Kort & kragtige kraamraad

akkreditasie
Kraam geskied in vier stadiums. Dis hoe jy daardeur kom.

Eerste stadium

In dié stadium begin jy kontraksies kry en jou serviks begin oopgaan. Die kontraksies word geleidelik meer intens en meer gereeld.

  • ¬Beweeg rond en verander jou posisie dikwels.
  • Vertel jou geboortemaat, vroedvrou of dokter hoe jy voel.
  • Hou jou blaas leeg.
  • Drink klein bietjies water of suig aan ysblokkies.
  • Span ’n kraambal, warm water, verhitte sakkies, massering, prentjies of die TV in om jou aandag af te trek.
  • Vra pynverdowing as jy dit nodig het.
  • Bly betrokke by die vordering van die kraamproses.
  • Wees voorbereid op die onverwagte.
  • Moenie verbaas wees as jy jou “sleg” gedra nie.
  • Bly aktief en verander gereeld van posisie.

Tweede stadium

Jou serviks is ten volle oop en gereed dat jou baba in die geboortekanaal kan begin afbeweeg. Die tweede stadium word dikwels die drukstadium genoem. Dit kan voel of jy beheer verloor, maar wees gerus – die natuur neem oor en jy’s in goeie hande.

  • ¬Fokus en luister na opdragte. Daar is dikwels ’n effense ruspose tussen die twee stadiums wanneer jou kontraksies verder uitmekaar is.
  • Sê hoe jy voel, soos “ek wil druk”, “my bene is seer” of “dis baie seer”.
  • Sit met steun met jou voete op die bed as jy kan, pleks van met jou voete in stiebeuels.
  • Jy sal die drang om te druk voel. Bly gefokus wanneer dit kom.
  • Sê vir jou dokter of vroedvrou as jy naar voel.
  • Pas ontspanningstegnieke tussen die kontraksies toe.
  • Gebruik gerus ’n geboortestoel of staan handeviervoet, of klim in die bad as jy ’n watergeboorte beplan het.
  • Moenie snaakse geluide probeer inhou nie – laat dit uit, want dit help.
  • Voel gerus met jou hand of jy jou baba se koppie al kan voel.
  • Maak jou gereed om die mees oorweldigende emosies ooit te ervaar wanneer baba uiteindelik uit is en op jou bors neergesit word.

Derde stadium

Dis wanneer die nageboorte of plasenta
loskom. Jou werk is verby. Jou
dokter of vroedvrou hanteer dit.

  • Jou baarmoeder begin vanself weer saamtrek, maar ’n inspuiting van oksitosien in jou dy kan dié stadium verkort of laat begin as dit nie vanself gebeur nie.
  • Jy sal dalk gevra word om te hoes om die plasenta wat losgekom het, vry te stel.
  • Borsvoeding help jou baarmoeder om saam te trek en die plasenta vry te stel.
  • Indien nodig sal jy steke in jou perineum kry.
  • Die vroedvrou sal jou wys hoe om die baarmoeder te “vryf” sodat bloeding verminder word.
  • Maak jou blaas leeg.

Vierde stadium

Dit behels die eerste 24 uur ná die geboorte. Jy word nou fyn dopgehou vir tekens van nageboorte-komplikasies soos bloeding, blaasprobleme, lae bloeddruk of ’n bloedklont.

  • Borsvoed soveel moontlik. Dit verhaas jou herstel en leer jou baba suksesvolle suigtegnieke.
  • Dis normaal om vir nog ’n paar dae te voel hoe jou uterus saamtrek.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees