekring het die afgelope twee jaar aansienlik verander. Vertel 'n bietjie meer.

Ons het eintlik deesdae ’n hele nuwe vriendekring. Die meeste van ons vriende het babas, daarom het hulle ons vermy nadat Jennifer oorlede is.

Ek is seker hulle wou net nie sout in my wonde vryf nie, maar die werklikheid was eintlik dat babas my getroos het. Ek dink ook dat baie van hierdie vriende nie regtig geweet het hoe om die situasie te hanteer nie. En dit is reg so.

Gelukkig, namate ons vriende verloor het, het ons nuwes bygekry. Vandag neem ek niemand kwalik nie, niks of niemand sou die rouproses in elk geval vir my beter of makliker gemaak het nie. Ek moes my eie seer verwerk. Vandag weet ek dat jy absoluut niks vir iemand hoef te sê wat rou nie. Jou nabyheid en teenwoordigheid is al wat die hartseer kan troos.

Hoe voel jy oor inentings?

Jennifer was nog te jonk vir die Prevenarinenting, wat die breinvliesontsteking sou voorkom het waaraan sy dood is. Daar is dus geen manier waarop ons haar dood sou kon gekeer het nie.

Ek vind dit hartseer dat daar mense is wat wel ’n keuse het en kies om hul kinders nie te immuniseer nie. Hoekom moet mense se kinders eers in die hospitaal lê of sterf voor hulle besef die kind moet ingeënt word?

By my haarsalon hoor ek dikwels hoe ma’s teen inentings gekant is. Ek begin sommer al by voorbaat lag, want my assistent laat weet hulle vinnig dat hulle nie sulke nonsens voor my moet kwytraak nie.

Baie mense is oningelig of wil hul kind net teen ’n naald beskerm, maar dit is geen verskoning nie. As jy ’n ma is, het jy ’n verpligting om te luister na jou dokter of iemand wat iets hiervan weet, nie na jou ma of vriendin nie!

Jy het 25kg verloor. Hoe het jy dit reggekry?

Ek was eintlik maar nog altyd aan die maer kant, maar Jennifer se dood het my vreeslik laat eet. Ek het die hartseer probeer weg eet. Ek het ná Jennifer se sterfte ’n miskraam gehad en het net nóg meer geëet. Ek het ook hormoonpille gedrink wat my nog gewig laat aansit het.

Toe Mikayla twee maande oud was, het ek ’n Slender Wonder-dieetprogram gevolg. Ek het ook my leefstyl verander en meer aktief geword. Ek ry deesdae fiets en draf gereeld.

Watter raad het jy vir ma's wat rou oor 'n kind?

  • Maak vrede daarmee dat elke mens op ’n ander manier treur. Ek praat maklik oor Jennifer en wat gebeur het, maar my man, Shaun, verkies dit weer anders.
  • Ondersteun jou man, en hy moet dieselfde met jou doen – al is dit net deur elke dag vir hom te vra hoe hy voel.
  • Jy mag maar hartseer wees as jy hartseer voel. Die dag toe Jennifer ’n jaar oorlede was, het ek feitlik heeldag in die bed gelê met my kop in die kussing gedruk.
  • Praat oor jou kind se dood. Ek is vandag verskriklik dankbaar vir my werk. Ek is ná Jennifer se dood elke dag met vrae van kliënte gekonfronteer.

Party dae was dit die enigste ding waaroor ek die hele dag gepraat het. Om daaroor te kon praat, was my grootste troos.

Jongste uitgawe

Okt 2021 - Jan 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees