Kraam in Afrikaans

akkreditasie
Breinspoel jouself in 'n wonderlike geboorte-ervaring in met geboortebevestigings in jou moerdertaal.

Ons gedagtes en ingesteldheid is ons grootste toerusting tydens kraam. Vir die meeste vroue is die grootste uitdaging om hulself uit die pad van hul liggaam te verwyder, sodat die liggaam kan oorneem om die werk te doen waarvoor sy gemaak is. Ons kry maar min oefening daarin om beheer oor ons denke te los sodat ons liggaam en inherente instink kan oorneem.

Geboortebevestigings is ’n kragtige manier om jou gedagtes te leer om jou liggaam in vrede te laat om haar werk sonder enige hindernis te doen. Geboortebevestigings is kort, positiewe gedagtes waarmee ons onsself en ons lyf tydens swangerskap kan breinspoel.

Deur hierdie positiewe gedagtes daagliks in die ses weke voor kraam te herhaal, kondisioneer ons ons denke dat kraam ’n natuurlike proses is. Vroue wêreldwyd getuig dat positiewe gedagtes ’n positiewe inlvoed op hul lyf se werking het, wat ’n korter, egaliger kraam met minder uitdagings meebring.

“Net soos ’n vrou se hart weet hoe en wanneer om te pomp, en haar longe hoe om in te asem, net soos wat sy weet hoe om haar hand weg te trek uit die vuur, so weet haar liggaam wanneer en hoe om die lewe te skenk.” So het Virginia Di Orio, bekende natuurlike geboorteaktivis, dit gestel.

Hoe help geboortebevestigings?

Geboortebevestigings help jou om jou liggaam in staat te stel om tydens kraam oor te neem en haar werk so goed moontlik te doen, sonder dat enige mediese, sosiale of kulturele opvattings die proses verhinder. Wat dit tot gevolg het, is ’n geboorte wat jy kan geniet, ’n geboorte waaruit jy sal stap “met ’n nuwe besef van die mag en krag van die vroulike liggaam, asook ’n begrip van ons vermoë om waarlik ekstase deur kraam te kan beleef,” soos Christiane Northrup, internasionaal bekende vrouedokter en skrywer, dit stel.

Ons persoonlike wêreld weerkaats dit wat ons glo. As ons ons denke kan leer om in ons geboortebevestigings te glo, is dit moontlik om ’n wonderlike kraamervaring te hê. Rockymountainbaby.com stel dit so: “Jou huidige denke beïnvloed jou toekoms. Dit waarin jy glo en waaroor jy dink, is dit wat gaan gebeur.”

Geboortebevestigings help jou om die sensasies tydens geboorte te verwerk, te rasionaliseer en dit in ’n nuwe taal te omskryf sodat jou wese kan fokus op die taak en werking van jou lyf.

Miskien gee die hipnogeboortepraktisyn Lauralyn Curtis se beskrywing van haar eie geboortes, jou ’n klein kykie in die wêreld van hierdie vroulike misterie:

“Ek wens ek kon beskryf hoe dit gevoel het om geboorte te skenk. Daar was beslis sensasie. Baie sensasie, en ek kon dit vóél. Maar dit was goed! Ek het dit selfs geniet. Dit was so oer en sensueel. Ek onthou dat ek met die aanvang van ’n kontraksie sou sê: ‘Hierdie gaan ’n groot een wees’… en dit wás! Maar na die opwelling was daar die gevoel van plesier, ontspanning en liefde.

“Ek het so sexy gevoel. So warm, sag, oop en vol opwinding. As ek ’n woord moes uitdink om te beskryf hoe dit gevoel het om te kraam, is die naaste waaraan ek kan dink: MAG. Maar mag gemeng met oorgawe, sensualiteit, seksualiteit, kwesbaarheid, broosheid en oneindige krag. Die gevoel tydens kraam is beslis nie pyn nie, dis veel meer as dit. Dis transendentaal.”

Maak dit jou eie

Geboortebevestigings is meer doeltreffend in jou moedertaal. Jy kan ’n hele klomp op die internet gaan aflaai en dit tot vervelens toe vir jouself herhaal, maar as Engels nie die taal is waarin jy van dag tot dag dink nie, gaan jy dit moeiliker internaliseer.

Jou moedertaal is outomaties, dis die taal waarin jy reageer, vertroos, huil, liefhet en ekstase bereik – sonder om ooit daaroor te dink. As jy jou vinger stamp, voel jy “eina!”.

’n Geboortebevestiging moet jou brein leer om jou liggaam te vertrou en die instinktiewe proses te laat oorneem. Sou jy dit in ’n ander taal as jou moedertaal doen, is daar aanvanklik afstand tussen jou en daardie sinnetjies.

Jou brein moet tweeledig fokus: om die taal om te skakel in iets wat vir jou instinktief en alledaags is, én om jou denkpatrone te wysig.

Dit kan veroorsaak dat jy sukkel om die positiewe gedagtes jou eie te maak en werklik daarin te glo. Die proses word oneg. Ons kry daagliks duisende boodskappe in verskillende tale, maar baie van hierdie boodskappe bly generies tot dit in jou eie taal tot jou spreek. Dan begryp jy skielik die diepte en waarde daarvan.

Wees prakties

Skep vir jouself die tyd en ruimte om vir ’n paar minute per dag gefokus die geboortebevestigings van jou keuse vir jouself te herhaal en daaroor te dink.

Skryf jou positiewe gedagtes op kaartjies en plak dit op die spieël of langs jou bed, in die motor, langs die stoof – enige plek waar jy dit gereeld kan sien en herhaal om dit deel van jou bewussyn en onbewuste te maak.

Dit neem ses weke om jou denkpatrone hieroor te vestig. Maak dus seker dat jy vroeg genoeg hiermee begin – van 30 weke swanger af is ’n goeie tyd.

Blaai om vir ’n paar voorbeelde van positiewe gedagtes wat my deur ’n pynlose, ekstatiese kraam gedra het. Dit is verwerk uit die boek Hypnobirthing: the Mongan Method: A Natural Approach to a Safe, Easier, More Comfortable Birthing. Dis geskryf deur Marie F. Mongan.

Jy is natuurlik welkom om jou eie geboortebevestigings te maak of dit met teksverse wat hierby aansluit, aan te vul.

Positiewe gedagtes

  • Ek het ’n sterk en gesonde baba.
  • Ek skuif alle vrese opsy terwyl ek voorberei vir die geboorte van my baba.
  • Ek voel ontspanne en gelukkig dat ek my baba uiteindelik gaan ontvang.
  • Ek’s gefokus op ’n maklike geboorte.
  • Ek vertrou my lyf wat presies weet wat om te doen, en ek volg my lyf se leiding.
  • My liggaam en my baba werk in harmonie saam.
  • My gedagtes is ontspanne en my lyf is ontspanne.
  • Ek is vol selfvertroue en voel veilig en geborge.
  • My spiere werk in harmonie om die geboorte makliker te maak.
  • Ek ontspan ten volle en gaan gemaklik én maklik deur kraam.
  • My serviks maak oop en laat my baba toe om rustig na onder te beweeg.
  • Ek ontspan ten volle en laat my geboorte geheel en al aan die natuur oor.
  • Ek sien my baba glad en gemaklik uit my baarmoeder kom.
  • My baba se geboorte gaan maklik wees, want ek’s ontspanne en vol selfvertroue.
  • Ek haal gemaklik en reg asem en dit laat alle spanning verdwyn.
  • Soos my kraam vorder, reik ek al hoe dieper na my baba uit.
  • My baba is reg geposisioneer vir ’n maklike geboorte.
  • Ek werk saam met my lyf.
  • Ek laat my geboorte aan my baba en my liggaam oor.
  • Ek is daarop voorbereid om enige rigting wat my geboorte kan inslaan, kalm tegemoet te gaan.
  • Elke kontraksie bring my baba nader aan my.
  • Ek verdiep my ontspanning terwyl ek dieper in kraam gaan.
  • My lyf bly stil en slap.
  • Ek gaan elke kontraksie met net my asemhaling tegemoet.
  • Ek ontspan al hoe meer, soos my kraam vorder.
  • Met elke kontraksie haal ek stadig asem.
  • Ek sien hoe my baba deur pienk en gesonde weefsel na my toe kom.
  • Ek skuif alle vrese opsy en verwelkom my baba met vreugde.
  • My lyf se grootte is perfek vir my baba

Jou geboortenaat kan help:

Jou man kan natuurlik ook bystaan deur self positiewe gedagtes vir jou te prewel tydens kraam. Jy sal nie glo watter krag jy uit sy ondersteuning en begrip kan put nie. Hier is ’n paar voorbeelde:

  • Ontspan, laat jou hele lyf wegdryf in ontspanning.
  • Hou jou spiere slap en gemaklik, voel die kalmte en vrede.
  • Laat hierdie geboorte aan jou lyf oor wat weet hoe om lewe te gee.
  • Ontspan en vertrou jou liggaam om te weet wat om te doen.
  • Jy en jou lyf werk in volle harmonie.
  • Neem diep asemteue.
  • Elke asemteug wat jy neem, is liefdevolle energie na ons baba toe.
  • Ons baba ken sy pad en gaan maklik en gemaklik uitkom.

Ek kán

Aanvaar dat jy hierdie reis moet aanpak en vertrou jou baba en lyf se gewilligheid om jou in die proses te help. Hier is nog ’n paar positiewe gedagtes wat jy oor jou kraam kan uitspreek:

  • Ek voel nie pyn nie, maar ’n interessante sensasie wat al my aandag en fokus verg.
  • Die krag en intensiteit van my kontraksies kan nie sterker as ek wees nie, want dit is ek.
  • My lyf is pragtig en wonderlik geskape.
  • Sowat 300 000 vroue gaan vandag saam met my die lewe skenk. Kraam is harde werk en ek is gereed daarvoor, ek kan dit doen.
  • Om kraam en geboorte te kan ervaar, is ’n groot geskenk.
  • Dís waarvoor my liggaam ontwerp is.
  • Alles verloop volgens plan.
  • Met elke kontraksie moet ek dieper asemhaal om te sorg dat daar genoeg suurstof by my baba uitkom.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees