Watter grootte klere moet ek vir my pasgeborene koop? Koop grootte 0 tot 3 maande tensy jou baba baie klein is. Babas groei vinnig en kan pasgebore kleertjies binne ’n week ontgroei! Vra ook mense wat klere as geskenk gee om vir ouer ouderdomme te koop sodat jy nie die eerste maande met ’n oorvloed klere opgeskeep sit en daarna niks het nie.

Is ’n spesiale ruilstasie vir my baba werklik nodig? Jy kan jou baba se doek ook op die bed, vloer of ’n kassie ruil, maar ’n ruilstasie is baie nuttig omdat jy alles wat jy vir die doekruilery nodig het, byderhand kan hê. Jou rug en skouers kan seer word as jy altyd op ongerieflike plekke doeke ruil.

Ek is bang vir wiegiedood. Watter voorsorgmaatreëls kan ek tref? Moenie rook terwyl jy swanger is nie en vermy passiewe rook. Moet ook nie toelaat dat enigiemand in jou huis rook nie. Lê jou baba altyd op haar ruggie of sy neer om te slaap. Sit ’n vlak wiggie onder haar een sy en wissel die kant af. Moet haar nie te warm toemaak nie. Moet haar ook nie by julle in die bed tel as julle gedrink of dwelms of medikasie gebruik het, of as een of albei van julle ’n roker is nie. As jou baba siek is, soek dadelik mediese hulp. Belê gerus in ’n monitor wat jou laat weet as baba ophou asemhaal.

Moet ek vir baba fopspene koop? Baie pasgebore babas kom maklik sonder ’n fopspeen klaar en party sal dit selfs uitspoeg wanneer jy dit vir hulle gee. As jy ten gunste van ’n fopspeen is, skaf aanvanklik net een aan en kyk eers of jou baba daarvan hou.

Is ’n normale kot nie te groot vir my pasgebore baba nie? As jy voel jou baba verdwaal in haar kot, kan jy haar aanvanklik in haar stootwaentjie of ’nwiegie laat slaap, maar dis nie nodig nie. Lê jou baba wel so neer dat haar voetjies byna aan die voetenent van die kot raak sodat sy haar nie te diep onder die kom­bersies kan inwikkel nie.

Moet ons van die begin af vir baba haar eie kamer inrig? In die eerste maande is dit dikwels geriefliker om haar by julle in die kamer te laat slaap en het sy dus nie regtig haar eie kamer nodig nie.

Het ek ’n spesiale drom vir my doeke nodig? Vuil doeke het maar ’n klankie en tensy jy beplan om dit elke keer in ’n buitedrom te gooi, kan ’n doekedrom wat dig seël nuttig wees. Waarna moet ek kyk as ek ’n stootwaentjie koop? Die stootwaentjie moet stewig wees en verkieslik ’n vyfpunt-harnas hê. Dit moet maklik wees om te stoot en draai en die handvatsels moet op ’n gemaklike hoogte vir jou wees. As jou man baie lank is, laat hy ook kyk of die hoogte vir hom werk. Toets hoe maklik dit opgevou word (hou in gedagte dat jy dit dalk alleen sal moet hanteer met ’n baba op die arm) en of dit opgevou in jou motor pas.

Is ’n nagliggie nou al nodig? ’n Nag­liggie sal help dat jy jou baba in die nag kan voed en haar doek kan ruil sonder dat die lig haar wakker maak.

Het ons pasgebore baba speelgoed nodig? Jou pasgebore baba se heel beste speelgoed is haar ouers. Sy kan ure na jul gesigte staar en het nog nie ander speelgoed nodig nie.

Maak dit sin om ’n kampkot aan te skaf? ’n Kampkot help as julle baie reisen kan selfs as speelhok dien. Jou baba kan veilig daarin slaap, maar jy kan jou rug seermaak as jy ’n ouer baba daaruit moet tel.

Moet ek ’n eetstoeltjie koop? Jou baba sal eers teen so ses maande oud ’n eetstoeltjie nodig hê wanneer sy vaste kos begin eet. Baie ma’s voer dan hul baba sommer in hulle motor­stoeltjie. Die voordeel van ’n eetstoeltjie is egter dat baba saam met julle aan tafel kan sit. Maak seker die eetstoeltjie wat jy aanskaf, het ’n harnas wat jou baba nie self kan los­knip nie. ’n Goeie idee is eetstoeltjies wat hoogteverstelbaar is of omskep kan word in ’n aparte stoeltjie en tafeltjie wanneer jou kind ouer word.

Is ’n koorspen nodig? Ja. Dit is een van die min dinge wat jy van dag een af móét hê sodat jy kan agterkom as jou baba koors het.

Is dit sinvol om nou al doeke te koop? Doeke is duur en dit maak beslis sin om vooraf ’n voorraad opte bou, veral as daar ’n spesiale aanbieding is. Onthou egter om doeke vir verskillende ouderdomme aan te skaf, aangesien baba soms besonder vinnig groei en jy opgeskeep kan wees met doeke wat te klein is. Sommige babas se velletjie is ook sensitief vir spesifieke handelsmerke. ’n Alternatief is om nou reeds elke maand geld vir doeke opsy te sit.

Moet ek voor die geboorte ’n pediater vind? Die meeste hospitale het vaste pediaters wat die baba nágeboorte ondersoek en baie ouers besluit om by hierdie pediater te bly. Dis egter nie ’n slegte idee om vooraf te soek na iemand wat aan jou spesifieke behoeftes voldoen nie. Bel gerus pediaters in jou omgewing en maak ’n afspraak. Vra uit oor die dinge wat vir jou belangrik is. Baie pediaters werk net by sekere hospitale: As jy dus wil hê iemand spesifieks moet jou baba ná geboorte ondersoek, moet jy seker maak dat hy of sy wel by die hospitaal werk waar jy gaan kraam.

Moet ons my kat weggee voor baba se koms? Dis ’n ouvroustorie dat ’n kat jou baba se asem kan “steel” en dus heeltemal onnodig om jou geliefde kietsie die deur te wys. Katte is wel lief daarvoor om in kotte of by babas te lê en dis ’n goeie idee om jou kat maar uit baba se kamer te hou. Hou baba se kamerdeur toe wanneer sy slaap of gooi ’n net oor die kot om die kat uit te hou.

Sal ek ’n borspomp nodig kry? ’n Borspomp is nie noodsaaklik as jy heeltyds by jou baba is nie, maar kan jou meer vryheid gee as jy dalk wil uitgaan. Dit kan ook hemelse verligting bring in die vroeë dae wanneer jou melk inkom en dit voel of jou borste wil ontplof. Sou jy terugkeer werk toe en jy beplan om aan te hou borsvoed, is ’n borspomp onontbeerlik. Belê in ’n goeie borspomp wat ’n groot hoeveelheid melk binne ’n kort tydjie uitmelk en jou borste nie seermaak nie.

Is ’n voedingsbra nodig? Vinnige en maklike toegang tot jou borste is nodig as jy borsvoed en ’n voedingsbra is dus nuttig. Die beste tyd om ’n voedingsbra te koop is twee tot vier weke voor baba se verwagte geboortedatum. Kyk of jy dit maklik met een hand kan losmaak. Koop minstens twee; drie is dalk beter. Skaf ook borsdoekies aan wat jy binne die bra dra, want aanvanklik kan jou borste lek. Kies eers weggooibare borsdoekies met ’n absorberende jel binne en plakstrokies wat dit in posisie hou. Sodra jou melktoevoer meer stabiel is, kan jy herbruikbare lapborsdoekies oorweeg as jy geld wil spaar.

Is ’n bababad regtig nodig? Jy kan jou klein babatjie in die wasbak was of in die groot bad saam met mamma of pappa, maar bababadjies is goedkoop en sal die lewe vir jou heelwat makliker maak. As jy nie ’n kompaktum met ’n ingeboude bababad het nie, plaas die badjie op ’n kas of stewige tafel op ’n hoogte waar jy baba maklik kan hanteer sonder dat dit te veel stremming op jou rug plaas.  Is ’n voedingskussing nodig? Dis nuttig, maar ’n lekker dik gewone kussing waarop baba tydens voeding kan lê en wat haar gelyk met jou bors bring, dien dieselfde doel.

Moet ek voor die geboorte bottels koop? Byna alle vroue kan hul baba borsvoed, selfs al sukkel hulle aanvanklik. Dit is dus onnodig om ’n hele stel bottels aan te skaf omdat jy bang is borsvoeding gaan nie werk nie. Byt vas en druk deur – dis die moeite werd.

Moet ek ons huis nou reeds kindveilig maak? Dis ’n goeie idee om dit nou reeds stukkie vir stukkie te begin doen. As baba eers daar is, sal jy genoeg ander dinge hê om jou besig te hou.

Wat moet ek koop om baba se toebehore mee te steriliseer? Jy kan kies tussen chemiese steriliseermiddels (aanvanklik goedkoop en kan sonder elektrisiteit gebruik word), ’n mikrogolfsteriliseerder (’n bietjie duurder, maar vinniger) of ’n losstaande elektriese steriliseerder (duur, maar dit kan dikwels ook vir kosverwarming gebruik word). Maak eers seker watter soort bottels jy gaan gebruik, aangesien nie alle bottels in alle steriliseerders pas nie.

Hoe groot moet my baba se doeksak wees? Groot genoeg vir ’n ekstra stelletjie klere, drie doeke, vogdoekies, boudjieroom, ’n kombersie en ’n spoegdoek. As jy gaan bottelvoed, moet daar ook plek wees vir bottels en ’n klein houertjie formulemelk.

Hoe nodig is ’n babamonitor? In ’n kleinerige huis is ’n babamonitor onnodig, want jy sal baba in elk geval hoor huil. Maar as jy graag buite in die tuin werk, julle ’n dubbelverdiepinghuis het en baba bo slaap, of jul huis so groot is dat jy nie geluide uit die slaapkamer kan hoor nie, is ’n babamonitor ’n goeie belegging.