Epidurale verdowing behels dat ’n plaaslike verdowingsmiddel (dus een wat net ’n deel van jou lyf verdoof) in die epidurale ruimte in die rugstring gespuit word.

Dié ruimte is tussen die rugmurg en die dura, ’n dik membraan wat die rugmurg omring. Danksy die inspuiting voel jy geen pyn van jou naeltjie af ondertoe nie.

Dis omdat die pynboodskappe wat die senuwees van die baarmoeder en geboortekanaal tydens die bevalling stuur, verdoof word.

Lees: Volle verhaal van jou epiduraal

Die inspuiting self is ook nie te seer nie want die vel van jou rug word ook verdoof waar die epidurale naald ingesteek word.

Dis baie onwaarskynlik dat jy enigiets meer as matige ongemak sal voel.

Daar is drie maniere waarop die verdowingsmiddel in die epidurale ruimte gespuit kan word:

1 ’n Enkele aanvanklike inspuiting van ’n spesifieke hoeveelheid verdowingsmiddel;

2  Die aanvullende stelsel, waar ’n kateter in die epidurale ruimte geplaas word en die verdowingsmiddel met gereelde tussenposes ingepuit word; en

3  Deurlopende invloei van die middle deur ’n epidurale kateter. Dié vloei word deur ’n pompie gereguleer en diesnelheid waarteen die doofmiddel inloop, word deur die dokter bepaal.

Lees: Kies jy pyn... of pynstillers?

Die omvang van die middel hang grootliks af van die hoeveelheid wat gebruik word. ’n Matige oplossing sal klein senuweevesels blok en ’n sterker oplossing blok die meer bestande vesels.

DIE PLUSPUNTE

Daar is ’n hele paar voordele aan epidurale verdowing verbonde.

• Dit bied gewoonlik uitstekende en taamlik vinnige pynverligting gedurende die bevalling.

• Dit laat jou toe om te rus as die bevalling lank duur.

• Sommige vroue vind dat hulle ’n meer positiewe geboorte-ervaring het as die ongemak van die geboorte verlig word.

• Wanneer ander hanteringsmeganismes soos massering nie meer help nie, is epidurale verdowing dalk net wat jy nodig het om die uitputting, prikkelbaarheid en moegheid te bowe te kom. Dit kan jou toelaat om te rus, ontspan en focus en dit gee jou die krag om ’n aktiewe deelnemer aan jou geboorte-ervaring te wees.

Lees: Epidurale verdowing

• Anders as met baie ander pynverligters, bly jou verstand helder. Jy is bewus van die kontraksies, maar voel geen pyn nie.

• Die verdowing kan regdeur die kraam geld en so vroeg of laat begin as wat jy dit verkies. Weet net dat dit dalk nie toegedien sal word as die kraamproses al baie ver gevorder het en jy nie meer kan stilsit vir die toediening nie.

DIE KWELLINGS

In 20 persent van gevalle kan epidurale verdowing die krag van die kontraksies laat afneem en hulle ook minder maak, sê dr. Edwin Assan, ’n verloskundige en ginekoloog aan die Oos-Rand. Dit kan ook in die tweede fase vankraam die drang om te druk laat afneem, wat die geboorte kan uitrek.

“Dit kan die amperma angstig maak want al hoor sy haar baba is hier, kan daar ’n uur later nog niks gebeur het nie omdat die verdowing die proses vertraag. Dis baie stresvol vir die ma, en dit vergroot die kans van ’n instrumentgeboorte – en sulke ingrypings kan uiteindelik ’n klein gevaar vir die baba inhou,” sê Edwin.

Susan Lees, vroedvrou by Birth Options in Kaapstad, sê dat terwyl ’n mens met epidurale verdowing nog effens kan voel, dit die pyn laat verdwyn sodat jy aan die slaap kan raak terwyl jy kraam. Dit kan beteken dat jy jou van die geboorteproses los maak.

“Epidurale verdowing kan ’n mens se bloeddruk verlaag, wat fetale nood kan veroorsaak,” voeg sy by. Susan meen dat kraam in baie gevalle sonder epidurale verdowing beheer kan word en dat dit voordelig vir ’n ma is om haar geboorteproses “aan te gryp” en ’n manier te vind om die pyn te hanteer met behoorlike voorgeboorte inligting en kraamondersteuning.

Lees: Wenke om kraampyne makliker te hanteer

“Dit sorg vir ’n reuse sin van prestasie, selfbeeld en selfvertroue in jou vermoë om die pyn van geboorte aan te durf en daarmee te werk,” sê sy. “Aan die ander kant is epidurale verdowing vir baie ma’s ook voordelig en sommige vaginale geboortes word ‘gered’ deur ’n epiduraal.

“As jy na ’n pynlose geboorte streef, is epidurale verdowing beslis ’n opsie wat jy met jou dokter moet bespreek.”

WAT IS N' AKTIEWE EPIDURAAL? 

Dit behels epidurale verdowing wat op die gebruiklike manier toegedien word, maar met ’n verskillende mengsel van medisyne. Dit verdoof die sensoriese senuwees sonder om die motoriese senuwees te demp.

As dit goed werk, kan jy beweeglik wees, maar jy sal deurentyd onder die toesig van ’n geboortemaat of vroedvrou moet wees. Dit is nie gewild by dokters nie omdat dit baie onvoorspelbaar is en ook verskillende uitwerkings op

elke vrou het. Dit beteken ook dat die narkotiseur langer byderhand moet wees en sal dus ook duurder uitwerk. ?