Kies jou baba se geslag (soortvan)

akkreditasie
Soek jul hart ’n dogtertjie, of smag julle na ’n seuntjie? Daar ís tegnieke wat julle kan beproef.

Kenners stem nie noodwendig saam oor presies hoe dit werk of behoort te werk nie, maar dit kan mos net pret wees om die verskillende metodes  ’n kans te gee, of hoe? Moet alles asseblief net nie te ernstig opneem nie… 

Shettles-metode 

’n Tegniek wat al meer as 30 jaar in gebruik is waarmee jy die geslag van jou baba glo kan beïnvloed, is die Shettlesmetode. Dit is ontwikkel deur ’n Amerikaanse infertiliteitspesialis, dr. Landrum Shettles.

Shettles het beweer as sy metode reg gebruik word, is daar ’n kans van  75 persent dat jy die geslag van jou keuse kry. Daar is egter nie studies wat dit bewys nie.

Met dié metode is tydsberekening alles, en Landrum het selfs raad oor posisies en ander slaapkamersake!

Die Shettles-metode is gebaseer op  die feit dat die Y-chromosoom wat sperm dra (die manlike sperm), kleiner is en  vinniger beweeg as die groter X-chromosoom (wat vroulike sperm dra).

Vir dié metode moet jy weet wanneer jy ovuleer (lees elders hoe jy dit kan bepaal). Volgens Landrum moet jy dan die volgende doen om die geslag van jou keuse te kry: 

’n Dogtertjie 

As ’n meisietjie jou hartsbegeerte is, stel Landrum voor dat jy twee en ’n half tot drie dae voor ovulasie seks het. Seks nader aan ovulasie sal jou kans op ’n dogtertjie baie laat afneem.

Hy sê ook dat jy seks moet hê elke dag vandat jy opgehou menstrueer het tot en met twee en ’n half tot drie dae voor jy ovuleer. Moenie daarna onbeskermde seks hê nie.

Indien jy langer voor ovulasie seks het, gee dit die stadiger sperm met die X-chromosome tyd om by die eiersel uit te kom.

Landrum stel voor dat die man die vrou vlak penetreer. Die man moet ook verkieslik bo wees sodat die sperm nader aan die ingang na die vagina vrygestel word. Dié deel is suurder en verder van die serviks.

Die suurheid sal teen die manlike spermselle werk, wat vinniger maar swakker as die vroulike spermselle is.

Dus is daar meer vroulike spermselle om jou eiersel te bevrug. Landrum stel voor dat die vrou nie ’n orgasme tydens seks kry nie, aangesien die vaginale omgewing ná ’n orgasme meer alkalies is, wat gunstig is vir die manlike spermselle.

Die sametrekkings van ’n orgasme help om die spermselle boontoe te jaag en gee die manlike spermselle ’n voorsprong. 

’n Seuntjie 

As julle smag na ’n seuntjie, stel Landrum voor dat julle seks net 24 uur voor ovulasie het en nie meer as 12 uur ná ovulasie nie.

Die servikale slym tydens ovulasie is glad en minder suur, wat die manlike spermselle help om vinniger by die eiersel uit te kom. Hy beveel diep penetrasie aan, wat byvoorbeeld moontlik gemaak word deur penetrasie van agter.

Dit deponeer die sperm nader aan die serviks en gee die manlike spermselle ’n voorsprong op pad na die eierselle toe.

Daar word aanbeveel dat die vrou ’n orgasme kry omdat dit die vaginale omgewing meer alkalies maak en omdat die sametrekkings van die vagina die manlike spermselle vinniger laat swem.

Die Whelan-metode 

 In haar boek How to Choose the Sex of Your Baby sê Elizabeth Whelan net mooi die teenoorgestelde van dr. Landrum Shettles. 

Volgens haar navorsing is jou kans beter om ’n seuntjie te kry as jy seks het vier tot ses dae voor jy ovuleer. As jy ’n dogtertjie wil hê moet jy twee tot drie dae voor ovulasie seks hê.

Elizabeth se navorsing is gebaseer op biochemiese veranderinge in jou liggaam wat vroeër in die siklus ten gunste van ’n seuntjie is. Sy stel ook voor dat jy ’n spesifieke dieet volg.

Vir ’n seuntjie moet jy ’n eetplan hê wat ryk is aan sout en kalium met souterige vleis soos spek, ham, worsies, sout skyfies, neute en baie koolhidrate.

As jy ’n dogtertjie wil hê moet jou dieet baie kalsium en magnesium bevat, soos te kry in suiwelprodukte, roomys, vrugtesap en baie laesout- of soutvrye kos.

Kritiek op haar metode is dat seks vier tot ses dae voor ovulasie te lank is voor die eiertjie vrygestel word. Dus gaan jy sukkel om hoegenaamd swanger te word, wat nog te sê met ’n seuntjie. 

Werk uit of jy ovuleer 

Daar is verskeie maniere om te bepaal of jy ovuleer. Een metode is om die slym van jou serviks met jou vingers te toets.

Op normale dae is jou servikale slym effens taai, maar wanneer jy ovuleer verander dit van kleur en voel dit gladder, amper soos glibberige eierwit. (Dis sodat dit vir die spermselle makliker is om by die eierselle te kom.)

Nog ’n metode is om jou temperatuur dop te hou. Meet jou koors elke oggend met ’n baie akkurate termometer voor jy uit die bed opstaan.

Jou temperatuur daal elke dag effens tot en met ovulasie, wanneer dit met 0,2 grade styg wanneer jou eiertjies vrygestel word.

Leer al ’n paar maande voor julle begin probeer jou siklus ken sodat jy presies weet wanneer jy ovuleer. Jy kan ook by apteke stelletjies koop wat help om ovulasie te bepaal. Hulle werk met urine of speeksel.

Dié stelle is ’n goeie idee vir vroue wat nie so gereeld en voorspelbaar menstrueer nie.

Jy kan ook ’n toep aflaai wat jou menstruasie-inligting gebruik om te voorspel wanneer jy ovuleer. Dis veral akkuraat as jou menstruasie ’n betroubare, voorspelbare siklus het.

Mediese prosedures 

’n Prosedure genaamd “genetiese diagnose vóór inplanting” (PGD) gee jou ’n kans van 99,9 persent gee om die geslag van jou keuse te kry, maar dit word slegs gedoen vir ouers wat die gevaar loop om genetiese probleme wat aan ’n sekere geslag verbonde is, aan hulle kind oor te dra.

Met ’n PGD word ’n sel van die embrio verwyder vir genetiese toetse om vir die X- (vroulike) en Y- (manlike) chromosome te toets.

Daarna word die “regte” geslag ingeplant. Ouers word nie toegelaat om dit te ondergaan net omdat hulle hul kind se geslag wil kies nie. ’n Tegniek wat “gewone” ouers wel mag beproef, is spermskeiding.

Dit is ’n laboratoriumprosedure waar sperm volgens die chromosome daarin geskei word en dan word die verlangde “geslag” sperm in die baarmoeder ingespuit. Hierdie tegniek gee jou ’n kans van 80 persent om die geslag van jou keuse te kry. Maar dit kos ’n paar rand. 

Uit die volksmond 

As jy begin rondvra, hoor jy allerhande vreemde raad oor hoe om die seuntjie of dogtertjie van jou drome te kry. 

Hier is ’n paar van ouma se voorstelle: 

  • Die baba se geslag word bepaal deur die persoon wat tydens bevrugting oorheersend is in die verhouding. 
  • Daar is mense wat glo dat as jou eerste kind se hare onder ’n punt maak, gaan jou volgende kind ’n dogtertjie wees. As dit reguit is, kan jy jou op ’n seuntjie voorberei. 
  • As jy ontspanne is gaan jy ’n dogtertjie kry; as jy ’n kommerkous is, is dit ’n seuntjie. 

Boererate vir seuntjies 

• Seks in die nag. 
• Hou jou kalender dop. Daar word geglo dat seuntjies op die ongelyke dae van die maand verwek word. 
• Daar is mense wat meen dat as die vrou se kop noord wys terwyl julle besig is, verseker dit ’n seuntjie. 

Boererate vir meisies 

 • Doen die “daad” met volmaan. 
• Maak ’n afspraak vir ’n bietjie liefde in die middag. 
• Sorg dat julle op die gelyke dae van die maand seks het.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees