Plasenta

Die plasenta is jou ongebore baba se lewensaar. Dis ’n platterige, sirkelvormige orgaan wat tydens swangerskap aan die baarmoederwand geheg is en jou groeiende kleinding voorsien van suurstof en noodsaaklike voedingstowwe terwyl dit terselfdertyd van sy afvalstowwe ontslae raak. Dit haal dus suurstof en voedingstowwe uit jou bloed en plaas dit oor na jou kleinding se bloed terwyl dit sy afvalstowwe verwyder en weer in jou bloed plaas. Dit vervaardig ook noodsaaklike hormone en ensieme wat jou baba se groei stimuleer. Enige agteruitgang van die plasenta is dus slegte nuus. Jou baba is met sy naelstringetjie aan die plasenta vas. Ná die geboorte sal jy die plasenta, oftewel die nageboorte, uitskei. As jy tydens jou swangerskap begin bloei en maagpyn kry, kan dit beteken die plasenta is besig om van die baarmoederwand los te skeur. Dan moet jy dadelik by ’n dokter uitkom. Daar is ook ’n toestand genaamd placenta praevia, waar die plasenta te laag in die baarmoeder vasheg en die serviks versper sodat ’n vaginale geboorte onmoontlik is.

Inkontinensie

Dis ’n newe-effek van swangerskap wat baie vroue rooi in die gesig laat. Inkontinensie behels gewoonlik dat jy ’n bietjie urien lek as jy hoes, nies of selfs net lekker lag. Dit kom jou meestal in die laaste trimester oor. Die inkontinensie (ook bekend as druklek) word veroorsaak deur die druk van die swellende baarmoeder op die blaas en ook weens die verslapping van die bekkenspiere tydens swangerskap. Kegeloefeninge – waar jy jou knypspiere versterk deur die spiere rondom die vagina en anus gereeld saam te trek en dan stadig te laat ontspan – werk inkontinensie teen.

Braxton Hicks-kontraksies

Braxton Hicks is “oefen-kontraksies” wat al menige swanger vrou verniet na haar hospitaaltassie laat gryp het. Dié kontraksies begin gewoonlik teen agt maande as deel van die baarmoeder se voorbereiding op die groot dag. Dit kan by tye ietwat pynlik raak, hoewel nooit te intens nie. Anders as ware kraamkontraksies het dit nie ’n vaste ritme nie en word dit ook nie geleidelik sterker en die tussenposes korter nie.

Vrugwater

Die amniotiese vloeistof of vrugwater is die gelerige, deursigtige vloeistof waarin jou baba in die vrugwatersak lê. Dit dien as belangrike buffer tussen hom en die buitewêreld en beskerm hom teen harde stampe en skielike temperatuurveranderings. Dit help ook om sy longe te ontwikkel. Jou baba drink en asem gedurig die vrugwater in en skei dit weer uit. Die vrugwater neem toe namate baba groei en bereik ’n maksimum op 34 weke. Te veel vrugwater kan dui op afwykings of diabetes, terwyl te min vrugwater kan beteken die plasenta werk nie op sy beste nie of jy lek vrugwater. Jou dokter sal dit dus noukeurig dophou.

SUPERWENK
As jou kontraksies nie in intensiteit toeneem en nie met korter tussenposes plaasvind nie, is dit waarskynlik Braxton Hicks-kontraksies.

Trippeltoets

Dié bloedtoets word gewoonlik iewers vroeg in die tweede trimester van swangerskap uitgevoer om vas te stel of die baba dalk ’n afwyking het. Die toets bekyk die konsentrasie alfa-fetoproteïen (AFP), menslike choriongonadotropien- (HCG-) hormoon en estriol in die bloed. Dit help voorspel of jou baba aan ’n neurologiese afwyking soos spina bifida of Downsindroom ly. Die toets kan nie ’n afwyking bevestig nie, maar kan aandui dat dit moontlik bestaan en dus of ’n amniosentese nodig is om ’n diagnose te maak. By net een uit elke 25 swangerskappe waar die trippeltoets ’n risiko aandui, is daar wel afwykings.

Edeem

Edeem verwys na swelling as gevolg van waterophoping in die liggaam en is algemeen in veral die laaste maande van swangerskap. Sowat 75 persent van swanger vroue ervaar ’n mate van swelling in hul enkels en voete. Soms kan dit egter dui op gebrekkige nierfunksie of ’n teken wees van eklampsie. Noem dit dus altyd aan jou dokter, veral as jou gesig ook begin swel. Dit kan ook help om met jou voete hoog te sit.

Die resusfaktor

Afhangende van die teenwoordigheid van ’n sekere bloedproteïen bekend as die resus- faktor (Rh-faktor) in jou rooibloedselle, is ’n mens resus-positief (as die Rh-faktor daar is) of resus-negatief (as dit afwesig is). Die meeste mense is Rh-positief. As jy Rh-negatief is en jou baba is Rh-positief (wat waarskynlik is as jou man Rh-positief is), word gepraat van bloedgroep-onversoenbaarheid. Dan kan jou liggaam teenliggaampies vervaardig wat jou baba se bloed aanval en baie gevaarlik kan wees. Dis dus baie belangrik dat jou dokter moet weet of jy Rh-positief of -negatief is sodat hy julle noukeurig kan monitor en behandel indien nodig.

Preëklampsie (toksemie)

Dis ’n swangerskapstoestand wat gekenmerk word deur hewige swelling, ’n vinnige toename in gewig, hoë bloeddruk en proteïen in die urien. Dit ontstaan ná 20 weke en is een van die redes waarom jou dokter jou gereeld vir ’n urienmonster vra en met elke besoek jou bloeddruk behoort te meet. As preëklampsie nie betyds behandel word nie, kan dit lei tot eklampsie. Dis ’n lewensbedreigende toestand wat die sentrale senustelsel aantas en kan lei tot stuiptrekkings, ’n koma en selfs die dood. Die enigste behandeling is dat die baba so gou moontlik gebore moet word.

Die perineum

Dis die streek tussen die vagina en rektum en kan soms skeur tydens ’n normale geboorte. In sommige gevalle sal dokters ’n episiotomie (knip) uitvoer om te keer dat die perineum skeur. Jy kan dit alles help voorkom deur jou perineum tydens jou swangerskap met ’n bietjie natuurlike olie te masseer en so meer soepel te maak: Plaas jou duime of wysvingers in die vagina, druk afwaarts (na die rektum) en gly dan jou vingers dwars na onder en op teen die kante.

Grootwoordkitsgids

Kloasma Die donker vlekke wat soms op die gesig verskyn

Gravida Die mediese term vir ’n swanger vrou

Primigravida ’n Vrou wat vir die eerste keer swanger is

Multigravida ’n Vrou wat al kinders het

Pika Die behoefte wat sommige swanger vroue het om ongewone items soos stof of verf te eet

Hiperemesis gravidarum Hewige oggendnaarheid en braking wat tot ontwatering kan lei

Linea nigra Die donker streep wat in die middel van die maag afloop