1. Hou jou slim!

Vul jou voorraad selfhelpboeke, meditasie- en ontspanningsbevestigings aan. Hou jou brein aan die gang deur iets te lees wat jy nie normaalweg sou nie. Lees hardop vir jou boepie voor en praat en sing, want jou baba kan jou stem reeds op 24 weke hoor.

2. Eet vrugte en groente

In Suid-Afrika kan ons heeljaar uit die heerlikste vrugte kies. Sny ’n paar appels, mango’s, kiwivrugte, aarbeie en piesangs op en skep muesli en jogurt bo-oor sodat jy ekstra vesel en kalsium kan inkry. Hierdie vrugte is vol vitamien C, wat jou help om yster te absorbeer en jou immuunstelsel versterk.

Oranje vrugte (soos appelkose, spanspek en mango’s) is ook vol betakaroteen, ’n veilige vorm van vitamien A. ’n Klein daaglikse dosis vitamien A is nodig vir weefselgroei (jou liggaam neem dit wat jy nodig het op deur die vrugte en groente wat jy daagliks eet), maar wanneer dit in te groot hoeveelhede geneem word, kan dit geboorte-afwykings veroorsaak. Dis waarom jy dit nooit as ’n aanvulling moet drink nie.

3. Waterlafenis

Warm water is strelend. As jy nie in Kaapstad woon nie, kan jy gerus tyd opsysit vir ’n lang bad sodat jy kan ontspan en met jou kleinding kan kommunikeer. Hierdie tydjie bied jou ook die geleentheid om net op jou baba te fokus. As jy al ver swanger is, sal jy sien hoe sy in reaksie op jou aandag in die water beweeg – moet net nie die water te warm maak nie. As dit te warm is vir ’n warm bad, kan jy in die swembad spring. Swem bly wonderlike pynverligting – dit neem die druk van jou gewrigte af en versterk jou oorwerkte spiere.

4. Laat die liefde blom

Gedurende swangerskap kan die toename in bloedvloei en ekstra hormone jou buitengewoon mooi laat voel. Vir baie vroue is seks gedurende hul swangerskap die beste seks ooit. En behalwe as die dokter jou afraai, kan seks goed wees vir jou baba ook. ’n Orgasme beteken vir jou baba ’n toename in bloedvloei en meer suurstof en voeding. Dit laat ook jou baarmoeder saamtrek, wat jou baba laat voel of hy ’n drukkie kry. As jou dokter dus toestem moet jy die geleentheid aangryp.

5. Slaap soveel moontlik

Die lekker van ’n eerste swangerskap is dat jy ’n goeie verskoning het om ’n bietjie te slaap wanneer die lus jou ook al oorval. Dié wat by hul tweede of derde spruit trek, sal weet wat ’n luukse dit is om tydens jou swangerskap te rus. Dis nie maklik om in die eerste en laaste trimester te slaap nie; doen dit dus gerus sodra die geleentheid hom voordoen. Voeg ’n paar druppels laventelolie by jou badwater (dis veilig), geniet ’n koppie rooibostee en onthou om jou rug met kussings te stut sodat jy gemaklik kan slaap.

6. Word rustig met joga of pilates

As jy ’n bietjie rondvra of soek, sal jy ’n klas vind wat vir swanger vroue geskik is. Danksy al die strekoefeninge sal dit jou nie lank kos om die soort soepelheid te ontwikkel wat jou in die kraamproses gaan help nie. Om diep te kan asemhaal, is ’n wonderlike vaardigheid wat jou goed te staan sal kom terwyl jy kraam en dit kan jou kontraksies baie minder intens laat voel. Hierdie oefeninge sal ook help dat jou liggaam ná die geboorte vinniger na normaal terugkeer.

7. Bly fiks

’n Flink stappie wat jou hartklop versnel behoort jou in ’n kits nuwe energie te gee. Moet jouself nie te moeg maak of verder dryf as waarteen jou lyf jou waarsku nie. Onthou om vir veiligheid so ver moontlik van aankomende verkeer af te loop. Vra ’n vriendin om saam met jou in die park te gaan stap.

8. Trek mooi aan

Swangerskap is ’n duur affêre, maar moenie van jouself vergeet nie. Jou lyf verander elke week en om mooi te voel, gaan jy klere nodig hê wat jou lyf en jou boepie vlei.

9. Maak tyd vir jouself

Bederf jou so gereeld as wat jy kan. Begin met ’n ontspannende bad en ’n uitgerekte gesigsbehandeling en eindig jou aand deur ’n goeie fliek te kyk terwyl jy jou naels verf. Dis waarskynlik die laaste keer in jou lewe dat jy alleentyd met jouself of met jou oudste gaan deurbring; benut dit dus so goed as wat jy kan.

10. Lê met jou voete in die lug

Swangerskapshormone laat die wande van die are ontspan. Dit vertraag jou bloedvloei en veroorsaak spatare en geswelde enkels en bene. Help jou bloedsomloop aan deur gereeld jou enkels te draai en jou voete op en af te buig. Ná 20 draaie en voetwippe kan jy jou voete laat ontspan in ’n voetspa of in ’n skottel warm water laat rus. Vryf jou voete met ’n verfrissende voetbalsem in. Beproef ook refleksologie. ’n Goeie terapeut wat bewus is van jou swangerskap kan wondere verrig om daardie knaende swangerskapspyne te besweer.