Kom ek skink vir jou ’n glasie rooiwyn, my liefie, sê my vrou in haar vriendelikste stem toe ek seweuur die aand ná werk by die huis aangeslof kom. Die waarskuwingsliggies moes tóé al geflikker het. Met ’n amper-vierjarige seerower, brandweerman, ruimtevaarder, rock ‘n roll-ster of superheld wat daagliks ál my en Carla se aandag verg, is gawe gebare soos dié deesdae skaarser as die skaarsste hoendertand.

Nogal ’n duur wyn ook, sien ek so met die skinkslag. As ’n huisgesin waarin die sente ’n paar keer per maand omgedraai moet word, is “duur” en “wyn” nie juis woorde wat gereeld gehoor word nie, laat staan nog gesien word.

Toe sy boonop áándring om Ben se bad- en slaaproetine vir die aand by my oor te neem met die woorde: “Jy het ’n lang dag op kantoor gehad … ontspan nou … ek sal dit doen”, het ek gewéét iets is nie pluis nie. “Gaan jy dan nie ’n glasie saam met my drink nie?” vra ek terwyl die fluweelsagte voggies oor my tong rol. Dit word bloot met ’n stilte begroet. “Wat is fout? Is jy oukei?

Toe nou … uit daarmee …” Sy verdwyn vir ’n oomblik slaapkamer toe en keer terug met iets in die hand. Sy hou dit so dat ek nie kan sien wat dit is nie. Die lotto! dink ek dadelik. Ons het wraggies die lotto gewen! Ek het gewéét een of ander tyd gaan daai R10 wat ons een keer per maand met soveel hoop op lukraak nommers verwed, ons skip vol geld in Tafelbaai-hawe laat vasmeer.

Maar toe begin sy praat. “Onthou jy daai keer, so ’n paar maande ná Ben se geboorte, toe ons saamgestem het hoe wonderlik dit is om ’n nuwe mensie in ons lewe te hê? Oor hoeveel vreugde hy ons verskaf, ondanks al die lang ure, die laat nagte, die onkoste? Oor hoe dit hartseer is dat hy so vinnig grootword?”

Natuurlik onthou ek dit. Maar op wat stuur jy af? Ben is tog nou al amper vier jaar oud. ’n Lewenslustige, opgewekte seuntjie wat ...

“Wel,” onderbreek Carla my, “ons gaan wéér daardie vreugde beleef!” Vir ’n oomblik is dit asof sy ’n ander taal praat. Die wynglas stop halfpad pad na my mond. Gevries in die oomblik. “Ek is nie seker ek verstaan wat jy bedoel nie ...”

Dis toe dat sy met ’n dramatiese gebaar die ding in haar hand voor my op die tafel neerplak. Ek herken dit dadelik. Die Clearblue-toestelletjie.Ek sien ook die digitale boodskap duidelik op die vertoonskermpie: PREGNANT.

Nou is daar drie belangrike reëls waarop ’n mens ag moet slaan as jy jou ooit in die situasie bevind waar onverwagse, verrassende (selfs skokkende?) nuus soos dié jou tref.

1. Moenie jou eerste reaksie ná die nuus begin met “hoe het dit gebeur?” nie. Jy weet alte goed hoe dit gebeur het, meneer. Jy was immers daar. Moet dus nie nou ewe verbaas wees en lawwe vrae vra nie.

2. Vermy (vir die oomblik) ’n dringende vraag soos “wat gaan ons nou maak?” Selfs al was dit onbeplan, soos in ons geval, weet jy reeds wat gaan gebeur. Dit gaan ’n rukkie duur voor die nuus insink en dan begin julle vir die toekoms beplan. Hoe dan anders?

3. Die énigste emosie wat jy moet wys, is blydskap. Selfs al is jy so geskok dat jy, soos in my geval, ’n vol glas duur wyn met drie groot slukke ledig. Spring op, gryp jou vrou vas, gee haar ’n groot soen en ’n druk en sê “Wow! Watter wonderlike, verrassende nuus! Dis soos om die lotto te wen, net veel-veel-véél beter.”

Teen die tyd dat julle dié woorde lees, het Edie Christine reeds haar opwagting in die wêreld gemaak. ’n Bondeltjie vreugde vir my en Carla, ’n babasussie vir Ben, ’n tweede kleinkind vir ouma en oupa, ’n nuwe mensie wat die aarde gaan betree en hopelik hierdie deurmekaar wêreld waarin ons leef met liefde, vreugde, mededeelsaamheid en versoening sal verryk. Dis nodeloos om te veel kop te krap oor die praktiese uitdagings wat Edie se koms meebring.

’n Groter motor om twee kinders en hul toebehore te vervoer. ’n Herrang­skikking van die beperkte ruimte in ons skakelhuisie om skielik vier siele gemaklik te huisves. En natuurlik die gewone babagoed, want ons het ná Ben se verjaardag mos van álles ontslae geraak. Dit sou immers ons énigste enetjie wees. ’n Bababedjie, dus, asook ’n slaapmonitor, borsmelkpomp, motorsitplek, stootwaentjie, doeke, doeke en nogmaals doeke, blikke en blikke poeiermelk …

Dit weeg swaar, dis ’n uitdaging. Maar die veel swaarder teenwig is daai klein mensie wat uit die staanspoor in ons hart gekruip het. Sy laat ons met ’n gevoel wat met kinderlike eerlikheid so raak deur Ben opgesom is: “My sussie, pappa, is perfect in every way.”