Op die N1 gebore

akkreditasie
Noeleen Foster
Adri (29) en Johan (30) Scheepers van Bela-Bela se dogtertjie het die eerste lewenslig in hul Captiva aanskou, net langs die pad na Pretoria... Adri deel hul avontuur.

Dit was vroegoggend toe die kontraksies toeslaan. Ek het op die bank gaan lê met my bene in die lug. Johan was in die gimnasium vir ’n vroegoggendoefensessie toe ek hom bel en sê hy moet huis toe kom. Ek het so tussen die kontraksies deur vinnig gestort en my hare probeer droogblaas.

Terwyl my ma, Theresa de Wet, ons eersteling, Evan (3), en Johan reeds in die motor gewag het, moes ek eers gou hardloop om ’n laaste draai by die toilet te gooi.

My water het reg voor die toilet gebreek. Ek het my ma geroep om my gou te kom help droog aantrek. Met die uitloopslag het my ma handdoeke uit die kas gehaal om in die motor te sit. Ek het nog gevra waarvoor ons dit nodig gaan hê, maar was ’n halfuur later baie dankbaar vir haar wysheid.

Ons het vroeg-vroeg uit ’n nat Bela-Bela na die Wilgers-hospitaal in Pretoria vertrek, flikkerende noodligte en al. My man het bestuur, my ma was op die passasiersitplek en Evan het agter gesit waar ek gelê het. Ek het nog kontraksies gekry en Evan het my hare gevryf en gevra of ek reg is.

Nou of nooit

Sowat 30 km buite Warmbad het ek vir Johan gesê dat hy van die pad moet aftrek omdat ek dink ons dogtertjie se koppie al kroon. Hy het in die reën langs die pad stilgehou en uitgeklim. Hy het dadelik die agterdeur aan die bestuurskant oopgemaak en gesê hy kan die koppie sien. Heel kalm het hy gesê dat ek nou een keer moet druk. En ek hét.

Hy’t weer gevra dat ek moet druk en net daarna is Kaylee gebore. Hy het haar in sy hande geneem, haar onmiddellik op haar maag gedraai en haar mondjie skoongevee. Intussen het my ma vir Evan kalmeer en vasgehou.

Johan het haar gevra of sy sy gholfskoen se veter sal uitryg sodat hy dit kan gebruik om die naelstring af te bind. Ek was dankbaar vir dié skoene wat hy toe in elk geval ingepak het nadat ek hom juis daardie oggend gevra het wat hy met gholfskoene by die hospitaal wil gaan maak.

Dit het baie nuttig te pas gekom! Net nadat Johan vir Kaylee gevang het, het ’n motor by ons stilgehou om seker te maak dat alles in orde is. Die mense het ons uit Bela-Bela sien jaag en wou vir ons handskoene kom leen om dinge steriel te hou, maar dit was effens laat daarvoor!

Johan het die ginekoloog gebel om seker te maak dat hy die naelstring op die regte manier en die regte plek afgebind het. Die dokter het aanbeveel dat ek Kaylee teen my maag vashou. Met ons nuwe klein dogtertjie op my maag het ons 10 minute later in die pad geval Pretoria toe.

Toe ons daar wegtrek, kon ons eintlik nie glo dat Johan teen so ’n steil skuinste afgetrek het nie. Genadiglik het ons darem nie vasgesit nie, al het die wiele ’n bietjie getol.

By die hospitaal het ’n hele span op ons gewag. Hulle het my uitgehelp en vir Kaylee by my geneem en naby my gehou, want die naelstring het ons twee nog verbind. In ’n kamer is die naelstring geknip terwyl ek ondersoek is. ’n Stewige Kaylee, wat ons toe hoor 4,2 kg met geboorte geweeg het, het pasgeborene-toetse ondergaan om te kyk of sy gesond is.

Die ander N1-baba

Net ’n paar maande voor Kaylee se geboorte is een van my vriendinne, wat naby Bela-Bela woon, se baba ook op pad na ’n hospitaal in Pretoria gebore. Ek en Johan het gelukkig baie aandagtig geluister toe sy en haar man vir ons van hulle snelweggeboorte vertel het. Hul ervaring het ons beslis vir Kaylee se geboorte voorberei, maar ek het nooit gedink dieselfde sal met ons gebeur nie.

Ons is baie dankbaar dat Kaylee gesond is en dat alles vlot verloop het. Mumford & Sons se liedjie I Will Wait het in die motor gespeel terwyl sy gebore is. Dit was heeltemal gepas vir dié geboorte en met die reën teen die ruite en op die dak het dit gevoel of tonne en tonne seëninge oor ons en die kleine pienkvoet uitgestort word.

As jy jou geboorte storie met ons wil deel, stuur dit aan web@babaenkleuter.co.za

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees