VRAAG:

Ek ly aan hewige oggendnaarheid. Ek het eers pilletjies oor die toonbank gekoop, maar dit het niks gehelp nie. Ek het toe medisyne by my ginekoloog gekry, maar dit maak my so moeg dat ek nie my oë kan oophou nie. Het jy raad?

ANTWOORD:

Baie geluk met die swangerskap! Ja jong, die naarheid van swangerskap is maar erg. Dit is die natuur se manier om jou te beskerm sodat jy nie iets eet wat skadelik kan wees terwyl die fetus gevorm word nie. Onthou dat die mikpunt van behandeling is om braking te voorkom en hopelik ook om die naarheid beter te maak. Kleiner maaltye meer gereeld kan van waarde wees. Ek vind hawermoutpap help met naarheid in swangerskap. Beproef dus miskien ’n klein porsie vir ontbyt en dan weer vir oggendteetyd. Probeer maar die gemakskosse vind wat vir jou werk. Miskien kan manlief in die kombuis oorneem, want die reuke van sekere kosse kan ’n mens naar laat voel. Gemmer is ’n natuurlike kos wat naarheid sal teenwerk, dus kan gemmerbier, gemmerkoekies en selfs gemmertee moontlik help. Die naarheid word darem tussen 12 en 16 weke gewoonlik beter. Moenie bekommerd wees oor die fetus nie, hy of sy is natuurlik ’n goeie “parasiet” en ontrek alles wat hy nodig het, al kan jy nie alles inneem nie. Een ander ding wat ook kan help is om jou multivitamien- en visoliekapsules vir eers weg te pak en net foliensuur te drink. In die eerste 12 weke het jy eintlik net foliensuur nodig. Medikasiegewys kan jy Asic® beproef. Ek neem aan dit is wat jy gebruik het, want dit is oor die toonbank beskikbaar. Al die antinaarheidsmiddels is maar familie van anti-histamiene en kan as newe-effek vaakheid veroorsaak. Dis natuurlik ook veilig in swangerskap. Daar is ook middels soos Ondasetron® of Zofran®, wat vir naarheid weens chemoterapie gebruik word. Dis ook veilig terwyl jy swanger is. Dit kos meer, maar is ’n goeie tweede keuse en behoort jou nie vaak te laat voel nie.