Kilo's in ruil vir gramme

akkreditasie
Dalk het die paar ekstra vertrolletjies jou nog nooit gepla nie, maar tydens swangerskap raak dit 'n gewigtige saak.

Uiteindelik is jy swanger! Nou kan jy eet wat jy wil en die ekstra vetjies wegsteek onder groot kraamklere, of so dink jy.

Dink weer voor jy net eet, want hierdie is die tyd van jou lewe wat jou liggaam op sy gesondste moet wees omdat jóú gesondheid ook jou baba se gesondheid beïnvloed. Ons almal weet dit is nie lekker of goed vir jou as jy oorgewig is nie, maar met ’n baba in jou maag is dit nog meer nadelig vir julle albei.

Die beste is dus om ’n ideale gewig te bereik voordat jy swanger raak. As jy sukkel om swanger te raak kan gewigsverlies ook help aangesien oorgewig kan bydra tot onvrugbaarheid.

Hoekom kilo's afskud?

Sonder ’n baba in jou maag sal die ekstra gewig wat jy elke dag saamdra net jou eie gesondheid beïnvloed. ’n Verhoogde kans vir diabetes, hoë bloeddruk, hartsiektes en sommige soorte kanker is van die gevolge van oorgewig.

Wanneer ’n vrou swanger raak affekteer die vetrolletjies egter nie meer net vir haar nie, maar ook haar ongebore baba, en hoe meer die vetjies, hoe groter is die kanse vir komplikasies. Oorgewig verhoog die kanse op ’n miskraam en selfs dat ’n baba doodgebore kan word.

Jy kan ook makliker hoë bloeddruk en pre-eklampsie kry; ’n toestand wat baie gevaarlik is vir mamma en baba.

Oorgewig verhoog ook jou kans om diabetes tydens swangerskap te ontwikkel wat weer ’n baie groot baba tot gevolg kan hê. Selfs sonder diabetes is ’n oorgewig vrou se kanse groter om ’n baba te hê wat te groot is vir normaal kraam. Die kanse dat baba te vroeg gebore kan word, is ook groter.

Nie net kan oorgewig probleme met jou swangerskap veroorsaak nie, maar ook jou baba se gesondheid kan geraak word daardeur. Babas van oorgewig mammas se kanse is groter om geboortedefekte soos spina bifida hê, dood te gaan kort na geboorte, ’n oorgewig kind te word of hartsiektes te ontwikkel.

Weeg ek te veel?

Ons almal wens van tyd tot tyd dat ons eerder op die maan kan gaan woon waar ons so lig soos ’n veertjie sal wees. Die liggaamsmassa-indeks (LMI) is ’n maklike manier om te weet of jy hier op aarde te veel weeg.

Bereken so jou LMI: Deel jou gewig (kg) deur jou lengte (m) kwadraat, en kyk in watter kategorie jy val.

≤18,5 kg/m² Ondergewig
18,5 - 24,9 kg/m² Ideaal
25 - 29,9 kg/m² Oorgewig
≥ 30 kg/m² Vetsugtig

Ruil die kilogramme so

Dalk is jy ook een van die mammas wat hard probeer het om die wintervetjies voor jou swangerskap af te skud, maar nie van alles ontslae kon raak nie. Moenie nou handdoek ingooi nie. Deur hierdie riglyne te volg, kan jy minder gewig optel en ’n gesonde swangerskap en baba hê.

Luister na jou ligaam

As jy honger is, eet iets gesonds en hou op eet die oomblik dat jy voel jy is versadig. Eet stadig, sit jou vurk of lepel neer tussen happies terwyl jy kou en skep die volgende happie eers as jy klaar gesluk het. Eet eerste jou groente, vrugte of slaai met elke maaltyd.

Bly in beheer

Daardie vreeslike lus vir grondboontjiebotter, sjokolade of mango’s gaan een of ander tyd kom, maar jy kan steeds in beheer wees van wat jy in jou mond sit. As jy lus is vir iets, eet klein hoeveelhede daarvan as deel van maaltye of peuselhappies. Moenie net onmiddellik ingee aan elke vreemde lus wat jou beetkry nie.

Eet gebalanseerd

Elke maaltyd behoort uit drie voedselgroepe te bestaan: ’n beskermkos (groente of vrugte), ’n boukos (vleis, hoender, vis, melk, bone, neute) en ’n energiekos (stysel soos pap, volgraanbrood, bruinrys, volkoringpasta, aartappel of patats).

Eet ’n verskeidenheid groente en vrugte, kies laevet-vleis en -melkprodukte en volgraan-stysels met ’n lae glikemiese indeks. Eet klein hoeveelhede gesonde vette soos neute, avokado, olywe, canola margarien en canola- ofyfolie.

'n Halwe bord groente of slaai

Groente en vrugte is propvol belangrike voedingstowwe en bevat relatief min energie. Die groot hoeveelhede vesel daarin help om jou versadig te maak. Deur ’n halwe bord groente, slaai of vrugte met elke maaltyd te eet kan jy genoeg eet om versadig te wees sonder om te veel energie in te kry.

Eet dit rou so ver moontlik of maak dit gaar sonder bygevoegde suiker, botter of olie. Onthou dat slaaie soos aartappelslaai, pastaslaai of rysslaai nie werklik slaai is nie, maar eerder ’n stysel.

Peusel slim

As jy heeldag loop en peusel, eet jy heelwat meer as wat jy besef. Kies liewer een tyd wat jy jou oggendpeuselhappie eet en een tyd wat jy jou middagpeuselhappie eet. As jy meer as drie ure na aandete gaan slaap, kan jy ’n laataandpeuselhappie ook geniet.

Om seker te maak dat jou baba al die voedingstowwe kry wat sy nodig het, kies kosse wat vol voedingstowwe is om te eet tussen maaltye. Vars vrugte, rou slaaigroente soos tamaties, komkommer en wortelstokkies of vetvrye melk of -jogurt is slim keuses.

Hou styselkosse soos brood en beskuit vir maaltye. Skep jou peuselhappie in ’n bakkie eerder as om uit ’n groot pak te eet om seker te maak jy eet net genoeg.

Verander jou bakkie en bord

’n Kleiner papbakkie en ’n kleiner bord is ’n maklike manier om jouself te help om kleiner porsies te eet. ’n Vol kleinbordjie lyk sommer beter as ’n groot bord met net ’n paar skeppies kos op. ’n Klein bakkie help ook dat jy nie per ongeluk te veel pap inskep nie.

Moenie dieet of vas nie

Snaakse diëte soos prof. Tim Noakes se dieet en kitsdiëte kan baie nadelig wees vir jou baba. Ketogene wat tydens Noakes se laekoolhidraat/hoëvet-dieet in ’n mens se liggaam gevorm word, is skadelik vir jou ongebore baba se brein en organe. Dieselfde proses vind ook plaas wanneer jy vas en daarom behoort jy nooit langer as 12 uur nie te eet nie.

Dink oor wat jy drink

Drankies kan jou maklik om die bos lei en terwyl jy dink dat jy jou dors les, kry jy sommer ’n groot klomp energie ook in. Vrugtesap, koeldrank, en selfs tee en koffie met suiker in kan vinnig bydra tot te veel ekstra vetjies. Drink liefs hoofsaaklik water, drie glase vetvrye melk per dag en rooibostee sonder suiker.

Oefen elke dag

Oefening en ’n aktiewe leefstyl doen wondere om gewig in toom te hou. Maak seker by jou dokter dat dit vir jou veilig is om te oefen voordat jy wegspring. Kies oefeninge waar jy nie maklik kan val of te warm kry nie, soos swem, vinnig stap, oefenfiets ry of aërobiese oefeninge spesiaal vir swanger vroue.

Indien jou dokter aanbeveel dat jy nie oefen nie, kan jy steeds ’n aktiewe leefstyl hê. Klim trappe eerder as om roltrappe of die hysbak te gebruik, parkeer jou motor op die verste punt van die winkel se parkeerterrein, werk in die huis of tuin of gaan stap om die blok voor aandete. Jy kan selfs bal speel met jou hond of kinders.

Stap ompad om ongesonde kos

Aartappelskyfies, roomys, melkskommels, sjokolade, lekkers, koekies en koek is van die dinge wat jy liefs moet vermy.

Een porsie van hierdie lekkernye bevat maklik meer energie as ’n gesonde bord kos terwyl dit geen voedingstowwe inhet nie. Vermy sulke eetgoed sover moontlik en as jy nie anders kan nie, eet net ’n klein porsie.

Wegneemetes is wel ’n baie makliker opsie vir ’n moeë amper-mamma, maar dit bevat baie vet en daarom onnodig baie energie. Kook liewer ekstra en vries sodat jy net iets uit die vrieskas kan haal as jy nie kans sien vir kosmaak nie.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees