Een van die lekkerste dele van my werk, is dat ek so gereeld die kans kry om my eie swangerskappe te herleef. Ek het pas Tina Otte se artikel oor baba se skoppe weer gelees, en toe onthou ek hoe my klein Sophia, nou 15 jaar oud, geskop het.

Ek was vroeg tydens my swangerskap nog hooggeregshofverslaggewer by Die Burger. Dit was ’n donker tyd in my lewe, want ek het elke dag na gruwelike misdaadverhore sit en luister. Van die goed wat ek daar gesien en gehoor het, sal ek nooit uit my kop uit kan kry nie. Ek het ’n sielkundige daaroor gesien en ek onthou hoe sy verduidelik het dat die brein op ’n sekere vlak nie kan onderskei tussen wat werklik is en wat ’n storie is nie. Die een wat bloot luister ervaar ook van die trauma in hul lyf.

Dit klink vreemd, maar dink ’n bietjie aan hoe jy self reageer as jy ’n inspirerende storie hoor of ’n hartroerende video kyk. Jy kry dalk hoendervleis, of pink ’n traan weg. Ek onthou nog dat ek dikwels toe gesê het dat ek nie as ’n swanger vrou dié werk sal wil doen nie, want ek wil my ongebore baba beslis nie aan sulke verhale blootstel nie…

Sophia se swangerskap was onverwags; ek het eers op 13 weke vasgestel ek is swanger. So twee maande later het ek een oggend net-net my sit op die harde hofbank gekry, toe ek haar in my maag voel beweeg. Ek moes opstaan toe die regter inkom en toe ek weer gaan sit, toe skop sy my weer.

Ek het daardie middag nog met my nuusredakteur – ’n wonderlike mens – gaan praat. Gelukkig kon sy ’n ander pos vir my vind, iets waarvoor ek baie dankbaar is, want die werkkultuur by ’n dagblad is maar taai.

Maande later, het ek en my man ’n paar aande voor die geboorte besluit om vir oulaas te gaan fliek. Ons het Bend it like Beckham gaan kyk, met Keira Knightley – ’n baie sjarmante sokkerfliek. Vir die duur van die fliek het Sophia sonder rus geskop. Ons het grappies daaroor gemaak, maar weet julle, van kleins af is die kind sokkermal en vandag is sy haar skoolspan se kaptein!

Ek dink dit bewys my punt: dít waaraan ons ons kinders blootstel, maak ’n baie groot verskil, sommer al van swangerskap af. Kies dus mooi!

Tot volgende maand

Helen

Raakgekoop

hearts.co.za

Kersfees in die suidelike halfrond mag mos maar ‘n bietjie anders wees. Sorg vir vrolike feestelikheid met hierdie shwe-shwe Kerskouse, R200, uitsluitende afleweringsfooi van Hearts.co.za.