Kraam is harde werk en dit sou dom wees om dit sonder beplanning aante pak. As jy jou liggaam en gees voorberei en vir ’n paar hulpmiddels sorg wat die sintuie streel, verbeter jy die kans dat die groot dag vlot verloop. Die ervare Johannesburgse vroed-vrou Tina Otte wat dikwels op ons sustertydskrif Your Pregnancy & Baby se Facebookblad ‘n spreker is, deel 15 wenke vir ’n positiewe ervaring.
Ontwatering kan jou kontraksies baie pynliker maak. As jy begin ontwater terwyl jy kraam, kan die bevalling ook onnodig uitgerek word. Probeer om te drink wanneer jy dors is. As jy nie dors is nie, neem in elk geval gereeld klein slukkies water. Jy kan ook ysblokkies of ysies suig.
Water het ongelooflike pynverligtingskragte. Span water in om jou te streel en te kalmeer. Maak seker die bad is diep genoeg dat dit kan voel of jy dryf. Hoe dieper jy in die bad kan wegsak, hoe meer doeltreffend sal die pynverligting wees. As jy nie ’n spesiale geboortebad het nie, gebruik jou eie bad. Selfs ’n stortkop wat op die onderste deel van jou rug gerig word, kan rugpyn verlig.