Jou swangerskap is een van die opwindendste tye van jou lewe, maar nie noodwendig altyd die gemaklikste tyd nie. Onthou egter dat al die skete wat jou teister eintlik goeie tekens is, want hulle wys dat jou nuwe baba gesond ontwikkel. Volg die wenke hieronder om die minder lekker dae te trotseer.

NAARHEID

Swangerskapsverwante hormone is die eintlike sondaars, hoewel vroue met ’n tekort aan voedingstowwe meer tot naarheid geneig is. Jou hormoonlading skiet in week nege en 10 die hoogte in en dis gewoonlik wanneer vroue op hul slegste voel. Naarheid kan ook jou liggaam se manier wees om van gifstowwe ontslae te raak. Sowat die helfte van swanger vroue voel naar, veral soggens, maar troos jou daaraan dat dit gewoonlik ná die eerste trimester verdwyn.

Wenke

  • Eet gesonde kos waarvan jy hou. As jy nog nooit van broccoli gehou het nie, is die kans skraal dat jy nou daaraan gaan begin smul. Eet gereeld, want dit laat jou bloedsuiker stabiliseer.
  • Swanger vroue het meer vitamien B6 en B12, foliensuur, yster en sink as normaalweg nodig en te min sink kan jou naar laat voel. As jy baie opgooi, kan jy ook ’n magnesiumtekort ontwikkel. Praat met jou dokter oor aanvullings.
  • Sommige swanger vroue sweer by ’n Provita of Mariebeskuitjie sodra hulle soggens wakker word. Drink baie vloeistowwe, veral water.
  • Gemmer is ’n krui wat naarheid teenwerk. Skop die dag dus af met gemmertee – dit is ook ryk aan sink – of eet ’n gemmerkoekie as ’n peuselhappie.
  • Die homeopatiese middel Magen-druppels bied veilige verligting van naarheid. Kry dit by jou apteek.

HOOFPYN

Vroue wat nooit voorheen hoofpyn gekry het nie, kla dikwels tydens swangerskap daarvan. Hoofpyn vroeg in die swangerskap is gewoonlik nie so ernstig nie, maar dié wat in die tweede en derde trimester voorkom, moet in ’n ernstiger lig beskou word.

Wenke

  • Beproef die weefselsout Mag Phos. Drink minstens drie keer per dag twee pilletjies, gevolg deur ’n warm drankie soos rooibostee.
  • Plaas ’n koel waslap op jou voorkop.
  • Parasetamol soos Panado is veilig, maar raadpleeg eers jou dokter.
  • Probeer om meer te rus met die gordyne toegetrek en ’n ligte kussing oor jou voorkop en oë.

SOOIBRAND

Tot 80 persent van swanger vroue ly aan sooibrand. Dit ontstaan omdat buikspiere rek en die kleppie tussen die slukderm en maag ’n bietjie oopgelaat word pleks daarvan om soos gewoonlik dig te sluit. Die vloeistowwe in die maag stoot dan in die slukderm op en dit veroorsaak sooibrand. Dit word ongelukkig erger namate jou swangerskap vorder.

Wenke

  • Probeer om nie kort voor slaaptyd te eet nie en vermy veral saans ná ses groot etes.
  • Slaap op twee of meer kussings om jou bolyf effens te lig.
  • Die meeste teensuurmiddels soos Gaviscon vir swanger vroue is veilig, maar moenie te veel gebruik nie omdat jy reeds tot meer alkaliniteit geneig is.
  • Beperk jou inname van skerp, vetterige en ryk kos.
  • Gebruik die homeopatiese middel Magen-druppels en die weefselsout Nat Phos.

JEUGERIGE VEL

’n Mens se maag, borste en sitvlak jeuk dikwels as jy swanger is. Sommige vroue kla selfs dat hul labia, boarms en bobene jeuk. Dit word toegeskryf aan die vel wat rek en hormoonveranderinge. Die gejeuk is nie ernstig nie, maar irriterend.

Wenke

  • Drink die weefselsout Nat Mur drie keer per dag.
  • Gebruik spesiale rome vir swangerskap en olies soos Bio-Oil.
  • Voeg ’n pot rooibostee en ’n hand vol koeksoda by jou badwater om jou vel te streel.

HARDLYWIGHEID

Progesteroon speel ’n baie belangrike rol in jou swangerskap, maar ongelukkig vertraag dit ook die peristaltiese bewegings van jou derm. Hardlywigheid is dus ’n algemene swangerskapskwaal. Baie swangerskapsaanvullings kan ook hardlywigheid veroorsaak. Moenie lakseermiddels gebruik terwyl jy swanger is nie, aangesien baie nie geskik is nie.

Wenke

  • Sorg dat jy gereeld oefen. Gaan stap vinnig en ver en drink baie water. Drink ’n koppie afgekoelde kookwater wanneer jy soggens opstaan en saans net voor jy gaan slaap. Eet baie vesel en minstens vyf vrugte per dag.
  • Gebruik ’n aanvulling van ’n omega 3-ryke olie soos lynolie, vlasolie of visolie as jou stoelgang droog en krummelrig is.
  • Segiro-druppels is veilig.

AAMBEIE

Aambeie is ’n vorm van spatare in die rektum en anale gebied. Dit kom voor as ’n los velaanhangsel of selfs druifagtige trossies wat by die anus uitsteek. Die belangrikste oorsake is die ekstra gewig wat jy dra en wat druk in die bekken veroorsaak. Hardlywigheid is ook ’n oorsaak. Aambeie moet behandel word om te keer dat dit erger word terwyl jy kraam.

Wenke

  • Eet gereeld vrugte en vesel om hardlywigheid te voorkom.
  • Gebruik die weefselsoute Calc Fluor en Ferrum Phos om die bloedvatwande meer elasties en sterker te maak.
  • Jy kan Anethaine, ’n aambeisalf, aanwend. Probeer om nie onnodig gewig aan te sit nie omdat dit ook aambeie veroorsaak.

SWELLING

Geswelde bene en matige waterterughouding is algemeen tydens swangerskap en gewoonlik glad nie so ernstig nie. Swelling kan verskeie oorsake hê – jou bloedvolume en bloedvatnetwerk neem geweldig toe en die verhoogde vloeistoflading van die liggaam kan lei tot ernstige vloeistofterughouding in die liggaamsweefsels. Dit word vererger deur die druk waaronder jou bloedsomloop verkeer as gevolg van die gewig van die swangerskap op die belangrike bloedvate in die buik, wat die bloedvloei minder doeltreffend as gewoonlik maak. Die hart moet baie harder werk om die verhoogde volume na die hande en voete te pomp, met die gevolg dat dié dele die meeste geraak word en dat bloed daar versamel.

Wenke

  • Gaan stap elke dag minstens ’n halfuur flink, veral as jy weens jou werk baie staan of sit.
  • Gebruik die weefselsoute Nat Mur en Nat Sulph om die vloeistofvlak in jou liggaam in balans te help hou. Sluk een pilletjie drie keer per dag.
  • Rus genoeg en lig jou voete of week dit in koue water om die swelsel en pyn te verlig.

TOE NEUS

Sommige vroue sweer hul neus verstop die oomblik dat hulle hoor hulle is swanger – en dit is heel moontlik as gevolg van waterterughouding of opgeswelde asemhalingsvliese weens al die ekstra vloeistof in jou liggaam. Sommige vroue neem meer suiwel- en graanprodukte in tydens swangerskap en dit kan ook die oorsaak van hul toe neus wees.

Wenke

  • Gebruik die weefselsoute Nat Mur en Nat Sulph om die vloeistofbalans in die weefsels te help reguleer en die verstopping van die neusgange te verlig. Neem een tablet van elk drie keer per dag.
  • Beproef ook die homeopatiese neussproei Nasenol. ’n Neussproei soos Iliadin is ook veilig in jou swangerskap, maar mag nie langer as vyf dae aaneenlopend gebruik word nie omdat dit dan ’n teenoorgestelde uitwerking kan hê. 
Die oorsake van aambeie tydens swangerskap is die ekstra gewig wat jy dra wat druk in die bekken veroorsaak.