Hoewel syfers wys dat amper een uit elke vyf vroue tydens swangerskap bloei, word die meeste van daardie vroue die ma van ’n gesonde, gelukkige baba. Maar gebeur dit met jou, skrik jy jou morsdood.

Bloeding is nie ’n seker teken van rampspoed nie, maar dis tog belangrik om jou dokter of mediese versorger onmiddellik te raadpleeg as jy bloei terwyl jy swanger is. Vaginale bloeding kan gereeld in die eerste trimester voorkom sonder dat daar werklik probleme is. Bloeding in die tweede en derde trimester kan egter ’n teken van komplikasies wees.

Bloeding in die eerste trimester

Sowat 15 tot 25 persent van vroue bloei aan die begin van hul swangerskap. Dit dui gewoonlik nie op gevaar nie, maar jou dokter moet daarvan weet.

Twee minder ernstige oorsake is deurbraakbloeding en inplantasiebloeding. Deurbraakbloeding ontstaan wanneer jou menstruele siklus ’n bietjie deurmekaar raak en jy bloei wanneer jy sou gemenstrueer het.

Implantasiebloeding is ligte bloedkolletjies wat ’n dag of twee kan voorkom terwyl die bevrugte eier aan die baarmoederwand vasheg.

Ligte bloedkolle kan ook ná seks verskyn omdat die serviks teer en vol bloedvate is – dit kan enige tyd gedurende jou swangerskap gebeur en jy hoef jou glad nie daaroor te kwel nie. Oor die algemeen geld die volgende reël: Bruin bloed (wat beteken dat dit “ou bloed” is) en bloeding wat niks meer as twee kleinerige sanitêre doekies vol maak nie, behoort nie gevaartekens te wees nie.

As jy dus agterkom jy bloei, gebruik ’n sanitêre doekie sodat jy kan monitor hoeveel jy bloei en watter soort bloeding dit is. Moenie ’n tampon gebruik, iets anders in jou vaginale area insteek of seks hê wanneer daar bloeding is nie.

Vars bloed met klonte of enige bloeding wat met buikpyn of krampe gepaard gaan, is ernstiger en kan ’n teken van vroeë miskraam of ’n ektopiese of molêre swangerskap wees.

’n Molêre swangerskap is seldsaam, maar ontstaan wanneer ’n embrio nie behoorlik ontwikkel nie en sommige van die baarmoederselle abnormaal aanhou groei. ’n Ektopiese swangerskap beteken die embrio het buite die baarmoeder vasgeheg, gewoonlik aan die wand van ’n eierstok. Dit kom in een uit 60 swangerskappe voor.

Vir jou eie veiligheid sal sowel ’n ektopiese as molêre swangerskap so vinnig moontlik in ’n operasie verwyder moet word.

Bloeding kan ook ’n teken van ’n onderliggende toestand wees wat behandeling en spesiale dophou regdeur
jou swangerskap nodig gaan hê. Dit kan insluit ’n ontsteekte serviks, vaginale infeksie, ’n niekwaadaardige vergroeisel in die serviks, ’n ¬broïed of selfs een van ’n tweeling wat “verdwyn” het. Laasgenoemde is meer algemeen wanneer jy vrugbaarheidsbehandeling ondergaan het en meer as een embrio ingeplant is.

Dié toestande sal nie inmeng met die gesonde vordering van jou swangerskap nie, solank jy goed dopgehou word.

Is my baba veilig?

Dis moeilik om te voorspel of bloedkolletjies of bloeding ’n miskraam gaan word. Sommige faktore hou groter verband met miskrame as ander en dit sluit in:

  • Toenemende swaar bloeding
  • Jy is onder 25 of bo 35 – dan is jou risiko vir ’n miskraam groter
  • Jy rook of is aan passiewe rook blootgestel
  • Jy het ’n geskiedenis van miskrame

Praat met jou arts

Ja, daar is risiko’s wat met bloeding verbind word, maar wanneer jou geboortespan jou swangerskap goed monitor, kan hierdie risiko’s vroeg reeds raakgesien word. As daar iets is wat jou bekommerd maak, kan jy dit gerus met jou dokter of vroedvrou bespreek.

So angswekkend soos dit dalk klink, is bloeding of bloedkolle dikwels ’n skadelose misterie. Baie vroue wat bloei dra hul baba enduit. Sowat die helfte van vroue wat in die eerste trimester om hulp gaan aanklop omdat hulle bloei, skenk die lewe aan gesonde babas.

Bloeding in die tweede of derde trimester

Minder gevaarlike, maar algemene toestande wat jou in jou tweede trimester kan laat bloei, sluit in ’n ontsteekte serviks of vergroeisels op die serviks.

Ernstiger toestande sluit in placenta praevia, placenta abruptio en ’n vroeë geboorte. Dit is dus baie belangrik om so gou moontlik by jou dokter uit te kom as jy in die tweede of derde trimester begin bloei, want die gevaar vir jou en jou baba is groter.

Placenta praevia ontstaan wanneer die plasenta die opening van die serviks gedeeltelik of heeltemal versper en kom voor in een uit 200 swangerskappe. ’n Vaginale geboorte kan dan nie plaasvind nie omdat die vrugwatersak in die baba se pad is. As dit nie vroeër met ultraklankskanderings opgelet is, nie, kan placenta praevia voorkom as helderrooi bloeding in die derde trimester, sonder enige pyn.

Dis ’n baie ernstige toestand en moet onmiddellik aandag geniet. Vroue wat ’n hoër risiko vir placenta praevia het, ...

  • ¬het reeds kinders gehad,
  • het voorheen ’n keisersnee gehad,
  • het al ’n baarmoederoperasie ondergaan, en/of
  • verwag ’n meerling.

Placenta abruptio kom voor wanneer die plasenta van die baarmoederwand losskeur, wat vaginale bloeding en buikpyn veroorsaak. Dit kom slegs 1 persent van alle swanger vroue oor en gebeur gewoonlik binne die laaste 12 weke van die swangerskap. Dis ’n ernstige toestand en as dit na aan jou verwagte geboortedatum is, sal jou dokter moontlik ’n keisersnee aanbeveel om die baba dadelik te verlos.

Bloeding in die laaste fase van jou swangerskap kan ook ’n teken wees dat jou liggaam gereed maak om te kraam. As jy ná 37 weke bloedkolletjies sien, is dit heel moontlik net ’n teken dat jou serviks besig is om te versag en selfs te ontsluit.

Jy kan dalk ’n bloederige slymuitskeiding opmerk – dis deel van die slymprop wat jou serviks geseël het en wat nou besig is om los te kom. Dit word ’n geboorteteken genoem en dui daarop dat kraam binnekort gaan begin.

As jy voor 37 weke dié en ander kraamsimptome het, kan dit beteken dat jy te vroeg begin kraam. Kontak jou dokter, vroedvrou en die kraameenheid van jou keuse dadelik.

Onthou ook dat as jou bloedgroep Rhesus-negatief is en jy in die tweede of derde trimester ’n vaginale bloedafskeiding sien, jy ’n anti-D-immunoglobulieninspuiting nodig gaan hê om te voorkom dat jou en jou baba se bloed onversoenbaar is. As die pa van jou baba ook Rhesus-negatief is, is die inspuiting nie nodig nie.