Vraag:

Ek is swanger en is van plan om ’n watergeboorte by my huis te hê. Ons is ’n gesin van vier en ek wil graag hê my kinders – nou vier en ses – moet die geboorte saam met my en manlief deel. Is dit ’n goeie idee om hulle daar te hê en het jy enige wenke vir ons as gesin op die geboortedag?

Antwoord:

Ek hanteer daagliks watergeboortes tuis en baie dikwels is die ander kinders ook in die omtrek, dieselfde vertrek of selfs binne-in die water saam met mamma. Al die opsies hang van jul gesinsdinamika en persoonlikhede af.

Baie kinders is gretig om in die warm water te speel en aktief deel te neem. Hulle dryf rond in die kraambad (soms met vlerkies en al), vryf mamma se rug en bied water aan. Vir hierdie kinders is dit belangrik om daar te wees, alles te ervaar en selfs die geboorte te sien. Ander verkies dit weer om net eenkant te sit en alles waar te neem.

Heel dikwels speel die kroos net langs die kraamkamer of kyk hul gunsteling-DVD in dieselfde vertrek.

Jy is die ma en ken elkeen die heel beste. My ervaring het my wel geleer om kinders nie die kraamkamer te belet as hul daar wil wees nie. Dit veroorsaak ernstige trauma en skeidingsangs omdat kindjielief nie verstaan wat aangaan en of hul mamma veilig is nie.

Die idee dat dit verbode terrein is, kan soms ’n weersin in die baba veroorsaak omdat hulle kan voel die kleinding het ongenooid opgedaag en hulle eenkant gestoot. Hulle kan voel hulle was immers eerste daar en dit kan tot afguns of afknouerige gedrag lei.

Dis ’n goeie plan om iemand by wie die kinders gemaklik voel, soos ’n ouma, huiswerker of vriendin (nie pappa nie), naby te hê indien dinge vir hulle te veel word. Dié persoon kan dan ingeroep word en die kroos iewers neem waar dit lekker is, soos die parkie, terwyl die geboorte plaasvind.

Die versorger kan selfs die kinders in die huis laat kolwyntjies bak vir die viering van die nuwe baba. Hulle is dus steeds in die omgewing as hulle vinnig net wil seker maak dat almal in die kraamkamer nog daar en piekfyn is. Dit laat hulle belangrik voel en dat hulle steeds daar behoort, al is daar nou ’n nuwe boetie of sussie.

Baie seën vir jou onvergeetlike watergeboorte tuis!

E-pos jou vrae na yolandi@babaenkleuter.co.za