"'n Lewe geneem en 'n lewe gegee"

akkreditasie
Lizette Venter van Ellisras het ná baie trauma aan twee dogtertjies lewe geskenk.

Ek is die ma van 3 wonderlike dogterjies en koop elke maand Baba & Kleuter! My storie begin so:

Ek en my man het 'n jaar en 'n half gesukkel om swanger te word en toe ons moed opgee toe gee GOD ons die geskenk van ons EIE baba! Als het goed gegaan en ons was baie bly. Ek was egter die heel tyd siek en heeltyd in en uit hospitale!

Maar GOD het haar bewaar medikasie ná medikasie! Elke maand met een of ander urienweg infeksie of maagvirus of iets! Ek het antibiotika gedrink soos ek my vitamines gedrink het, maar die sonar het gewys sy groei en is 100% gelukkig!

Dit was die naweek van Michelle se 2de verjaarsdag. Ons het dit by 'n vakansieoord gehou en lekker geswem en baljaar. My ma was ook saam, en ek het vir haar bly sê Chantè (nog 'n dogtertjie deur God gegee) beweeg minder. My ma, soos enige ander ma, het gesê sy maak reg vir geboorte. 

Dit was 2weke voor my keiser en ek was 'n volle 8 maande en 'n week swanger. Maar soos 'n dogter haar ma glo het ek dit aanvaar. Maar elke dag het my Chantè minder en minder beweeg!

Op 25 Oktober 2010 gaan ek in kraam, 'n week voor my keiser datum. Toe ek die dokter bel sê hy ek moet rustig word en ontspan. "Gaan lê op jou bed en wag tot dit nader kom." Ek het dit gedoen. Toe die pyne nader kom jaag ons hospitaal toe, maar hoe nader die hospitaal kom hoe ligter word die pyne! By die hospitaal sit hulle die monitor op en sien dat my pyne minder raak.

Hullle het my oornag gehou vir observasie en die volgende oggend was Chanté sterk en lewendig, haar hartjie mooi sterk. Die dokter wou my Woensdag sien en dan sou ons die finale gesprek hê oor my keiser en dan sal Chantetjie by my wees!

Woensdagoggend staan ek op en ek sê vir my man Chantè het nog glad nie beweeg nie, my ma sê toe ek moet ontspan. By die dokter gekom vra hy my wat aangaan want my magie lyk anders, so rond soos 'n bal. Maar hy sê dis dalk die baba wat nog lekker speel. Die volgende oomblik raak hy stil en staan en kyk vir my en soek en soek...

Ek vra hom wat gaan aan maar hy antwoord nie. Ek kyk toe op die sonar se skerm en sien niks. Geen beweging en geen hartklop nie. Hy roep twee van sy mede dokters in en hulle altwee soek en kyk maar daar's niks. Hy stap na my toe en se "Lizette jou baba is oorlede".

Dit was asof iemand 'n dolk deur my hart steek en ek gaan mal in my kop. Ek weet nie of ek moet skreeu of huil of net vrede maak nie. Maar my emosies vat oor en ek huil en skreeu, ek's leeg, dol leeg! Toe ek kalmeer sê die dokter hy wil my en my man 5 uur sien om te praat oor hoe ons Chantè gaan uithaal.

Hoe moet ek nou my man bel? Ek het hom gebel en hy het gedog ek grap. Regtig hy het gedink ek trek sy siel uit. Hy moes met my ma praat om te hoor ek is ernstig.

My lewe was in stukke maar my man en ek het aan GOD vasgehou. GOD sal ons deur dra. 5 uur in die dokter se spreekkamer huil hy snot en trane saam ons. Ons het belsluit om haar die 29ste Oktober 2010 te verwyder en sy was n volmaakte mens. Die mooiste engel van GOD!

Die verduideliking vir haar dood is dat sy 'n abnormale naelstring gehad het en dat dit oor 'n tydperk soos n rekkie geword het wat lank opgewen en geknoop het en so voeding toe gedruk het. Een knoop was teveel en sy het n beroertetjie gehad en haar hartjie het gaan staan.

Julle, om so 'n kind te verloor is nie lekker nie en dit maak oneindig seer. Maar as jy aan Jesus Christus vashou en veraltyd by HOM bly sal Hy jou deur allles dra en verewig vrede gee. Ons het haar liggaam begrawe maar ek weet my Chantetjie is vir altyd in die hemel by God die Vader.

Maar die slot van die storie: Ons moes al haar goed weggee en net soos ek dit weggee wag ek vir die tannie met die rooi volla om weer te kom en sy kom nie. Ek gaan toe 6 maande ná Chantè se dood, ná ons besluit het my man gaan knip en ons sal nie weer kinders hê nie, dokter toe en daar sit die selletjie 6 weke groot en so klein.

Ek is weer swanger. Ek het begin huil en was geskok. Hier maak ek planne om op te gee en hier seën GOD my met n nuwe baba! Nege maande later blom my Armelle, 'n pragtige gesonde dogterjie!

Al wat ek vir vrouens daar buite wil sê is ontspan en GOD sal jou seën met die geskenk van moeder wees. PRYS DIE HERE vir die geleentheid om 'n moeder te wees. Ek bid seeninge oor almal wat sukkel dat jullle dit ook sal ervaar.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees