’n Hupstootjie vir jou boontjie

akkreditasie
Volg ons maklike wenke om jou toekomstige baba die beste voorsprong in die lewe te gee.

Jou klein boontjie se brein en lyfie groei regdeur jou swangerskap. Een van die grootste geskenke wat jy jou ongebore baba dus kan gee, is om gesond te leef om te help verseker dat hy as ’n fris en gesonde baba die wêreld betree, en om goed te beplan.

'n Gesonde swanger leefstyl

Eerstens is ’n gebalanseerde dieet met kos uit al die voedselgroepe belangrik.

Dis beslis nie nou die tyd om daardie ekstra paar kilo’s af te skud nie – kenners sê jou dieet moet genoeg proteïene en energie bevat dat jou baba genoeg gewig kan aansit, aangesien babas met ’n lae geboortegewig later meer geneig is tot hartsiektes, hoë bloeddruk en diabetes.

Drink daarby ’n vitamienaanvulling sodat jy seker is jy kry genoeg noodsaaklike voedingstowwe in soos foliensuur, wat ’n rol speel in die voorkoming van spina bifida. Gereelde dokterbesoeke sal verse-ker dat probleme so gou moontlik opgespoor en behandel word.

Respekteer die 3 moenies

Daar is drie groot moenies tydens swangerskap: Alkohol, dwelms en sigarette. Rook hou verskeie nadele vir jou baba in: Die nikotien laat jou are saamtrek sodat baba minder suurstof kry en koolstofmonoksied in sy lyf ophoop. Studies wys dit kan bydra tot ’n laer geboortegewig. Nog ’n studie het bevind rokende swanger vroue se kinders het dikwels kleiner breine, en hoe meer ’n swanger vrou rook, hoe groter is die risiko vir gedragsprobleme by haar kind.

Die grootste gevaar van alkoholmisbruik is fetale alkoholsin-droom (FAS) en die gepaardgaande verstandelike gestremdheid. Net ’n enkele keer se oordadige drankmisbruik tydens swangerskap kan lei tot FAS. Onthou, jou baba drink as jy drink.

Dwelmmisbruik kan jou baba se organe beskadig en keer dat hy normaal groei en ontwikkel. Dit vergroot jou kanse op ’n miskraam.

Begin ’n dagboek of -plakboek

Skryf neer hoe jy gevoel het toe jy uitgevind het jy is swanger, hoe ander mense op die nuus gereageer het, hoe julle op ’n naam besluit het, wanneer julle die geslag vasgestel het, en enige snaakse stories wat met jou swangerskap verband hou, byvoorbeeld jou lus vir vreemde kosse.

Neem foto’s, skryf briewe vir jou ongebore baba, of skep vir baba ’n storie oor die afwagting op sy koms. Daar is vir ’n kind niks lekkerder as om te hoor hoe hy van ’n vonkel in jou oog tot ’n klein mensie gegroei het nie – neem dus foto’s van jou groeiende boepie, hou al sy sonarfoto’s, asook foto’s van jou ooievaarstee, die oumas en so meer.

As jy nie kans sien vir plakboek hou nie, kan jy alles in ’n mooi boksie bêre sodat julle dit eendag saam kan uitpak terwyl jy hom vertel net hoe gelukkig julle was om te hoor hy is op pad!

Bind met jou baba

Jy hoef nie te wag tot jou baba gebore is om ’n spesiale band met haar te ontwikkel nie – sodra jy die positiewe strepie op die toetsie sien, kan binding begin. Maak tyd elke dag om rustig te raak. Gesels met jou baba, vryf oor jou magie, geniet dit om haar te voel skop. As sy ná geboorte in jou oë kyk en jou stem hoor, sal julle soos ou bekendes voel.

Kies ’n goeie pediater

Jou kleinding se pediater is iemand saam met wie jy nog ’n lang pad gaan stap. Maak seker jy kan die pediater sonder huiwe-ring vertrou met jou kosbare vraggie se gesondheid deur reeds tydens swangerskap te begin soek na iemand wat aan jou ver-eistes voldoen.

Gee hom breinkos!

Kenners verskil oor die waarde van voorgeboortelike stimulasie van die fetus se intelligensie. Terwyl sommige studies ’n band tussen fetale stimulasie en hoë intelligensie toon, is ander wetenskaplikes skepties. Almal is dit wel eens dat dit nie skade kan aanrig nie – speel dus gerus vanaf vyf maande vir jou baba musiek in die baarmoeder (net nie te hard nie). Dit bevorder blykbaar jou baba se vermoë om te leer. Of lees vir baba – dis goed vir taalontwikkeling.

Jy kan ook jou baba se brein ontwikkel deur breinkosse te eet, soos kosse wat omega 3-vetsure bevat. Dit sluit in donkerkleurige vis of visolie, kos wat yster bevat soos spinasie, boontjies en hoender (dis nodig om genoeg suurstof na baba se brein te stuur), en genoeg proteïene vir breinbou. Anti-oksidante soos tamaties kan baba se breinweefsel help beskerm.

Volg ’n noodhulpkursus

Met die koms van ’n nuwe baba lê ’n hele leeftyd van pleisters opplak en seerplekke gesond soen voor – maar ook die gevaar van die soort seerkry waarvoor soene nie genoeg gaan wees nie. Hoe voorbereid is jy op die hantering van noodgevalle?

Noodhulp vir babas en volwassenes verskil. Jou swangerskap is die ideale tyd om jou toe te rus vir moontlike latere noodgevalle deur ’n noodhulpkursus vir babas te volg sodat jy kan weet wat om te doen. Dis ’n wenresep vir gemoedsrus en jou baba se veiligheid.

Wees ontspanne

Kwaai spanning en trauma terwyl jy swanger is, skei sekere hormone in jou lyf af wat jou baba kan beïnvloed. Een studie het gewys hewige stres, soos die verlies van ’n geliefde of ’n ernstige natuurramp, kan die gevaar vergroot dat jou kind skisofrenies word. Ander studies het gewys die babas van ge-spanne ma’s is geneig om vroeër gebore te word en is dikwels ondergewig.

Wend ’n doelbewuste poging aan om stres in jou werkomgewing te verminder, en leer ontspanningstegnieke aan soos diep asemhaling. Soek hulp as jy regtig sukkel om te ontspan.

Kry jou admin in orde

’n Nuwe toevoeging tot die gesin noodsaak beter toekomsbeplanning. Jou babatjie is honderd persent van jou en jou ander helfte afhanklik. Niemand wil daaraan dink nie, maar sou albei van julle iets oorkom, is dit noodsaaklik dat julle van dag een van sy kosbare lewetjie af reeds ’n plan in plek het om te sorg dat daar genoeg voorsiening gemaak word vir sy versorging. Gaan spreek ’n finansiële raadgewer vir raad oor lewensversekering en maak seker jul testament is in orde.
Dis nou ook ’n goeie tyd om te dink aan wie jul kleinding moet versorg as julle dit nie self kan doen nie. Dui dit so in jul testament aan.

Maak ’n lyfafdruk

Gips-lyfafdrukke van swanger magies word ál gewilder en is ’n uitstekende herinnering vir jou kind aan daardie spesiale tyd toe hy binne jou gegroei het. Jy kan jou eie doen-dit-self-pakket bestel by verskaffers op die internet, of jy kan by ’n professionele lyfafdrukkunstenaar gaan aanklop. Die beste tyd vir ’n gipsafdruk is gewoonlik tussen 32 en 37 weke van swangerskap. Die afdruk van jou swanger magie is ’n permanente herinnering aan daardie spesiale tyd toe julle een was.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees