Naarste naar

akkreditasie
'n Mens verwag om in die eerste maande van jou swangerskap soms naar te voel. Maar wat doen jy as jy weke lank sonder ophou braak en dit jou baba se gesondheid begin bedreig? 'n Ma deel haar verhaal.

Louise Strydom van Johannesburg verwag haar vierde kind en daar is niks wat sy jou nie kan vertelnie van hyperemesis gravidarum, die seldsame swangerskapstoestand wat verlede jaar vir Kate Middleton ook in die hospitaal laat beland het. “Maar,” sê Louise, “dis alles die moeite werd wanneer jy uiteindelik jou pasgeborene in jou arms vashou!” Sy deel haar verhaal. 

Dis nie normale oogendnaarheid nie

“Op nege weke het die braking begin en eenvoudig nie opgehou nie. Sommige dae sou ek nege keer opgooi. Ek kon nie eens ’n slukkie water inhou nie – ek was heeltemal ontwater en het aaklige krampe in my bene gekry.

My ginekoloog en verloskundige het dit afgemaak en my aangesê om mineraalsoute en ’n rehidrasiepak te neem. Ek het die indruk gekry sy dink ek oorreageer. Sy het die heeltyd gesê dis normaal – en ek het haar geglo. Ek het heeltemal gedreineer gevoel.

Ek kon nie eens die energie bymekaarskraap om my kop te lig nie, wat nog te sê op te staan. Dit was aaklig.

My man, Jurie, sou soggens heel eerste vir my ’n stukkie droë roosterbrood bring en ek sou dit eet terwyl ek nog lê, want ek het geweet as ek my kop lig voor ek iets eet, sou ek begin braak en nie weer kon ophou nie.

Ek het nie ’n benul hoe ek dit reggekry het om aan te hou werk nie,maar ek het. Ek was ’n senior vennoot by ’n groot regsfirma, maar ek was ’n nul op ’n kontrak werd!

Ek het die heeltyd gedink dat ek normale oggendnaarheid het en het desperaat gewag vir 13 weke, maar die mylpaal het gekom en gegaan en die naarheid het aangehou.

My hart was stukkend. Dit was een van my laagste en eensaamste oomblikke: Wat was dan my probleem? Hoekom kon ek nie regkry wat ander vroue regkry nie?

Dit het sy tol van ons huwelik ook geëis. Jurie het destyds gesê dis een van die moeilikste tye wat hy nog deurgemaak het, want hy het net nie geweet hoe om my te help nie.

Ek was te moeg om met hom te praat; ek het geen geselsies in my oorgehad nie. Ek het klaarbereide maaltye gekoop en hom na die ander kant van die huis verban om dit te eet terwyl ek in die bed gelê het. Ek het hom nie naby my toegelaat nie, want ek kon die reuk van kos nie verdra nie. Ek het so baie gewig verloor.

Uiteindelik het die braking minder geword en teen 20 weke het ek sommer baie beter gevoel. Ons eerste dogtertjie, Jessica, is met ’n gesonde gewig van 3,2 kg in die wêreld verwelkom.

Om nog ’n baba te hê…

My ginekoloog het mos gesê dis normaal, en hoewel ek erg op my senuwees was oor ’n tweede baba, het ek gedink dis nou maar soos sake staan en ek moet dit net hanteer.

Ek was ook oortuig dat my “oggendnaarheid” die eerste keer so verskriklik was omdat my liggaam nie gewoond was aan die swangerskapshormone nie. Ek het geredeneer dat my liggaam nou beter weet. En dit het beter gegaan – maar ek het eers baie later uitgevind wat die werklike rede was!

My tweede swangerskap was baie makliker. Ek was baie naar, en die naarheid het vroeër begin, maar ek het glad nie opgegooi nie. Dis toe dat ek besef het ek was ongewoon siek met Jessica, en ek het gedink as dit is hoe swangerskap is, kan ek dit maklik weer doen.

Desondanks was die swangerskap nie sonder probleme nie en Sadie is met ’n noodkeisersnee gebore.

... en nog een

Ek en Jurie wou ’n groot gesin hê, en hoewel ek steeds op my senuwees was dat nog ’n swangerskap soos die eerste sou wees, het ek bly klou aan die feit dat die tweede meer onder beheer gevoel het.

Ons het in ’n klein woonstel in Amerika gewoon toe ek met ons derde dogtertjie, Lucy, swanger geraak het. Op sewe weke het die naarheid begin en op agt weke het ons spaghetti en frikkadelle gaan eet. Vyf uur later het ek begin opgooi. Dit het drie dae lank aangehou – die teleurstelling was intens.

Die hospitaal het gesê ons moet dadelik kom en ek is aan ’n drup gekoppel. Hierdie keer het ek ’n ware diagnose gekry: Ek ly aan hyperemesis gravidarum, oftewel hiperemese.

Die verligting was onbeskryflik: Ek het ’n ware “ding” onder lede gehad. Ek was nie besig om goed op te maak nie, ek was nie pateties nie! Ek was regtig siek en kon behandeling kry!

Die geheim was om in die eerste plek nie te begin opgooi nie, want selfs met medikasie kan jy nie ophou as jy eers begin het nie. Selfs met die medisyne was die naarheid aaklig en konstant.

Ek het basies uit ons gesinslewe verdwyn. Die woonstelletjie was klein en elke kosreuk sou my aan die gang sit.

Jurie was ongelooflik. Hy het oorgeneem as primêre versorger, maar dit was vir almal moeilik. Ek het in die eerste drie maande 5 kg verloor en was elke middag vyfuur in die bed. Sadie, toe drie en ’n half, het baie agteruitgegaan. Sy het weer haar fopspeen begin suig en haar soos ’n tweejarige gedra.

Die meisies was gaaf en soet, maar sou by die kamer uithardloop as dit net lyk of ek gaan opgooi. Ons het hulle baie vroeg oor die swangerskap ingelig, want hulle het gedink hulle kan dalk aansteek!

Jessie het eendag vir Jurie gevra: “As mamma doodgaan, sal jy met iemandanders trou?” Sadie het weer ’n man gesien braak en gesê: “Kyk mamma, daardie man gaan ’n baba kry!”

Soos met my eerste swangerskap het dinge vanaf 18 weke verbeter en teen 20 weke het ek die medikasie gestaak. Toe ek Lucy die eerste keer vashou, het ek geweet dit was alles die moeite werd.

En weer!

Ek en Jurie het lank en hard gebid, en ons vertroue in God geplaas dat ’n vierde kind vir ons gesin heeltemal die regte ding is. Maar hierdie keer sou ek die bul by die horings pak.

Selfs voor ons begin probeer het, het ek seker gemaak my nuwe ginekoloog en verloskundige in Suid-Afrika sou die presiese medisyne voorskryf as wat ek in Amerika gekry het, en dat ek dadelik opgeneem sou word, sonder teëstribbeling, as dit nodig was. Hy het ingestem.

En ja, die swangerskap was tot dusver absoluut aaklig – net soos ons geweet het dit sou wees. Die braking het op sewe weke begin en ek is reguit hospitaal toe.

Ek het niemand van die swangerskap vertel voor 13 weke nie omdat ek eenvoudig nie die krag gehad het om ’n oproep te maak of selfs ’n SMS te stuur nie.

My susterskind het ingetrek om te help met die kinders, vriende was ongelooflik met saamrygeleenthede skool toe, en my getrouste staatmaker is Jurie. Sy ondersteuning weifel nooit, hy kla nooit, hy bevraagteken nooit, al was ek vir drie maande basies afwesig.

Ons sien werklik daarna uit om die nuwe klein mensie te ontmoet, maar een ding is nou seker: Ek kan dit nie weer doen nie; ek is nou klaar.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees