Vraag:

Ek verwag my tweede kind. Met my eerste het ek ’n keisersnee gehad, maar ek wil dié keer baie graag normaal die lewe skenk. Wat kan ek doen om ’n sukses te maak van die beplande normale geboorte? Wat is die risiko’s van ’n normale geboorte ná ’n keisersnee?

Antwoord:

Jy verwys na die kraamopsie VBAC (Vaginal Birth After C-Section). Dit word wêreldwyd as veilig beskou, mits ’n mens hou by die reëls wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie neergelê is. Dié organisasie is die waghonde oor internasionale gesondheidsorg, navorsing en toepassingstandaarde.

Jy verstrek ongelukkig nie die rede vir jou keisersnee nie en daarom kan ek nie veel sê oor die sukses van jou beplande vaginale geboorte nie. Ek kan net die feite deel oor die risiko’s wat aan VBAC verbonde is en daarna kan jy ’n ingeligte besluit neem.

Jy sal maklik geholpe raak en ondersteun word as jy ’n vroedvrou as primêre versorger vir die geboorte aanstel. Syfers wys ook dat jy jou kans op ’n suksesvolle vaginale geboorte ná ’n keiser verhoog as jy ’n watergeboorte kies.

DIE FEITE

  • Die rede vir jou eerste keisersnee mag nie weer voorkom nie, byvoorbeeld dat jou baba stuitliggend was.
  • Daar moet minstens18 maande tussen jou keisersnee en jou volgende kraamdatum verloop.
  • Die keisersnee moet aan die onderkant van jou buik wees, dus by jou bikinilyn.
  • Jy moet spontaan begin kraam en spontaan in kraam bly. Geen induksie of ingryping word toegelaat nie.
  • Jou serviks moet minstens 1 cm per uur of gouer ontsluit in die eerste stadium van baring.
  • Jy moet ’n laerisiko-swangerskap handhaaf.
  • Jy moenie ’n twee- of meerling verwag nie.
  • Jou baba moet kleiner as 3,8 kg wees.

DIE FEITE

  • Die gevaar dat jou baarmoeder tydens die geboorte kan skeur is 0,4 persent.
  • Sowat 13,4 ma’s uit 100 000 sterf tydens ’n VBAC.

DIE VOORDELE

  • Altesaam 75 persent van mense wat ’n VBAC aanpak, slaag daarin om ’n veilige geboorte te hê.
  • Latere komplikasies verlaag drasties nadat jy vir die eerste keer ’n suksesvolle VBAC gehad het.
  • Jy bly korter in die hospitaal.
  • Jy herstel vinniger.
  • Die gevaar van bloeding ná die geboorte is kleiner.
  • Die kans dat jou baba asemhalingsprobleme het, is kleiner.
  • Dis ’n verrykende en bemagtigende ervaring.