Hoe later, hoe kwater

akkreditasie
Baba's is 'n beitjie soos die towenaars wat in The Lord of the Rings beskryf word: " ' Towenaar is nooit laat nie en ook nooit vroeg nie. Hy arriveer presies op sy tyd." Maar vra 'n vrou wat al meer as 40 weke swanger is en sy sal jou sê haar baba is laat.

Tradisioneel duur ’n voltermynswangerskap 38 tot 42 weke. Maar wat gebeur as jy oor 40 weke loop? Is daar voordele of nadele aan verbonde? En behoort jy en jou dokter iets daaraan te doen? Ons het die kenners gevra.

Die laaste paar weke van ’n swangerskap voel vir die meeste vroue soos ’n ewigheid. Behalwe dat die aanstaande ma nie meer kan wag om haar kleinding te ontmoet nie, raak vroue ook fisies uitgeput.

Dit is dus g’n wonder dat die idee van iets wat jou kraamproses so ’n bietjie kan aanhelp, nogal ’n aanloklike een begin word nie. Maar, waarsku kenners, induksie van kraam is beslis nie iets wat om sosiale redes gedoen moet word nie.

Daar is boonop ook baie voordele vir jou baba as hy langer as 38 weke in die baarmoeder bly. In die Mei 2013-uitgawe van die gesaghebbende joernaal Pediatrics is navorsing gepubliseer wat dit bevestig.

Daar vind veral belangrike ontwikkelings in die brein plaas in die laaste paar weke, aldus die navorsers wat aan hierdie studie gewerk het.

Vir elke bykomende week in die voltermyn-venster (dit is tussen 38 en 41 weke), het die eenjariges wat getoets is, effens beter gevaar op die gebied van breinontwikkeling.

Hulle liggaamlike beweging en koördinasie blyk ook beter te gewees het hoe langer hulle in die baarmoeder gebly het. Die navorsing het geboortegewig, geslag, sosiaal-ekonomiese faktore en huislike omstandighede ook in ag geneem.

Medici beklemtoon egter dat uitslae van studies soos dié nie ten doel het om ma’s wie se babas om gesondheidsredes vroeër verlos moes word, angstig te maak nie.

Dit is wel ’n ondubbelsinnige waarskuwing aan ouers en dokters wat deel is van die groeiende neiging om babas voor of op 38 weke om sosiale redes te verlos.

Risiko's van 41+ weke

Die kans vir doodgeboorte is groter wanneer babas teen week 42 nog in die baarmoeder is. Daar is egter nog geen betroubare manier gevind om te voorspel watter spesifieke babas dit is wat ’n groter kans het nie.

Só lyk die statistiek nietemin: Teen 40 weke is die risiko vir doodgeboorte 2 tot 3 per 1 000 babas en teen 42 weke styg dit na 4 tot 7 per 1 000 babas. Dokters meen ook die plasenta begin agteruitgaan vanaf die 41ste week.

Die amniotiese vloeistof raak minder en die baba loop ’n hoër risiko om probleme te ontwikkel met die metabolisme van glukose. Jou dokter behoort dus ’n induksie te doen as jou baba teen week 41 nog nie sy opwagting wil maak nie.

Hoe werk induksie?

Kraam word gewoonlik geïnduseer deur die vrugwatermembraan te breek en sintetiese oksitosien – wat die ware Jakob naboots – vir die aanstaande ma gegee. Die oksitosien, wat deur middel van ’n binne-aarse drup gegee word, laat die sametrekkings bykans onmiddellik begin.

Jou dokter behoort egter voor sy enigiets doen, eers vas te stel of jou serviks al ryp genoeg is vir kraam. ’n Vaginale ondersoek sal dit bevestig. As die serviks nog nie sag is en afgesak het nie, kan jy nie suksesvol natuurlik kraam nie.

In sulke gevalle sal jy eers ’n vaginale setpil kry. Hormone in dié setpille maak die serviks sag. Dit is soms nodig dat ’n vrou ’n tweede dosis van die setpil moet kry om die kraamproses verder aan te moedig as die eerste setpil nie die ding gedoen het nie.

Jy sal in die hospitaal moet bly ná die toediening hiervan sodat jou baba se hartklop en jou (moontlike) kontraksies gemonitor kan word.

Sodra jou serviks sag en oop genoeg is, sal ’n instrument wat soos ’n reuse hekelpen lyk, gebruik word om jou water te breek.

Sametrekkings kan kort hierna begin aangesien die baba se kop nou moontlik harder op die serviks druk. Die kunsmatige oksitosien sal ook toesien dat die sametrekkings begin.

Soms gebruik dokters ook hormoontablette wat die vrou bloot kan sluk om sametrekkings te laat begin. Die tablette word gewoonlik op hul eie gebruik, maar kan ook saam met die breek van vliese, soos hierbo verduidelik, gedoen word.

Goeie fetale monitering is van die allergrootste belang tydens ’n induksie. ’n KTG- (kardiotokografie) monitor, wat met twee bande aan jou buik vasgemaak word, is baie belangrik. Díe masjien skop voortdurend ’n grafiek met inligting oor jou sametrekkings en baba se hartklop op ’n klein skermpie uit.

Dit is ewe waardevol om ook ’n vroedvrou vir die duur van die proses byderhand te hê wat gereeld die sametrekkings op jou maag kan voel.

Induksie of nie?

Volgens professor Lut Geerts, hoof van Verloskunde en Ginekologie se Ultraklank- en Fetale Medisyne-eenheid by die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad, is die volgende goeie redes vir induksie van kraam:

  • Jou baba is klein vir sy datum (of het opgehou groei teen die verwagte tempo) met abnormale Doppler-bevindings.
  • Jy het pre-eklampsie.
  • Dit is ’n tweeling-swangerskap.
  • Jy het al ’n doodgeboorte gehad.
  • Jy het diabetes.
  • Dis twee weke ná jou verwagte datum.
  • Jou water het gebreek, maar die sametrekkings het nie begin nie.

Professor Geerts voeg by dat die swangerskapsduurte vir induksie vir al hierdie verskillende redes baie kan verskil. Volgens haar is die verkeerde redes vir induksie:

  • “Ek is moeg en ongemaklik.”
  • “Ek kan nie meer wag nie.”
  • “Ek het dit in my vorige swangerskap ook gehad.”
  • “Ek hou daarvan om beheer te hê oor wat met my gebeur.”
  • “Ek hou nie van die onverwagse/onbekende aspek van die normale begin van kraam nie.”
  • “Ek wil op ’n spesifieke dag kraam omdat dit saamval met my pa se vejaardag of omdat my ginekoloog nie die naweek aan diens is nie.”
  • “Ek dink ek sal makliker kraam omdat die baba nou kleiner is as wanneer ek wag tot ek self in kraam gaan.”

Het jy ’n sê?

Professor Geerts sê: “Omdat induksie verkieslik nie net om sosiale redes of persoonlike voorkeure uitgevoer moet word nie, is dit nie eintlik iets wat ’n pasiënt van ’n dokter moet versoek nie. Wanneer die dokter dit voorstel, moet jy egter seker maak wat sy of haar redes daarvoor is, en dat dié rede wel ’n mediese een is en nie net omdat dit jou dokter beter gaan pas nie.”

Wat as jy nog ’n bietjie wil uithou? Jy as ma het die reg om die beëindiging van ’n swangerskap te weier as jy graag natuurlik wil begin kraam, maar dan moet jy bykomende monitering (soos ultraklank-skanderings, hartklop en baba se beweging) ondergaan om te verseker alles is nog pluis met jou baba. As daar enige kwellinge oor jou baba se gesondheid is, sal kraam geïnduseer word.

Algemene risiko's van induksie

Hoewel induksie van kraam relatief veilig is en beslis ’n regmatige plek in die verlossing van babas het (soos reeds verduidelik), is daar tog ’n paar algemene risiko’s verbonde aan hierdie prosedure.

Volgens professor Geerts is kraam ná induksie in vergelyking met kraam wat spontaan begin, gewoonlik langer, pynliker (hoofsaaklik omdat die baarmoeder harder moet werk aan ’n groter aantal sametrekkings oor ’n langer tydperk) en ingewikkelder. “Dit verhoog ook die kans op ’n instrumentverlossing (soos met ’n tang of suier) en ’n keisersnee.”

Vrouens wat ’n vaginale geboorte na ’n keisersnee (VGNK) oorweeg, moet weet dat ’n induksie nie aanbeveel word nie omdat dit te veel stremming op die baarmoederwand plaas en die gevaar van skeur vergroot.

Wakker kraam só aan

Ons het professors Geerts gevra oor ander planne wat jy eers kan maak om kraam aan die gang te kry voor ’n mediese induksie oorweeg word.

Haar raad is: “Bly aktief, rus genoeg, eet gesond en wees positief. Besef ook die waarde daarvan om die natuur sy gang te laat gaan (as jy ’n ongekompliseerde swangerskap het). Beskou jou geduld as jou groot persoonlike bydrae tot die veilige aankoms van jou baba in hierdie wêreld en in jou gesin.

“Beskou dit ook as ’n belangrike stap in jou toewyding om ten alle tye die beste te wil doen vir jou baba en, indien nodig, die baba se behoeftes voor joune te stel.”

Niemand weet presies wat dit is wat die kraamproses laat begin nie. Dit is dus moeilik om vir swanger vroue raad te gee oor wat om te doen om kraam aan te hits. Om ’n lakseermiddel soos kasterolie te drink is nie veilig nie en moet beslis vermy word.

Daar is ook nog geen goeie bewyse gevind dat seks kraam aan die gang kan sit nie.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees