VRAAG:

Ek is swanger. Ek wil gesond bly en dit vermy om te veel gewig aan te sit. My gewig is tans gesond vir my lengte. Hoeveel gewig is normaal en wat is te veel?

ANTWOORD:

Anel Kirsten, dieetkundige, antwoord:

Dis normaal om gewig aan te sit terwyl jy swanger is. Nuwe navorsing ondersteun egter die gedagte dat gewigtoename streng dopgehou moet word omdat ’n te groot toename vir sowel ma as baba sleg kan wees. As ’n swanger vrou te veel gewig aansit, verhoog haar risiko vir swangerskapsdiabetes, hoë bloeddruk en preëklampsie, asook moontlike geboortekomplikasies. Daar is ook ’n groter kans dat baba met ’n keisersnee gebore word, met moontlike komplikasies vir ma soos wondinfeksie en swak wondgenesing.

In navorsing wat in Augustus 2017 bekend gemaak is, is gewys dat ’n mens se gewigtoename voor 24 weke van swangerskap ’n invloed op baba se grootte met geboorte het. Die babas van vroue wat te veel gewig aansit, se kans om met geboorte groter as normaal te wees, is 2,5 keer groter. Dit verhoog die baba se kans om later vetsugtig te wees met 40 persent.

’n Ma wat te veel gewig aansit terwyl sy swanger is, word ook deur risiko’s in die gesig gestaar: vetsug, hoë cholesterol en diabetes wanneer sy ouer is. Altesaam 35 tot 60 persent van vroue wat swangerskapsdiabetes gehad het, kry 10 tot 20 jaar later volbloed-diabetes.

Die Amerikaanse instituut vir geneeskunde het in 2009 riglyne opgestel vir hoeveel gewig ’n mens in swangerskap behoort aan te sit. Dit word in ’n groot mate deur jou liggaamsmassaindeks (LMI) voor jou swangerskap bepaal (kyk na die kassie hieronder). As jy ’n tweeling verwag, is die aanbeveling ’n totale gewigstoename van 17,5 tot 22,5 kg, met ’n gemiddeld van 750 g per week in die tweede en derde trimester.