book-icon Uitgawe Oktober & November 2017

Julle is wat jy inneem

akkreditasie

As jy gedurende jou swangerskap ’n gebalanseerde dieet volg, sal jy die noodsaaklike vitamiene en minerale inkry. Maar dit is tog nodig dat jy sekere vitamiene en minerale as ekstra aanvulling neem om te sorg dat jou baba optimaal ontwikkel en jy gesond bly. Vra jou dokter aan die begin van jou swangerskap watter multivitamien hy as aanvulling by jou kos aanbeveel.

Chela-Preg se Trimester 2-pak bevat aanvullings geskik vir die tweede trimester. R213 vir ’n maand se voorraad, Dis-Chem, Clicks, Baby City en apteke

1. Foliensuur

Vul jou dieet aan met foliensuur, aangesien jy genoeg daarvan moet inkry – voor en tydens jou swangerskap. Dié mineraal is belangrik omdat dit geboorte-afwykings soos spina bifida, breinskade en ’n waterhofie kan voorkom.

2. Vitamien B12

Dié voedingstof werk saam met foliensuur en help om geboorte-afwykings soos spina bifida te voorkom. Dit ondersteun ook die fetus se breinontwikkeling.

3. Magnesium

Hierdie mineraal moet aangevul word en verlaag die risiko vir ontwikkelingskade soos serebrale gestremdheid. Dit verlaag ook die risiko van ’n vroeë geboorte.

4. Kalsium

Vul jou dieet met kalsium aan omdat dit ontwikkeling van baba se beendere bevorder en help om vroeë geboorte en preëklampsie te keer.

5. Yster

Hierdie belangrike voedingstof help met die vervoer van suurstof na al jou liggaamsdele en na die fetus. Te min daarvan kan tot bloedarmoede lei. Vul hierdie mineraal aan om vroeë geboorte en lae geboortegewig te help voorkom. Dit help ook om jou fetus se breinontwikkeling en groei ’n hupstoot te gee.

6. Omega 3 en 6

Omega 3 ondersteun die ontwikkeling van jou ongebore baba se sig, senustelsel en brein. Dit kan ook help om nageboortelike depressie te keer. Omega 6 help daarby met fetale breinontwikkeling en selmembraanvorming.

7. Vitamien C

Hierdie vitamien help met ysteropname en met die vorming van die fetus se vel. Dit is ’n antioksidant wat die immuunstelsel versterk.

8. Vitamien D

Dit bevorder breinontwikkeling en die immuunfunksie. Dit voorkom swak beenontwikkeling by jou ongebore baba.

9. Sink

Sink is ’n belangrike mineraal tydens swangerskap omdat dit nodig is vir sel-verdeling. Een van die gevolge van ’n sinktekort is abnormale breinontwikkeling.

Só lyk ’n gesonde dieet

1. Iets van alles

’n Goed gebalanseerde dieet is gevul met ’n groot verskeidenheid gesonde kossoorte. As jy elke dag van die week kos uit al die kleurgroepe insluit, kan jy maar weet jy eet gebalanseerd. Rou en onverwerkte kos sonder kleur- en geurmiddels het die heel meeste voedingswaarde.

2. Foliensuur

Dieetkundiges sê hiervan moet jy aanvul, maar kies ook kos wat propvol van dié mineraal is: broccoli, donker slaai- blare, neute, lensies, aspersies, avokado’s, piesangs en gefortifiseerde heelgraanontbytgrane.

3. Omega 3-vetsure

Eet drie keer per week olierige vis soos sardientjies en salm en sommer baie groen blaargroente. Seekos is boonop ook ’n bron van kalsium. Jy kan gerus ook sorg dat jy omega 3-verrykte eiers en brood inkry. Soek ook ’n aanvulling wat DHA bevat, veral in die laaste trimester wanneer die fetus se brein geweldig vinnig groei.

4. Vesel

Jou metabolisme is stadiger gedurende jou swangerskap, maar om ’n goeie rede: dit help jou liggaam om meer voedingstowwe te absorbeer. Dit beteken ongelukkig dat jy kan sukkel met hardlywigheid. Werk dit teen met baie groente en vrugte, sowat twee liter vloeistof daagliks (verkieslik water of rooibostee) en veselryke ontbytgrane. Hierdie kossoorte is ook veselryk: patat, bruinrys en springmielies.

5. Yster en sink

Eet genoeg rooivleis, varkvleis, hoender, eiers, spinasie, rosyntjies, droëbone en droëvrugte om jou ysterinname hoog te hou. Jy kan ook yster aanvul, en behoort dit te doen as jy bloedarmoedig is. Sorg dat jy vitamien C saam met ysterryke kos eet, want dié vitamien help jou liggaam om yster op te neem. Goeie bronne is lemoene, pomelo’s, aarbeie, koejawels, groen en rooi soetrissies, tamatie, broccoli en blomkool. Jy kan seker maak jy en jou fetus kry genoeg sink in as jy gereeld vleis eet, melk drink en heelgraankossoorte kies.

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees