Jy en jou man het dié nuwe ouerskapsding nou goed onder die knie en jul tweede swangerskap is dus met net soveel opgewondenheid as die eerste een verwelkom, maar met minder angs … julle weet mos nou al hoe dinge werk en is op alles voorbereid.

Maar een ding waarop jy dalk nié voorbereid is nie, is dat jy swanger gaan wees terwyl jy na ’n woelige kleuter moet omsien. Die lekker middagslapies van jou eerste swangerskap gaan nie hierdie keer so maklik wees nie, want kleuters soek baie aandag en sodra hulle agterkom die kompetisie is besig om in jou maag te groei (en ja, hulle is slim genoeg), kan hulle veeleisendheid tot ’n heel nuwe vlak voer.

Nie net sal jy agterkom jy onderhandel nou skielik met ’n tweejarige net sodat jy kan rus nie, dis ook in dié tyd dat jy die tweede trimester betree. Daardie boepie begin uitsit en dit word ál moeiliker om jou kleuter drukkies te gee en saam met haar op te krul.

Beskou dinge dus uit jou kleinding se oogpunt en dink hoe sy moet voel as die “ding” in mamma se maag nou al die plek op haar skoot in beslag neem. G’n wonder dat jaloesie op die groeiende medespruit begin kop uitsteek nie.

Behalwe dat jy moeg en oorwerk voel, begin dit nou ook lyk of jy meer gewig aansit. Die kans is goed dat jy die gewig van jou eerste swangerskap nog nie heeltemal afgeskud het nie – en nou pak die vetjies nog verder aan.

Jy voel lomp en jou maagspiere is ook nie meer so ferm soos voor jy ma geword het nie; met die tweede swangerskap dra jy dus laer en dit plaas meer druk op jou blaas en rug. Maar daar is ’n positiewe kant ook.

Swangerskap met ’n kleuter in die huis kan ’n wonderlike avontuur word. Betrek haar by die proses, wys haar hoe haar kleinboet groei en vra haar om op ’n naam te help besluit. Dis dalk alles ’n bietjie oorweldigend, maar die ervaring kan sorg vir blywende herinneringe.

Binding

In jou tweede swangerskap sal jy vind dat jy vroeër met jou ongebore kind bind omdat jy haar vroeër kan voel beweeg. Met jou eerste swangerskap voel jy gewoonlik eers teen maand vyf beweging; nou kan jy dit al van die vierde maand af voel. Vertel vir jou kleuter hoe haar boetie mamma van binne af skop en kielie en verduidelik wat aan die gebeur is.

Later, as die bewegings meer voelbaar is, kan jy sorg dat sy die eerste een is wat dit voel. So maak jy die deur oop vir binding tussen jou kinders.

Jy kan haar ook aanmoedig om met die baba te praat en wanneer sy wil, hoef sy net haar hand op jou maag te plaas. Al moet jy afstand doen van lang middagslapies, kan jy steeds dan en wan met jou voete omhoog ontspan.

Bygesê, as jy ’n selfversekerde kleuter grootmaak, sal sy daarna uitsien om haar boetie of sussie in die huis te verwelkom.

Hou jou kleuter so gelukkig

  • ¬Bring genoeg tyd saam met haar deur. Laat haar toe om ’n bietjie onafhankliker te wees en laat haar solank kuier by die mense wat na haar sal omsien terwyl jy in die hospitaal is.
  • Hou die swangerskap as ’n avontuur voor waarin jou kleutertjie ’n baie belangrike rol speel.
  • Berei haar voor op ’n verandering in die dinamika tuis deur saam boeke te lees oor ander kinders wat dieselfde deurmaak. ’n Goeie boek is ’n Boetie vir Natasha deur Martie Kruger (Lapauitgewers).
  • Laat haar weet dat sy altyd die gesin se spesiale eersgeborene sal wees.
  • Moenie jou kleuter te vroeg in jou swangerskap die nuus vertel nie. Wag eers tot jou boep begin wys en jou asjas dit oplet. Vertel haar daar is ’n baba in jou maag wat groei en dat sy nou ’n ousus gaan wees. Gee haar die kans om jou boepie te vryf en met haar kleinboet te praat as sy lus het.
  • Neem haar saam wanneer julle dokter toe gaan om ’n sonar te laat doen, veral wanneer ’n mens die baba al duidelik kan sien en die hartklop goed kan hoor.
  • Praat gedurig oor die nuwe baba, maar nie in te veel besonderhede nie – jou kleuter sal dit nie alles kan inneem nie en sal nie die volle implikasies begryp tot die baba gebore is nie. Met ander woorde: Skilder die groter prentjie en doen dit gereeld.
  • Dis nie nodig dat jou kleuter al heeltemal potjiewys is teen die tyd dat die nuwe baba sy opwagting maak nie, maar dis dalk ’n goeie plan om haar te oortuig om na haar eie kamer te trek as sy nog by julle slaap.
  • Daar is ’n kans dat jou kleuter op die nuus sal reageer deur weer ’n paar babagewoontes te laat herleef. Moenie te bekommerd daaroor wees nie; dit sal verdwyn. Jy het nege maande om haar stelselmatig aan haar nuwe onafhanklike rol gewoond te maak, en dis ’n goeie plan om vroeg te begin sodat dit nie te veel druk op haar plaas wanneer baba eers daar is nie. Saam kan die ervaring vir jul albei ’n opwindende avontuur word!
  • Wys foto’s van toe jy haar verwag het en toe sy pas gebore is. Dit sal haar voorberei op die eerste ontmoeting met haar nuwe boetie of sussie.

Wenke vir ma

  • Vra hulp. As jy alleentyd nodig het, stuur jou kleuter vir ’n naweek na oupa en ouma toe. Sy moet buitendien daaraan gewoond raak om van jou geskei te wees omdat jy ’n nag of wat in die hospitaal sal moet deurbring. Dis ook belangrik dat sy weet sy het ook ’n ondersteuningsnetwerk.
  • Wees kreatief met rustyd. Betrek jou kind deur voor te stel dat julle ’n boek lees of pak ’n speelboks waarin sy kan krap terwyl jy ’n bietjie rus.
  • Verlaag jou standaarde. Dit maak nie saak as die huis ’n bietjie omgekrap is nie, jou geestesgesondheid is belangriker.
  • Eet gesond. Jou kleuter gaan in elk geval die een of ander tyd verkoue kry – sorg dus dat jou immuunstelsel sterk is. Daar is niks erger as om swanger, moeg en siek te wees nie.
  • Onthou jou baba. ’n Kleuter kan ’n mens so besig hou dat jy alles anders op die agtergrond skuif, ook jou swangerskap. Knyp dus spesiale tydjies af om met jou ongebore kind te bind.
  • Koop aanlyn. Stel vas hoe dit werk; dit kan jou lewe baie makliker maak.
  • Laat iemand anders die baba ná die bevalling vashou wanneer jou kleuter en die baba aan mekaar voorgestel word.
  • Gee jou kleuter ’n klein geskenkie van die baba af.
  • Behou jul roetine. Dit gaan moeilik wees, maar hou waar moontlik by die gevestigde roetine wat jou kleuter ken, soos slaaptydstories saans.
  • Laat haar help. Maak jou kleuter deel van die nuwe baba se versorging.
  • Dis nie meer so maklik om jou kind op te tel nie. Plaas ’n voetstoeltjie by die bad en help haar om self in te klim.