Wat omega 3's vir baba doen

Omega 3-vetsure is veral in die eerste trimester belangrik, want dis dan dat jou baba dit nodig het om sowat 70 persent van sy breinfunksie te ontwikkel. Die res van die senuweestelsel ontwikkel in dié tyd ook.

  • Dis belangrik vir neurologiese ontwikkeling.
  • Dit bevorder die ontwikkeling van die hart en asemhalingsfunksies.
  • Dit steun brein- en oogontwikkeling.
  • Dit verhoog verstandelike en leerfunksies.
  • Dit vergroot jou baba se aandagspan, wat vroeg in sy lewe intelligensie aanhelp.
  • Dit word met beter slaappatrone verbind.
  • Dit verminder die gevaar van allergieë en versterk immuniteit

Waar kry jy dit?

Olierige vis soos makriel, haring, sardientjies, ansjovis, salm, tuna en sardyne. Onthou egter dat sommige vetterige vissoorte, soos salm en tuna, met kwik en PCB (polichloorbifeniel) besmet kan wees weens besoedeling van die water waarin dit voorkom. Dié stowwe is skadelik vir jou en jou ongebore baba.

Bly ook weg van eksotiese visse soos swaardvis, marlyn en haai. Nog goeie bronne van omega 3-vetsure: verrykte eiers, brood en sap, donkergroen groente, kanola-, sonneblom- en vlasolie, okkerneute.

Wat omega 3's vir jou swanger lyf doen

Afgesien van baba se breinontwikkeling is daar ook talle ander redes waarom ’n verhoogde inname van vetterige vis en omega 3-vetsure gesondheidsvoordele inhou. Voedingkundiges beveel aan dat jy elke dag sowat 200 mg omega 3’s inkry terwyl jy swanger is. Dit help sorg vir gesonde toevoer van bloed, voedingstowwe en suurstof na jou baba.

Behalwe dat dit jou eie brein rats hou, kan dit ’n klomp swangerskapskete en -komplikasies help voorkom. Studies wys omega 3-vetsure word verbind met:

  • Die voorkoming van preëklampsie: Hoë bloeddruk tydens swangerskap, beter bekend as preëklampsie, is gevaarlik. Omega 3-vetsure help dat jy ’n gesonde bloeddruk handhaaf en verminder die gevaar vir ma enkind.
  • Duur van swangerskap: Olierigevis en vetsure help verseker dat jou baba se longe ten volle ontwikkel voor hy gebore word en hy ’n gesonde geboortegewig bereik.
  • Nageboortelike depressie: Studies wys dat vroue wat meer vis eet, aansienlik minder geneig is om nageboortelike depressie te ontwikkel.

Dit beteken gelukkiger tye vir ma en baba.

Wees versigtig

Omega 3-vetsure maak bloed minder stolbaar en jy moet dit dus liewer nie in die laaste vier weke van jou swangerskap inneem nie. Wees op die uitkyk vir aanvullings wat spesiek op swanger vroue toegespits is. Raadpleeg altyd eers jou dokter voor jy enige aanvullings begin drink.

Wat omega 3's vir almal beteken

Al word daar so ’n ophef van omega 3-vetsure gemaak en al is daar so baie inligting beskikbaar oor die gesondheidsvoordelevir jou ongebore kind, weet min mense dat dit iets is wat jy elke dag by jou dieet moet insluit, selfs al is jy nie swanger nie. Dis ’n noodsaaklike deel van almal se dieet.

Hier is ses redes waarom:

KANKER Omega 3-vetsure help sekere soorte kanker soos bors- en kolonkanker voorkom, en miskien ook maag- en velkanker. Navorsing wys dat vroue wat baie vis eet, se kans op borskanker 50 persent minder is. Die bestanddeel DHA (dokosaheksanoïese suur) werk selverandering teen en help kankerselle doodmaak.

MENSTRUELE KRAMPE PMS-simptome is dikwels aaklig en die gevolg van ’n vetsuur-wanbalans. Omega 3-vetsure in vis en olie help menstruele krampe verlig.

VRUGBAARHEID Navorsing wys ’n regstreekse verband tussen onvrugbaarheid en die hoeveelheid visolie wat jy inkry. Visolie balanse er hormone en verbeter hormoonvlakke en bloedtoevoer na die baarmoeder. Hoe meer omega 3-vetsure jy inkry, hoe groter is jou kanse om swanger te word.

MENOPOUSE Die vetsure van olierige vis kan menopouse-simptome soos warm gloede en buierigheid dramaties laatafneem.

OSTEOPOROSE As jy genoeg vetsure in jou bloed het, is jou kans op osteoporose kleiner. Dis veral ná die menopouse belangrik, wanneer osteoporose ’n groter gevaar is.

HARTSIEKTES Ál meer vroue sterf aan hartsiektes, selfs meer as aan borskanker. Dié gevaar is nog groter ná die menopouse. Behalwe ’n gesonde leefstyl en ’n laevet-dieet is omega 3-vetsure een van jou beste verwere. Die olie in die vis help om jou trigliseriede, bloeddruk en cholesterol natuurlik te verlaag.