Help 'n bietjie, Dok!

akkreditasie
Soms moet die dokter met geboorte ingryp om jou en jou kleinding se gesondheid te verseker. Ons vertel jou wat jy dan kan verwag.

Ingryping is gewoonlik nodig wanneer komplikasies in die tweede fase van kraam (wanneer jy jou baba moet begin uitdruk) ontstaan. Jou dokter het dan ’n keuse tussen ’n vaginale geboorte met behulp van instrumente soos ’n tang of suiers, of ’n noodkeisersnee. Hy kan ook ’n episiotomie doen om sake te vergemaklik.

Die 'knip'

’n Episiotomie behels dat jou dokter met ’n chirurgiese skêrtjie ’n snytjie maak in die perineum – die streek tussen die vagina en anus – om die vaginale opening te vergroot sodat jou baba makliker daardeur kan beweeg.

Dit word gewoonlik gedoen sodra baba se koppie begin kroon, wanneer dit lyk asof die perineum nie genoeg kan rek om sy kop deur te laat nie en dus erg kan skeur. Die episiotomie word ná die geboorte met selfoplosbare stekies geheg.

Wanneer word dit gedoen?

Episiotomie kan nodig wees wanneer jou perineum nie soepel genoeg is om wyd te rek nie en dit duidelik is dat jy op verskeie plekke gaan skeur; wanneer jou baba se kop te groot is vir die vaginale opening of die dokter meer ruimte nodig het om jou groot baba te manipuleer; wanneer jy weens byvoorbeeld epidurale verdowing nie jou drukaksies kan beheer om baba meer geleidelik uit te druk nie; of wanneer jou baba in die nood is en so gou moontlik gebore moet word.

Dit kan ook nodig wees tydens ’n tangverlossing sodat die dokter plek het om die tang te posisioneer, of as jou baba in ’n stuitposisie lê.

Riskio's en newe-effekte

Vroue wat ’n episiotomie kry, is geneig om meer bloed tydens die bevalling te verloor. Herstel kan ook pynliker wees. Jy kan agterna gevoelig en seer wees en die stekies kan dit ongemaklik maak om te sit. Soutbaddens of ultravioletligte wat op die wond geskyn word, kan herstel aanhelp. Vir sommige vroue is seks sowat drie maande lank ongemaklik of pynlik, en party kan selfs vir altyd hiermee sukkel.

Wat jy moet weet

Daar was ’n tyd toe episiotomieë ’n roetine by byna alle geboortes was om skeuring te voorkom en die geboorte te versnel. Daar is geglo dat die skoon snit van ’n episiotomie makliker geheg word en beter herstel as ’n skeur.

Verskeie studies het egter intussen die teendeel bewys. Deesdae meen kenners dat vroue liefs toegelaat moet word om natuurlik te skeur, aangesien baie vroue glad nie skeur nie of net baie klein skeurtjies opdoen. In sowat 3 tot 4 persent van geboortes skeur die vagina egter reg deur tot by die anus.

Skeuring kan voorkom word deur na links of regs van die anus te knip en nie direk in die rigting van die anus nie.

Verlossing met 'n tang

Met ’n tangverlossing sal jou dokter ’n tang – wat verdag baie herinner aan daardie groot tange wat jy vir slaai gebruik! – inspan om jou baba in die tweede fase van kraam te help om deur die geboortekanaal te beweeg.

Die arts sal eers ’n interne ondersoek doen om die posisie van baba se koppie vas te stel, daarna waarskynlik ’n episiotomie uitvoer, en dan die twee kante van die tang versigtig in die vagina aan weerskante van baba se kop plaas.

Jy en die dokter sal moet saamwerk om baba te help uitkom. Baba word sagkens aan sy koppie getrek vir 30 tot 40 sekondes op ’n slag tot die koppie op die perineum afdaal. As die koppie uit is, vind die res van die geboorte normaal plaas.

Wanneer word dit gedoen?

’n Tangverlossing word gewoonlik ingespan wanneer jy te moeg is om hard genoeg te druk om die baba uit te kry of as jou kontraksies verminder het of ondoeltreffend is; as jou baba in die nood is en nie genoeg suurstof kry nie; as jou baba so lê dat dit vir hom moeilik is om uit te kom (soos met sy gesig na bo); of as jou baba vroeg of siek is en jy vinnig die lewe moet skenk.

Risiko's en newe-effekte

In die ou dae is diep tange gebruik wat baba kon seermaak, maar deesdae verkies dokters uitgangstange wat baba baie minder manipuleer.

Wat jy moet weet

Jou baba kan kneusplekke of ’n merk aan elke kant van sy kop hê waar die tang vasgeknyp het, maar dit sal ná ’n ruk verdwyn. Die kans is groter dat jy kan skeur en jy kan agterna dalk gekneus en seer wees. Jy kan ook dalk later in die lewe meer blaasprobleme hê as in die geval van ’n suierverlossing.

Verlossing met 'n suier

Met ’n suierverlossing word ’n klein silikoon- of metaalbekertjie wat aan ’n vakuumapparaat gekoppel is, teen baba se koppie geplaas en laat vassuig. Baba se kop moet reeds gedeeltelik in die laaste deel van die geboortekanaal wees voor ’n suierverlossing kan plaasvind.

Terwyl jy druk, trek die dokter sagkens sodat baba met die geboortekanaal af getrek word. Dikwels is die idee meer om te keer dat baba tussen die drukslae in die geboortekanaal terugglip eerder as dat hy uitgesuig word.

Wanneer word dit gedoen?

Wanneer die tweede fase van geboorte lank duur; jou drukpogings ondoeltreffend is; jou baba vinnig verlos moet word weens asemnood of stres; of jou baba effens verkeerd geposisioneer is. ’n Suierverlossing is net ’n hulpmiddel en kan help om baba se koppie te laat draai of die drukrefleks aan die gang te sit.

Risiko's en newe-effekte

Daar word gemeen dat ’n suierverlossing vir jou beter is, terwyl ’n tang beter is vir baba. Jou baba se koppie kan swel waar die suier vas was sodat hy soos ’n klein Marsman lyk. Dis gewoonlik onskadelik en sal ná ’n dag of twee verdwyn.

Wat jy moet weet

’n Suierverlossing vergroot jou risiko vir skeur, maar die kans is kleiner as met ’n tangverlossing. Jy kan agterna seer en gekneus voel en dit kan langer duur om ná die geboorte te herstel as wanneer daar geen ingryping was nie.

Noodkeisersnee

’n Noodkeisersnee is die verwydering van baba uit die baarmoeder deur ’n snit wat op jou laer buikarea dwarsdeur die vel, buikwand en baarmoederwand gemaak word.

As jy reeds epidurale verdowing het, is geen verdere verdowing nodig nie, maar daarsonder kan verdowing soos narkose oorweeg word, afhangend van hoe dringend die ingryping is.

Wanneer word dit gedoen?

’n Noodkeisersnee is gewoonlik die laaste uitweg. Dit word gedoen wanneer normale geboorte nie moontlik is nie, byvoorbeeld wanneer die baba se kop te groot is vir die ma se bekkenopening; die baba in ’n stuitposisie lê; die baba sywaarts lê; die plasenta die serviks versper; met ’n naelstring-prolaps; of as die baba nie genoeg suurstof deur die plasenta kry nie.

Dis ook ’n moontlikheid as baba nog nie diep genoeg in die geboortekanaal afgedaal het vir ’n tangof suierverlossing nie.

Risiko's en newe-effekte

Jou hersteltyd kan langer wees as ná ’n normale geboorte en jy sal langer in die hospitaal moet bly. Veral as jy reeds in die tweede stadium van kraam is, is ’n keisersnee ’n baie moeilike verlossing met groter risiko’s soos blaasbeserings, skeure aan die baarmoeder en bloeding ná die verlossing van die baba.

Wat jy moet weet

Dit bly ’n groot operasie met gepaardgaande risiko’s soos infeksie. As jy narkose kry, sal jy nie onmiddellik kan borsvoed nie en ongelukkig ook jou baba se geboorte misloop.

As jy enige stories het wat jy graag saam met Baba & Kleuter wil deel, stuur dit na web@babaenkleuter.co.za

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees