Die kraamposisie wat jy kies moet so gemaklik moontlik wees en baba se reis so doeltreffend moontlik aanhelp. Hier is raad.

Verskeie studies het bevind ’n regop, aktiewe kraamposisie maak kontraksies meer doeltreffend.

Dit verkort ook die kraamproses, verminder die behoefte aan die hormoon oksitosien wat kontraksies versterk, en verminder die vraag na pynmedikasie.

Een studie het gewys die ontsluitingstyd van 3 tot 10 cm was met die helfte korter wanneer vroue hul kraamposisie afgewissel het van op die rug lê en staan, en staan en sit.

As jy verskillende kraamposisies inneem, verander die vorm en grootte van jou bekkenomgewing voortdurend.

In die eerste fase help dit om baba se kop in die beste posisie vir die geboorte te kry, en in die tweede fase help verskillende geboorteposisies met die afsak in die geboortekanaal en die draai van baba se koppie.

Een spesifieke posisie verminder nie noodwendig die pyn nie. Pleks daarvan moet jy liewer ál die moontlike posisies beproef en kyk watter een vir jou die beste werk. 

Lê op jou sy

Hoewel jy op jou sy of rug kan lê, beveel baie kenners die sy aan omdat dit moeilik is om jou bene op te trek en terselfdertyd te druk terwyl jy op jou rug lê.

Lê op jou sy met ’n kussing tussen jou bene, of neem ’n halfsittende posisie in waar jy teen jou maat terugleun. Tussen kontraksies kan jy vooroor leun teen jou maat, ’n geboortebal of kussings om te ontspan.

Dis veral nuttig as jy rugpyn met die kontraksies het. Stiebeuels waarin jy jou bene sit, behoort vermy te word aangesien dit geen voordeel vir jou inhou nie.

As jy op jou sy lê is dit meer gemaklik en word daar nie met jou bloeddruk ingemeng nie. 

Loop

Wanneer jy rondloop terwyl jy kraam, kan dit die bevalling versnel omdat jy swaartekrag gebruik om jou baba in die bekken te help afbeweeg.

Jou bekken kry ook die geleentheid om meer vrylik te beweeg. As jou kraampyne erger raak, staan vir ’n oomblik stil, haal diep asem en neem ’n ander posisie in waarin jy gemaklik voel.

Handeviervoet

Die handeviervoet-posisie laat jou toe om tydens kontraksies jou heupe te beweeg en jou bekken te swaai. Jy kan vorentoe en agter toe wieg, jou bekken kantel en selfs sywaarts wieg. Plaas kussings onder jou hande en knieë. 

Kniel

Dit is maklik om van die handeviervoetposisie in ’n knielposisie te kom. Leun vooroor op ’n bed, stoel of teen jou maat terwyl jy afbeur tydens die geboorte of kontraksies. 

Hurk 

Jy vergroot die bekkenuitgang as jy op jou hurke afsak en dis dus makliker om baba uit te druk. Swaartekrag help die proses aan.

Dit help om jou bene tussen kontraksies te rek en strek. In die hurkposisie is die bekkenuitgang gemiddeld 28% groter as wanneer jy op jou rug lê. 

Sit 

Sit op die rand van die bed of op ’n stoel. Die swaartekrag help baba se reis aan. Die bed of stoel bied ook ekstra ondersteuning.

As baba uitkom, sit op die bed met jou bene wyd oop, jou knieë gebuig en jou rug gestut teen kussings of jou maat. ’n Geboortestoel is ’n oliebolvormige lae stoeltjie waarop jy tydens die bevalling kan sit.

Dit help om die perineum te laat ontspan en hou jou regop. 

Staan 

Tydens die geboorte kan jy jou bene wyer oopmaak en “in jouself” afsak om baba uit jou liggaam te kry. Tussen kontraksies kan jy terugleun en teen jou maat rus, of vooroor op ’n bed leun.

Baie vroue vind dit help as hulle teen iets leun. 

In die hospitaal

Jou vroedvrou behoort jou in jou voorgeboorteklasse oor verskillende kraamposisies te leer. Maar dan breek die groot dag aan en voor jy jou kom kry, bevind jy jou dalk plat op jou rug, gekoppel aan monitors.

Verskeie studies het egter getoon dat die rugliggende posisie kan lei tot lae bloeddruk, ’n afname in die aktiwiteit van die baarmoeder, bekkenverkleining en dus ’n groter risiko vir ’n episiotomie.

Die kontraksies is ook minder doeltreffend en seerder. Min vroue het egter die moed om hul dokter te vra of hulle ’n ander geboorteposisie kan inneem.

Vra hulle dus vooraf wat hul voorkeur is en kies liewer iemand wat jou keuses sal respekteer. 

Het jy geweet? 

Jou vroedvrou, hospitaal of geboortekliniek sal jou aanmoedig om so lank moontlik tuis te bly terwyl jy kraam.

Nie net lei dit jou aandag af nie, maar die gedurige verandering van posisie en die feit dat jy rondloop, kan help om jou pynbelewenis meer draaglik te maak, jou selfvertroue te versterk en die duur van die bevalling te verkort.

In watter posisie(s) het jy gekraam? Het dit vir jou gewerk? Stuur gerus jou storie aan web@babaenkleuter.co.za en ons publiseer dit dalk.