Die swanger gloed wat vir swanger vroue rosige wange gee, is nie ’n mite nie.

Dit word veroorsaak deur ’n toename in die volume van bloedvate onder die vel se oppervlak, en ’n toename in die afskeidings van oliekliere wat deel is van swangerskap.

Die gloed is egter nie gewaarborg om jou mooi te laat lyk nie. Soms kan die veranderinge minder welkom wees. Hier is ’n kykie na van die velkwessies wat jy moontlik kan ervaar. 

Puisies 

In haar puberteit het sy die puisiefase heeltemal vrygespring, vertel Noleen Jansen van Centurion, maar 12 jaar later, toe sy swanger word, het sy dit met mening ervaar. 

“Dit was regte aknee. Ek moes gesigreinigers gebruik wat op tieners gemik is,” sê Noleen.

Haar ervaring is nie so ongewoon nie. “Aknee kom in swangerskap voor weens ’n toename in die liggaam se hormoonproduksie,” sê dr. Mabu Nkgapele, ’n Johannesburgse dermatoloog. 

Omdat die aknee waarskynlik ná die swangerskap sal opklaar, word net die oppervlak van die vel behandel – reiniging met louwarm water en medisinale gesigseep en die gebruik van bevogtigers wat nie porieë verstop nie.

Die puisies moet ook nie gedruk of gekrap word nie. Vir hewige gevalle kan die dokter antibiotiese salf voorskryf wat veilig is vir gebruik tydens swangerskap.

Sekere medikasie soos Accutane en Retinol moet nooit tydens swangerskap gebruik word nie om dat dit geboorte-afwykings kan veroorsaak. 

Spatare 

Terwyl jy swanger is, bruis meer bloed deur jou lyf en dit veroorsaak dat die rooi en pers are net onder die veloppervlak verder vertak en meer sigbaar word.

“Druk op die groot are agter die swellende baarmoeder veroorsaak ook dat bloed stadiger na die hart vloei, sê Mabu. “Dit kan lei tot ’n swaar gevoel in die bene, enkels wat swel en die vorming van spatare in die bene.”

Mabu stel voor dat jy gereeld stap om jou bloedsomloop te verbeter, en rus met jou bene hoër as jou hart. Jy kan ook kompressiekouse dra om die druk in jou bene te verlig.

Spatare behoort ná die bevalling beter te word, maar sal nie heeltemal verdwyn nie. Behandeling agterna sluit in skleroterapie (inspuitings), laserbehandeling, radiofrekwensie-ablasie (’n soort hitte-behandeling) en flebektomie (chirurgiese verwydering van die are). 

Rekmerke  

Hierdie algemene veltoestand kom voor by 75 tot 90 persent van swanger vroue. Die oorsaak is die trek en rek van die dermis, die tweede laag van die vel.

Die deel wat die meeste geraak word, is die buik, hoewel die borste en bobene ook aangetas kan word.

“Rekmerke is algemeen by jong vroue tydens ’n eerste swangerskap, hoewel oorerwingsfaktore, persoonlike geskiedenis en selfs ras ’n rol speel,” sê Mabu.

Die slegte nuus is dat daar geen manier is om rekmerke heeltemal te keer nie. Gebruik ’n goeie bevogtiger of weefselolie en probeer om nie te veel gewig aan te sit nie.

Wanneer jy baie vinnig gewig aansit, rek die vel vinniger. Ná jou swangerskap kan mikrodermabrasie (velskilfering), laserbehandelings en rome soos tretinoïen baie help. 

Kloasma  

Dalk het jy al van die swangerskapmasker gehoor? Dit is geelbruin kolle wat in die tweede trimester op die voorkop, wange, neus en ken verskyn.

Vroue met ’n donkerder vel is meer geneig tot kloasma, sê Mabu. Hulle kan selfs donker kringe om hul oë kry. Kloasma word veroorsaak deur die swangerskapshormone estrogeen en progesteroon.

Dié hormone stimuleer die melanienselle in die vel om meer pigment te vervaardig. Blootstelling aan die son maak die toestand veel erger, sê Mabu.

Sonder sonbeskerming sal enige behandeling misluk. Jy moet dus die son vermy deur ’n hoed te dra en ’n sonroom met ’n hoë SBF aan te smeer. 

Die kloasma kan behandel word met chemiese skilfering, laserbehandeling en hidrokinoon, maar jy moet dit met jou dermatoloog bespreek.

Veluitbrake 

Dis is ’n uitbraak van jeukerige, rooi knoppies, meestal op die buik, bobene en sitvlak. Die oorsaak is onbekend. Hoewel dit ongemaklik is, stel dit glad nie die ma of baba in gevaar nie.

Mabu stel voor dat jy tydens jou swangerskap ’n goeie bevogtiger gebruik wat met die gejeuk help. As die toestand voortduur kan jou dokter ’n kortikosteroïed aanbeveel.

As die toestand nie ná die swangerskap verdwyn nie, moet jy by ’n dermatoloog aanklop. 

Ál donkerder 

Baie donker vlekke soos geboortevlekke of sproete word nóg donkerder terwyl jy swanger is. Dit is die gevolg van hormoonproduksie en is niks om jou oor te bekommer nie.

Die meeste vlekke sal ná die geboorte na normaal terugkeer. Jou areola, die donker deel om jou tepel, sal ook donkerder word en moontlik ná die tyd ietwat donkerder bly. Hou egter jou moesies dop.

As jy skielik iewers ’n moesie kry, of as een van jou moesies van vorm of kleur verander, behoort ’n spesialis daarna te kyk om seker te maak dis nie velkanker nie.

As ’n moesie onsimmetries is, ’n oneweredige kant het, van kleur verander, groter word, of op enige manier verander, moet jy ’n dermatoloog raadpleeg. 

Streep op maag 

Jy sal heel moontlik in jou tweede trimester sien dat ’n donker streep van jou bekkenbeen tot by jou naeltjie strek, en selfs verder boontoe. Dit word die linea nigra genoem.

Dis meer algemeen by vroue met ’n donker vel. Dit verdwyn geleidelik in die eerste jaar nadat jou baba gebore is. 

Raad met velprodukte 

Wat is in die bottel?

 Lees etikette goed voor jy enigiets aansmeer. Bly weg van sintetiese geure, want baie daarvan bevat gevaarlike chemikalieë.

Is natuurlik veilig? 

Produkte wat ilangilang, teeboomolie, kamille en sitrus  bevat is veilig. Bly weg van roosmaryn, jasmyn of kaneel, wat bekend is daarvoor dat dit jou bloeddruk kan verhoog. 

Klein toetsie

Omdat jou liggaam  deur intense veranderinge gaan terwyl jy swanger is, kan jy nuwe sensitiwiteite en allergieë ontwikkel. Doen dus altyd eers ’n toets op ’n klein stukkie vel op jou arm. 

Drink baie water

Die beste medisyne vir jou vel is om goed gehidreer te bly. Dit verbeter elastisiteit en verminder ’n gejeuk.