Hoe veilig is Arnica-olie tydens swangerskap?

akkreditasie
Dr. Jana Mostert gee raad oor die gebruik van Arnica-olie tydens swangerskap.

Ek is 28 weke swanger. Ek het my arm pimpel en pers gestamp en sou voor my swangerskap Arnica-salf aangesmeer het. Ek het iewers gelees dat ek nou geen Arnica-middels mag gebruik nie omdat dit my baarmoeder kan laat saamtrek. Is dit waar? Mag ’n mens dit dan nie tydens swangerskap gebruik nie? My vroedvrou het dit aanbeveel vir ’n keisersneewond ná die swangerskap. Mag ek dit gebruik wanneer ek borsvoed?

Dr. Jana Mostert antwoord:

Arnica is ’n wonderlike medisyne vir kneusplekke en spiere wat te hard gewerk het. Dit word dus baie gebruik deur atlete ná lang oefensessies, en is baie nuttig ná operasies soos mangelverwydering en die trek van tande.

Sommige Arnica-sterktes kan die bloed effens laat verdun, dus moet dit liewer nie kort voor operasies gebruik word nie, maar eers net nadat die operasie verby is.

Arnica-olie is ook heel anders as die homeopatiese middel Arnica. Dit kom wel van dieselfde plant af, maar het effense verskillende gebruike: Arnicaolie bevat Arnica-kruie-ekstrak en moet liewer nie aangewend word waar die vel stukkend is nie. Homeopatiese Arnica word mondeliks geneem, werk meer sagkens en het minder newe-effekte.

Ek sal dus die homeopatiese middel eerder as die olie vir swanger en borsvoedende vroue voorskryf. Arnica is nie een van die middels wat die baarmoeder laat saamtrek nie. Bly liewer weg van te veel salietee en essensiële roosolies, want dit tas wel die baarmoeder aan.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees