Soms is dit nodig om ’n bevalling kunsmatig aan die gang te skop as die liggaam dit nie self wil doen nie. Dit word induksie genoem en behels dat jou kontraksies aangewakker word sodat jy kan begin kraam en steeds ’n vaginale geboorte kan hê. Soms is induksies die veiligste opsie wanneer jy die lewe moet skenk. Dit is egter nie ’n metode wat ontwerp is om die geboorte makliker te maak nie. As ’n baba slegter begin groei – soos wanneer die plasenta uitgedien raak – is die risiko groot genoeg om ’n induksie te noodsaak. As jy diabetes of hoë bloeddruk het, of die gevaar bestaan dat jou baba onverwags in die baarmoeder kan sterf, word dit ook as genoeg rede vir ’n induksie beskou. Dieselfde geld vir ’n swangerskap wat veel langer duur as wat veilig is. Die meeste ginekoloë beskou 41 weke as ’n goeie tyd om ’n swangerskap te beëindig, selfs al gaan alles goed. Jy as ma het egter altyd die reg om die beëindiging van ’n swangerskap te weier as jy graag natuurlik wil begin kraam. As dít die pad is wat jy kies, moet jy in gedagte hou dat jy ekstra fyn dopgehou sal word om seker te maak alles bly pluis met jou baba.

Verskillende soorte induksie

Induksies kan in twee kategorieë verdeel word: fisiek en medies, sê prof. Lut Geerts, hoof van die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad se eenheid vir verloskunde, ginekologie, ultraklank en fetale geneeskunde. Een van die algemeenste fisieke metodes behels dat die vliese met ’n spesiale haak geskeur word sodat jou water breek en jou baba se kop dan hopelik druk op die serviks uitoefen sodat dit oopgaan en kraam begin. In ’n ander fisieke metode word ’n kateter met ’n ballon in die vagina geplaas. Die ballon word stadig opgeblaas in die hoop dat dit jou baba se kop stimuleer sodat dit druk op die serviks begin uitoefen. Mediese metodes behels die gebruik van verskillende soorte prostaglandien, hormone wat per mond of deur die vagina toegedien kan word. Die hormoon oksitosien word ook soms binneaars toegedien. Die doel van die hormone is om die serviks sag te maak en die bevalling aan die gang te kry. As jy ’n induksie moet kry, is dit belangrik dat jy vooraf ingelig word watter metode jou dokter gekies het. Maak ook seker jy verstaan die moontlike komplikasies eie aan die metode en weet hoeveel tyd toegelaat gaan word voor die metode begin werk.

Watter metode is reg vir jou?

Volgens Lut het elke induksiemetode voor- en nadele, moontlike newe-effekte en spesifieke komplikasies. “Die keuse van ’n spesifieke metode of kombinasie daarvan hang af van jou en jou baba se risikoprofiel.”

AS 'N INDUKSIE NIE WERK NIE...
Soms misluk induksies. In sulke gevalle kan ’n noodkeisersnee nodig wees. Prof. Lut Geerts van Kaapstad sê egter dat ’n noodkeisersnee ná ’n induksie net gedoen behoort te word as daar ’n baie dringende rede is soos fetale nood, dreigende baarmoederskeuring of wanneer die naelstring voor die baba gebore word. “Dié komplikasies kan dikwels vermy word deur induksie versigtig by die spesifieke situasie te laat pas. Aggressiewe induksies maak komplikasies baie meer waarskynlik,” sê sy. Soms voer ’n dokter ’n noodkeisersnee ná ’n induksie uit net omdat die induksie nie gewerk het en pasiënt nie begin kraam het nie, sê Lut. Dis nie ideaal nie. Die risiko daarvoor is groter as dit ’n eerste swangerskap is of as die amperma ’n ongunstige serviks het. In ingewikkelde gevalle waar die verlossing werklik dringend is – soos as die ma stuiptrekkings kry – sal dokters aanvaar dat die moontlikheid van ’n keisersnee groot is. In die meeste gevalle moet hulle egter liewer probeer om die induksie te laat slaag deur die proses byvoorbeeld meer tyd te gee om te werk, sê Lut.

Hoe beïnvloed induksies normale kraam?

“Die bevalling moet meer noukeurig gemonitor word en sal langer duur,” sê Lut. Jou kontraksies en jou baba se hartklop sal die hele tyd gemeet word. Dit gebeur met die hulp van ’n kardiotokograaf (KTG) wat met twee bande aan jou buik vasgemaak word. Geïnduseerde kraam is dikwels ook meer pynlik, sê Lut. Dis onder meer omdat die baarmoeder harder moet werk aan ’n groter aantal kontraksies oor ’n langer tydperk. Vroue het dus dikwels ’n groter behoefte aan pynverligting soos epidurale verdowing, sê sy. Afhangende van hoe die proses verloop, kan daar ook uiteindelik ’n groter kans wees vir ’n keisersnee of tang- of suierverlossing. Indusering het ook ander nadele. Sommige middels verhoog die risiko dat jou baba geelsug opdoen. Hierdie probleem word meestal maklik behandel, maar dit lei tog tot ekstra kostes en ingrypings wat onnodige spanning op jou kan plaas. Van die kunsmatige hormone wat toegedien word, kan jou ook naar maak, laat opgooi en diarree gee.

Het jy dit regtig nodig?

Weens die newe-effekte en die gevaar van mislukking word induksies net oorweeg wanneer dit veiliger is as om te wag dat die bevalling vanself begin. Induksies word uiteraard glad nie aanbeveel as ’n veilige vaginale verlossing in elk geval nie moontlik is nie. Dit kan wees as placenta praevia teenwoordig is, jy meer as een vorige keisersnee gehad het of ’n ernstige hartletsel het. Sekere fetale afwykings, hewige groeivertraging en dwarsligging skakel ook induksie uit.