Vraag:

Ek beplan ’n natuurlike, normale geboorte. Hoe verloop die kraamproses en wat kan ek verwag?

Antwoord:

Laat ek eers die verskil tussen ’n natuurlike en ’n normale geboorte verduidelik. ’n Natuurlike geboorte beteken jy begin spontaan kraam sonder dat daar enige inmenging is. Jou baba word dus nie aangehelp met ’n induksie of rek-enstroop van die serviks nie, en ook nie met natuurliker metodes soos die eet van pynappels of die drink van kasterolie nie.

’n Natuurlike geboorte behels ook dat jy sonder pynmiddels die lewe skenk en in die posisie wat jy verkies.¬ ’n Normale geboorte is ’n vaginale geboorte sonder instrumente soos ’n tang. Die kraamproses verloop as volg:

Eerste stadium

Fase 1: Latente kraam

Dis die heel eerste stadium van kraam en dikwels is jy glad nie eens daarvan bewus nie. In dié fase word jou serviks ryp en begin jou baba ál meer van binne teen die serviks druk. Jy sal ál meer Braxton Hicks-kontraksies voel en ’n slymerige afskeiding hê.¬

Hierdie fase eindig wanneer jou water breek of wanneer jy 5 cm ontsluit het. Die kontraksies voel soos ligte tot matige menstruasiepyne.

Fase 2: Aktiewe kraam

Jou water het waarskynlik nou gebreek of jou kontraksies het reëlmatig en sterk begin word. Dit is die aktiewe ontsluitingsfase. Jou baba druk nou met elke kontraksie ál harder teen die serviks.¬

Dis belangrik dat jy in hierdie stadium aktief bly. Stap rond, klim trappe of sit op jou oefenbal. Probeer regop bly in ’n hurkende posisie, want dit maak jou bekken 30 persent groter oop.

As jy in ’n hospitaal kraam, sal jy waarskynlik in hierdie stadium aan ’n monitor gekoppel wees, wat baie ongemaklik kan wees.¬Hou jou blaas leeg omdat dit help dat jou babatjie vinniger in die geboortekanaal afdaal.

Wanneer jy op 10 cm ten volle ontsluit het, skakel jy vanself oor na die tweede stadium en die drukfase. Verwag om met ’n eerste babas sowat 1 cm per uur te ontsluit en 1,5 cm met ’n tweede baba. As jy ’n watergeboorte gekies het, sal jy in die kraambad gehelp word wanneer jy 8 cm ontsluit het en dan daar bly tot 10 cm.

Tweede stadium

Drukfase

Jou liggaam neem nou oor en begin vanself druk. Dit sal voel soos wanneer jy ’n stoelgang passeer as jy hardlywig is.

Dis ’n re eks wat deur hormone veroorsaak word en baie moeilik om te keer of terug te hou. Gebruik hierdie gevoel en druk saam met jou liggaam en baba in ’n afwaartse rigting. As jy hurk, mik vir jou hakke. As jy op jou rug lê en jou voete is in die lug, mik vir die dak. Laasgenoemde posisie is egter nie aan te beveel nie.

Die drukfase kan baie vinnig wees of tot 45 minute duur. Die baba se koppie is die grootste deel en die moeilikste om uit te druk.¬ Dis belangrik om in die drukfase na jou liggaam te luister om te keer dat jy skeur. Haal diep asem, maak jou oë en jou mond toe. Probeer sien hoe jy die lug onder uitpers en hoe jou baba uit die vagina beweeg.

Jou baba sal ondertoe kyk as die koppie kroon.¬ Net voor die koppie kroon sal jy ’n brandgevoel ervaar. Hou op druk en haal drie keer vinnig asem sodat jy die ringspier en perineum kans gee om te ontspan.¬ Dit help voorkom dat jy skeur.

Moet nooit deur die brandgevoel druk nie; dit is ’n beskermingsmeganisme. ¬Die drukfase is baie makliker as jy in ’n posisie is wat vir jou normaal voel, soos om te hurk.

Derde stadium

Daar is twee metodes: passief en aktief. Passief beteken jy wag tot jou liggaam die plasenta self loslaat. Dit kan tussen 10 minute en twee uur duur. Dié metode verhoog die gevaar van bloeding ná die bevalling.

Die gewildste metode is aktiewe hantering: Die vroedvrou spuit oksitosien in jou bobeen en sit effense traksie op die naelstring terwyl sy jou baarmoeder net bo jou blaas ondersteun.

As jy alles so natuurlik as moontlik wil doen, moet jy die passiewe metode kies. Verkort dit deur ’n dun strooitjie in klein bietjie water in ’n botteltjie te blaas. Dit veroorsaak drukking op jou maagspiere wat jou baarmoeder laat saamtrek.¬ Borsvoed jou baba ook dadelik – dit verhoog die vlak van oksitosien in jou brein, wat jou baarmoeder laat saamtrek en so die plasenta help loslaat.

Vierde stadium

Jou babatjie is nou gebore. Dis belangrik dat hy in die vierde stadium borsvoed vir so lank as wat hy wil. Dit hou jou baarmoeder saamgetrek en bring jou bloeding onder beheer. Jou vroedvrou sal kort-kort seker maak dat jou lyf stabiliseer en nie in skok gaan nie. Die vierde stadium eindig vier tot ses uur ná die geboorte.