Is 'n warm bad veilig?

akkreditasie
Dr. JP du Buisson antwoord.

Vraag:

Ek het onlangs uitgevind ek is ses weke swanger. Ek het iewers gehoor dat te warm water spina bi¬fida of ’n gesplete lip kan veroorsaak. Is dit waar? En hoe weet ’n mens as water te warm is? Sal my ginekoloog gedurende my swangerskap toetse hiervoor doen?

Antwoord:

Baie geluk met die swangerskap. Abnormaliteite van die baba is vir ons almal ’n bekommernis, maar gelukkig iets wat nie algemeen voorkom nie. Dit ís so dat die vorming van die fetus en sy organe in die eerste 12 weke plaasvind. Die fetus is dus kwesbaar in hierdie tyd vir invloede van buite wat ’n uitwerking kan hê en tot abnormaliteite kan lei.

’n Verhoging van jou kerntemperatuur met 1,5 grade Celsius kan moontlik lei tot abnormaliteite soos spina bifi¬da. Dit beteken egter nie dat jy tydens jou swangerskap in koue water moet bad nie. Jy mag in warm water bad, maar nie vir langer as 10 minute nie.

Ander abnormaliteite wat kan ontstaan weens blootstelling aan hoë temperature sluit in ’n klein koppie, serebrale aantasting, asook epilepsie. Verhoogde temperatuur veroorsaak nie ’n gesplete lip nie; die oorsaak van hierdie afwyking is nog nie bekend nie.

Abnormaliteite van die gesig en verhemelte kan soms moeilik wees om te vind. Jou ginekoloog sal teen 20 tot 22 weke na die anatomie van die baba kyk om vas te stel of daar abnormaliteite teenwoordig is.

Hy of sy kan jou ook moontlik stuur na ’n spesialis wat slegs sonars van die baba doen en ook sal oplet na afwykings soos spina bi¬fida. Dit is ook moontlik om tussen 15 en 21 weke ’n bloedtoets te laat doen wat kan wys of jou baba ’n verhoogde kans het om spina bi¬da te hê.

’n Foliensuuraanvulling voor en in die eerste 12 weke verminder die voorkoms van spina bi¬fida. Sterkte met die res van die swangerskap!

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees