Karteer jou boepie

akkreditasie
Al gehoor van boepie-kartering (belly mapping in Engels)? Kyk hoe jy met papier, potlood en sensitiewe vingers kan vasstel hoe jou baba lê.

Baie vroue kan in die laaste maand van hul swangerskap voel of hul baba met haar koppie boontoe of ondertoe lê deur bloot op die regte plekke aan hul maag te raak. As jy nie een van hierdie gelukkiges is nie, sal boepie-kartering jou baie help. Dit is makliker as wat jy dink! Hoe doen jy dit?

Voor jy begin, is dit wys om te weet dat jy meer van jou baba se bewegings sal voel as jy:

  • in ’n sit-lê posisie is,
  • stadig en diep asemhaal, en
  • goed geoliede hande het.

Die ideale tyd om jou hande aan boepiekartering te waag, is vanaf die 32ste week van jou swangerskap en wanneer al jou dagtake afgehandel is sodat jy net op jou baba kan fokus.

Kenners meen ook dit werk beter as jou oë toe is sodat jy met jou hande kan “sien”. Hiervoor werk die kussinkies op jou vingers beter as jou vingerpunte. Verbeel jou jou boepie is ’n sirkel en verdeel die sirkel in vier denkbeeldige ewe groot kwadrante.

Begin heelbo links voel, dan links onder, dan regs bo en heel laaste regs onder. As al dié voelery afgehandel is, is jy gereed om ’n boepiekaart te teken.

Boepie-kartering: stap vir stap

Stap 1

Teken ’n sirkel op ’n skoon vel papier. Verdeel dit in vier gelyke dele of kwadrante. Die bokant van die sirkel is die bokant van jou baarmoeder en die onderkant is waar jou skaambeen is. Die regterkant van jou boepie sal links op die papier wees en andersom, soos wanneer jy in die spieël kyk.

Stap 2

Gebruik nou jou sirkelkaart en skryf of dui met simbole van jou keuse aan wat jy in elke kwadrant voel. Dui dít aan:

  • Waar die ferm kant van jou boepie is. Een kant is gewoonlik heelwat fermer as ’n ander – jy sal dit maklik voel, veral wanneer jy lê. Dis jou baba se ruggie. Dit sal moeilik wees om jou baba se rug te voel as hy met sy ruggie teen jou rug lê.
  • Waar jy die grootste en hardste skoppe voel. Dit is natuurlik waar die voetjies is.
  • Waar die kleinste bewegings voelbaar is.
  • Waar jy ’n groot uitkropsel voel – dit is gewoonlik kleinding se boudjies mits sy met haar kop na onder lê. Andersins is dit jou baba se kop as sy in die stuitposisie lê (met ander woorde met haar kop boontoe of voetjies en boudjies ondertoe).
  • Die kop, as jy seker is dis wel wat dit is.
  • Waar die hartjie klop, as jy dit van ’n vorige doktersbesoek onthou. Dui net dit aan waarvan jy seker is en los alles uit waaroor jy onseker is.

Stap 3

Visualiseer jou baba in jou maag. ’n Pop of teddiebeer met buigsame arms en bene sal nuttig te pas kom. Plaas die pop op jou boepie volgens die kaart wat jy pas geteken het. En siedaar! Jy weet presies hoe jou kleinding lê.

Om boepie-kartering makliker te maak, moet jy hierdie drie teenoorgestelde posisies onthou. kop en boudjies; maag en rug; hande en voete. Dié drie pare lê altyd in teenoorgestelde rigtings.

Neem jou prentjie saam wanneer jy weer ginekoloog toe gaan ek kyk of jy reg was!

Kartering is moeilik wanneer...

  • Jy 'n baie ferm boepie het
  • Jy baie vrugwater het
  • Jou plasenta aan die voorkant van die baarmoeder geheg is
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees