Die plasenta is nou eenmaal nie ’n orgaan wat onderskat moet word nie. Dit is omtrent die grootte van ’n bord en kan tot een kilogram weeg wanneer jy die lewe skenk, maar dit begin as net ’n paar selle een week ná bevrugting. Die plasenta is jou baba se oorlewingspakkie tydens swangerskap. Dis nie net die baarmoeder se versorger wat moet verseker dat jou baba al die nodige voedingstowwe kry nie; dis ook die baarmoeder se uitsmyter wat keer dat allerhande siektes jou baba bereik.

Hoe vorm die plasenta?

Terwyl die ovum (bevrugte eiersel) steeds in die Fallopiusbuis is, verdeel dit in twee groepe: een wat die baba gaan vorm en een wat die plasenta word. ’n Paar dae later beland hierdie groepie selle op die baarmoederwand, ’n laag in die baarmoeder wat andersins afgewerp word wanneer jy menstrueer. Van hier af ontspruit klein vertakkings uit die selle en heg hulleself aan die baarmoederwand. Dit is die begin van die lewe van die plasenta. Namate dit groei, sprei dit in die wand uit met klein vertakkings wat weer verder vertak, baie soos ’n boom se takke wat groei en vertak. Die naelstring is die skakel tussen die fetus en die plasenta.

Wat doen die plasenta?

Op agt weke van swangerskap begin die plasenta reeds hormone vervaardig wat die swangerskap ondersteun deur die baarmoeder te laat groei en ovulasie te beëindig. Hoë vlakke van progesteroon hou die spiere van die baarmoeder ontspanne, wat sorg dat jou swangerskap voortduur. Wanneer hierdie vlakke nege maande later daal, is dit ’n teken aan die baarmoeder om saam te trek, en so begin die geboorte. Ander hormone wat geproduseer word sluit in estrogeen en hcG (mens-choriongonadotropien of in Engels ). Teen 18 tot 20 weke behoort jou plasenta ten volle gevorm te wees, maar dit hou steeds aan groei. Jou plasenta is baie veelsydig en doen vir die fetus die werk van ’n volwasse long, nier en die organe wat hormone afskei. Behalwe dat dit voedingstowwe en suurstof aan die fetus gee, verwyder dit ook afvalstowwe uit die fetus se bloedstroom. Glukose, vette, proteïene en vitamiene word van jou liggaam na die fetus oorgedra, maar die plasenta hou ook wag en keer dat sekere medikasies en siektes by die fetus uitkom. Sommige siektes kan wel deurglip, soos Duitse masels en herpes.

Wat gebeur ná baba se geboorte?

Ná die geboorte word die deel waaraan die plasenta vas is ál kleiner namate die baarmoeder ál meer saamtrek. Die bloedvloei word onderbreek en die plasenta kom los. Ná die bevalling sal jou kontraksies in ’n mindere mate voortgaan sodat jou liggaam die plasenta kan uitdruk. In die geval van ’n keisersnee word die plasenta van die baarmoederwand weggetrek. Omdat die plasenta ná die geboorte uit die baarmoeder verwyder word, word dit die nageboorte genoem. Dié hele proses kan binne vyf minute afgehandel wees of so lank as ’n halfuur duur. Wanneer jou baba ná die geboorte borsvoed, word spiersametrekkinghormone vrygestel wat die baarmoeder help saamtrek, bloeding verminder en genesing verseker. 

As dinge verkeerd loop

Placenta praevia

Dit ontstaan wanneer die plasenta aan die onderkant van die baarmoeder ontwikkel pleks van aan die bokant en dan die serviks se opening gedeeltelik of heeltemal bedek. Die ligging van die plasenta word vasgestel met ’n sonar wat tussen 20 en 22 weke van swangerskap gedoen word. Placenta praevia kan met sekerheid op 32 weke gediagnoseer word. Daar is vier grade, met graad 1 wanneer die plasenta baie naby aan die baarmoedermond groei en graad 4 wanneer dit die baarmoedermond heeltemal bedek. Die meeste gevalle kom sonder behandeling reg omdat die plasenta self na die bokant van die baarmoeder groei. Placenta praevia kom voor by omtrent een uit 200 swangerskappe. Die meeste daarvan is nie ernstig nie en in 90 persent van gevalle is dit nie problematies nie, aangesien die toestand hom self regstel wanneer die plasenta opwaarts begin groei. “Tussen 20 en 40 persent van ma’s wat ná 28 weke vaginaal bloei, kry dit ook. En as jy reeds ’n keisersnee weens placenta praevia gehad het, het jy ’n kans van 0,65 tot 2,2 persent om dit weer te kry,” sê die Kaapse ginekoloog dr. JP du Buisson. “Die probleem is nie met die werking van die plasenta nie, maar met die ligging." Nog oorsake van placenta praevia sluit in rook en wanneer meerlinge verwag word. Ouer ma’s loop ook ’n groter risiko. Simptome is vaginale bloeding (pynlose, helderrooi bloeding gedurende die tweede helfte van jou swangerskap) en bloeding ná seks. As jy met placenta praevia gediagnoseer is, sal jy moontlik ’n keisersnee kry. Soms kan iemand met graad 1- of 2- placenta praevia wel vaginaal kraam. Placenta praevia kan die volgende gevare vir jou en jou baba inhou:

  • Omdat die plasenta aan die onderkant van die baarmoeder lê, kan dit begin skeur namate die fetus groei.
  • Die ma kan baie bloed verloor. Dis vir die fetus gevaarlik omdat sy suurstof verminder en hy vatbaar is vir infeksies.
  • Placenta praevia verhoog die kans vir ’n vroeë geboorte.
  • Herhaalde bloeding kan groei vertraag. Spreek jou ginekoloog so gou jy kan om vas te stel waar jou plasenta lê.

Abruptio placentae

Dit kom voor wanneer die plasenta of dele daarvan voor die geboorte van die baarmoeder wegskeur. Dit kan hewige bloedverlies veroorsaak, wat gevaarlik is vir ma sowel as baba. Simptome is gewoonlik pyn in die rug of maag en bloeding. Oorsake kan insluit trauma (soos ná ’n motorongeluk), hartkwale en artritis.

Vasa praevia

Vasa praevia is ’n seldsame toestand wat ontstaan wanneer fetale bloedvate van die naelstring aan die buitekant daarvan groei en dan aan die plasenta vasgroei. Die bloedvate het baie min beskerming en skeur gewoonlik wanneer die ma se water breek. Dit gaan dikwels met pynlike bloeding gepaard omdat dit fetale bloed is wat verlore gaan. Die oorsake is onduidelik.

Gesonde plasenta
Help jou plasenta om normaal en goed te werk deur 'n gesonde leefstyl te volg: gereeld te oefen, gesond te eet en nie te rook nie.

Het jy geweet?
Die helfte van ’n plasenta bestaan uit vreemde weefsel, sê die ginekoloog dr. JP du Buisson. “Maar waar ander organe geneig is om vreemde weefsel te verwerp, doen die plasenta dit nie. Daar moet definitief stowwe deur die plasenta vrygestel word wat verwerping help voorkom, maar ons begryp nog nie heeltemal hoe dit werk nie.” Dié vreemde weefsel is afkomstig van die amperpa se genetiese materiaal omdat die plasenta uit ’n bevrugte eiersel ontstaan en dus weefsel van pa sowel as ma bevat.