Jou kosbare naelstring

akkreditasie
Die die wonderlike lewenslyn tussen jou en die kosbare klein mensie in jou lyf, maar hoe werk die naelstring nou eintlik?

Die naeltjie is seker een van die vreemdste dele van jou lyf: ’n gaatjie in die middel van jou maag.

“Dis die skroefie wat jou lyfie aan mekaar vassit,” het een ouer sy kleinding vertel. ’n Ander ma het verduidelik: “Dis waardeur die babatjie sy kos kry”, net om ’n prentjie by haar kind te skep van kos wat per teelepel deur die gaatjie in haar maag geforseer word om per buis na die baba binne haar se mond te gaan. Die waarheid is natuurlik dat dit die plek is waar die baba se naelstring vasgeheg was, daardie wonderlike monument van die noue band tussen ma en kind tydens swangerskap. 

Pols van die lewe

Die naelstring begin vyf weke ná bevrugting ontwikkel. Dit vervang die dooiersak wat tot dan die nodige voedingstowwe aan die embrio verskaf het, vertel die vroedvrou, Suster Burgie Ireland. “Die bloed pols deur hierdie koord om noodsaaklike suurstof en voedingstowwe aan die baba te voorsien.

Die naelstring is aanvanklik baie kort en dik, maar namate die maande verby gaan, raak die koord geleidelik langer tot dit met baba se geboorte tussen 50 en 60 sentimeter lank is. Hierdie lengte maak dit moontlik vir die ma om dadelik ná die geboorte haar baba vas te hou en aan die bors te sit vir ’n voeding, selfs terwyl die plasenta (of nageboorte) nog aan die baarmoeder vassit. Hierdie briljante stelsel beteken dat borsvoeding die plasenta kan help skei van die baarmoederwand.

Dit gebeur wanneer die hormoon oksitosien vrygestel word tydens borsvoeding en hierdie meganisme help om bloeding ná die geboorte te minimaliseer.”

Aarryke bloedvloei na die baba bring voeding en suurstof, terwyl die afval deur twee slagare in die naelstring verwyder word, verduidelik Suster Burgie.

“’n Aangebore abnormaliteit (veral van die hart) word vermoed as daar slegs een slagaar gevind word.”

Bang vir knoop

Wharton se Jellie, die wonderlike gelatienagtige stof waaruit die koord bestaan, sorg dat die koord glad en ultra-buigsaam is, wat beteken dat dit nie maklik knoop nie (selfs al is dit om baba se nek gedraai).

“Sowat 25% van babas word gebore met die naelstring ten minste een keer om die nek, en dit veroorsaak gewoonlik geen probleme nie, omdat die lus (of twee) van die koord maklik oor die baba se kop geglip kan word tydens die geboorte,” verduidelik Suster Burgie.

“As die naelstring baie styf om die baba se nek gedraai is, sal dit afgeklamp en geknip word voor die skouers verlos word.” Die dik, rubberige tekstuur van die naelstring help minimaliseer ook die moontlikheid dat dit vasgedruk kan word, soos wat soms gebeur as die baba in ’n stuitligging is of as die koord voor die baba in die vagina inglip. Dit gebeur gelukkig baie selde en gewoonlik net wanneer die naelstring besonder lank is.”

’n Baie kort naelstring (minder as 32 sentimeter) is baie skaars, sê Suster Burgie, en ’n besonder lang koord (meer as 100 sentimeter) is nog skaarser. “Ander snaaksighede is wanneer die naelstring op die kant van die plasenta ingaan eerder as in die middel, of wanneer die are nie in die Wharton se Jellie vas is nie.

Hierdie insidente is baie skaars en word gewoonlik al tydens die swangerskap of vroeg in die kraamproses opgetel, sodat enige probleme waar moontlik vermy kan word. ’n Keisersnit word gegee as daar enige kans is dat die baba se bloedtoevoer deur die naelstring onderbreek sal word tydens die geboorte.”

Stompie

Ná die geboorte word die naelstring afgeklamp en afgeknip voor die baba vir die ma gegee word. Suster Burgie vertel die nuutste neiging is om nie die naelstring te knip voor dit ophou pols het nie – wat enigiets van 5 tot 20 minute kan duur.

“Daar word geskat dat tot 180 ml bloed op hierdie manier aan baba ‘teruggegee’ word. Baie spesialiste en vroedvroue glo dat hierdie kosbare ‘ekstra’ die pasgeborene ’n tweede kans gee om te herstel terwyl hy moet aanpas by die lewe buite die gemaksone van die baarmoeder.”

Sodra die baba afgedroog is, word die naelstring met ’n plastiek weggooibare ‘pennetjie’ afgeklamp en omtrent ’n duimlengte van die naeltjie af afgesny.

Die stompie is nat en sag tydens die eerste 24 uur, maar raak geleidelik droër tot dit byna heeltemal droog is op die derde dag. Iewers tussen dag 7 en 10, sal dit begin loskom van die baba se lye. Voorheen het mense poeiers op die stompie gegooi, die magie toegebind, rome en selfs mercurochrome daarop gesmeer, maar dit word nie meer vandag gedoen nie.

Ma’s word aanbeveel om die naelstring oop te hou – sodat dit makliker droog word – en dit met chirurgiese alkohol en watte of oorstokkies skoon te maak. As die stompie taai raak of sleg ruik, of die vel rondom die naeltjie baie rooi begin vertoon, kan dit ’n teken van infeksie wees en is mediese aandag nodig.

Naeltjiebreuke is veral algemeen by swart babas en herstel gewoonlik vanself. Die praktyk om ’n gesteriliseerde munt oor die naeltjie te bind om ’n naeltjiebreuk te voorkom, word slegs aanbeveel as dit hoogs waarskynlik is, sê Suster Burgie. Naeltjiebreuke wat nie vanself herstel het na twee jaar nie, moet chirurgies herstel word.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees